Sunday, May 6, 2018

Resensie | Pieter Fourie – Bidsnoer (2018)

Pieter Fourie – Bidsnoer. Naledi, 2018. ISBN 978-1-928426-06-6

Resensent: Joan Hambidge

Bidsnoer is die tweede bundel van die bekende en bekroonde dramaturg Pieter Fourie wie se digterlike debuut Knapsekêrels verlede jaar verskyn het. Sy debuut is goed ontvang.

‘n Bidsnoer (op Engels rosary) aktiveer die aanslag van die digter met afdelings van toktokkie tot bidsnoer.

Die klein programgedig voorspel:

in ’n string
tussen voorvinger
en duim
gly sonder verset
dekades verby
in prewelgebed:

En hierdie dubbelpunt maak dan die verskillende afdelings oop vir die leser. 

Die tweede bundel is ‘n bliksem en party digters word beslis van Pegasus afgegooi. Hier gebeur dit nie. Die digter is vaardig in sy erns en guitigheid; in sy speelsheid en hartseer. Party lesers mag dalk voel die bundel is nie ‘n genoegsame vooruitgang of verdieping nie. Basta. ‘n Digter doen wat hy of sy kan doen en die onmenslike eis van “vernuwing” is vir min van onse digters beskore. 

Hierdie bundel sluit duidelik aan by die reeks “los kraletjies” uit die debuut. Daar is reeds gewys op die aansluiting by die “klipwerk”-reeks, die gesprek met Boerneef en die bewaring van ‘n ou, amper vergete kultuur en die nostalgiese verlange na 'n verlore jeug.

Boerneef se berggansveer word direk aangespreek in die gedig “misterie” (10).

misterie

(vir boerneef)

sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot

(22)

Eenvoudig, dog mooi.

En in "heildronk" weet die leser nou wié die aangesprokene in 'n nartjie of anys kan wees! 'n Heerlike gesprek rondom die drinkkultuur wat al gebloemlees is deur Daniel Hugo en Etienne van Heerden: Miskien sal ek die wingerd prys; ryme en gedigte oor wyn en sterk drank (Tafelberg, 1989).

heildronk

(vir d.j. opperman)

altyd
gewonder
wie sy is

vanaand
na ’n pernod op ys
kry ek snuf in die neus

besef
jý is
die iemand in anys

(6)

Die leser word weer eens van ‘n handige woordelys voorsien. Ahem keelskoonmaak: bloeskoptoon beteken kaalvoet-wintertone en gatwikkel dui op seksuele omgang. Mondpitte is tande en moot is ‘n drol!

‘n Sentrale gedig is die vers wat jou aan die keel ruk, "skadu" met sy behendige ryme. 'n Verwysing (subtiel dalk) na Van Wyk Louw se goeie hond wat trap in jou spoor in "Ballade van die bose"?

skadu
met my eerste lig
het ons ontmoet

naelstring pas geknip
toe naelstring jy
skaduwee
voetstoots vir my
lewenslank geboei

en so kon jy
plat parasiet
my kom en gaan
ongenooid  geniet

sonder om ooit
’n woord te sê
’n eerste beweging
hoe gering ook al
te maak

sonder om
asem te haal
pyn te dra
of self ’n druppel
bloed te giet

lanterfanter
later gedog
ons ken tog
elkander

in laaste asem
sal ons groet
mekaar verlaat
onvergenoegd

(77)

“kwint” (65), “wat is die dood?” (53), “veldgebed” (67) en “raaisel” (49) is verse wat hierdie leser altyd sal bybly.

Hoe jammer dat so ‘n mooi bundel berderf word deur onooglike setfoute: op die binneflap kort ‘n vers 'n deelteken; op bladsy 24 lanbou-weekblad in plaas van landbou-weekblad; eksra in plaas van ekstra op bladsy 29.

Dis ‘n pragtige bundel, maar miskien is die “nuutheid” nou minder “nuut” omdat die boek te na in die skadu of lig van die debuut staan?

Maar steeds volksryme wat in hul speelsheid en eenvoud bekoor.

Van die kleiner ryme word wel in die lang bidsnoer gelaai met betekenis en implikasie.

En pasoppa, die eenvoud van hierdie verse is bedrieglik! Wat hierdie bundel bewys, is hoe Boerneef en die volksvers weer terugkeer na jare se vergeet (selfs by moderne digters soos Breytenbach en Johann de Lange) en van die krag van hierdie soort onopgesmukte vers. Antoinette Olivier se Optelklippiessluit hierby aan.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport))