Tuesday, June 9, 2015

Joan Hambidge - Metafisiese indeks [Gedig]


O goedheid Gods hier nooit volprese,
my eerste mantra roepend 'n hert in dorre streke;
versies soos braille in 'n blou onderstreepte Bybel:
ek het jou by die naam geroep, jy's myne ...

In Jerusalem hoor ek: aanbid die Seun van God.

Verloor my geloof tog later.
Sartre en Camus, die Eksistensialisme,
"God is dood", "die hel is ander mense",
geleer as jong filosofie-student.

In Pamukkale weet ek wees eerder koud as lou.

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

In Manaus verkies ek God bo niks.

Van Wes na Oos alleen vertrek:
Die Bybel, Ateïsme, Boeddhisme verken.
Die krag van meditasie of stil gebed
nie meer langer deur my ontken.

In Nepal word ek eindelik één met God.

In Nepal, Manuas, Pamukkale, Jerusalem
verbind ek die Onsigbare,
daardie Iets, daardie Onverwoordbare krag,
genaamd die Metafisika.