Alexander Strachan - Brandwaterkom. Tafelberg, 2015. ISBN
Resensent:
Joan Hambidge
Alexander Strachan is ’n fyn
stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy
tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman
wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad
uit ’n vorige roman optel en verder voer.
Min skrywers het al
oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom,
snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening
van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het.
Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van Generaal
Mannetjies Mentz? op.
Die ABO en die Grensoorlog is
die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n
storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar
navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van
magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort.
Die skrywer as historiograaf is
tans ’n opvallende neiging: ’n mens dink aan die werk van Karel Schoeman en Dan
Sleigh. En Marié Heese. Willem Anker se grensverskuiwende Buys .
Wie se storie is ons besig om te
lees? Esther van Emmenes se optekening? Of die verhaal van Vilonel? Of die
boodskapper? Die verskillende stories skuif ineen: soos twee snellers wat
afgetrek word, aldus die buiteblad – dalk eerder ’n dubbelloopgeweer. Wie
vertel? Of word die verteller uiteindelik die vertelling self? Daar is ook die
verhaal van Bullet – ’n korrektief dalk? Elke vertelling of belydenis word deur
’n ander weergawe “bevestig”. Net soos die geskiedenis oor die ABO ook deur
orale vertellinge verander word en die werk van Bill Nasson lewer op sy beurt
’n ander blik op die swart mense se deelname . . . En daar is swart mense,
weliswaar randfigure, in Strachan se roman.
Die skrywende verteller moet
onder andere ’n jeug en kinderdae skep om dit vir die leser geloofwaardig te
maak. En geloofwaardigheid is die grootste eis vir die historiese roman.
Wanneer ons byvoorbeeld ’n danstoneel beleef, is die leser binne daardie tyd –
en hierom is hy nie ’n “onthoofde mens” nie. Strachan maak van sy karakters
“mense”, “vol karakters” om E.M. Forster se term te gebruik.
Die skrywende verteller se
werkswyse verraai ook iets van die implisiete outeur se retoriese strategieë,
om met Wayne C. Booth saam te praat in sy belangrike The Rhetoric of Fiction
(1961). En hoe ’n karakter byna ’n obsessionele teenwoordigheid is vir ’n
skrywer word insigryk beskryf. Esther van Emmenes se donker verlede gee haar
begrip vir die ingewikkelde lewe van Vilonel. Alexander Strachan se kennis van
sowel die ABO as die grensoorlog bring ’n verrassende (binne-)perspektief.
Die Anglo-Boereoorlog-wêreld en
die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning
tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou
Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk
tapisserie. Louis Botha, pres. Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms
net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé.
Die impak van runderpes en die
oorlog het gesiene boere van aansien en plase gestroop en bywoners van hulle
gemaak. Ons weet hoe die plase geplunder is deur die Engelse en hiermee is die
lewensaar van kos vir die vegtende Boere afgesny.
Die reuk van die oorlog word
konkreet beskryf. Ons sien hoe ’n koeël uit ’n been verwyder word. Redvers
Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel,
biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se
plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare
karakter.
Die oorlogspanning word nou
verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die
roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende sub-teks. En die skrywer skryf
op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat
hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot
liefde.
Daar is momente wat ’n mens net
nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer
hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed
haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in
die kol.
Die roman bevat ’n uitgebreide
bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die
veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus
Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in ’n dorp. Hoe mense se rolle hul
lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie
oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die
tragiese nadraai daarvan.
Die troebel gemoed van Vilonel
wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se
herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk . . .
Dit is in ’n gestroopte,
toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en
verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is
natuurlik ook hier met ’n verwysing na “The Jacket”.
Lees hierdie uitstekende roman.