Monday, June 15, 2015

Jan van Staden – Boer kry ‘n vrou (2015)



Jan van Staden – Boer kry ‘n vrou. Tafelberg, 2015. ISBN 978 0 624 07369 7

Resensent: Joan Hambidge

Ons almal het al Boer soek vrou gevolg en verwonderd toegekyk hoe hubare vroue hulle skaamteloos aanbied vir die boer. Hierdie program smeek om ‘n genderanalise en ons wag op Amanda Gouws se feministiese perspektief oor agentskap en vrye keuses.

Daar flits reeds heerlike parodieë op die internet rond: Boer soek boer vanuit ‘n gayperspektief en natuurlik het Casper de Vries, daardie moedswillige ikonoklas, saam met Elsabe Zietsman ‘n skaterlag-teenaanbod gemaak: Boer soek ‘n vou. Gaan kyk gerus na Casper de Vries se 'Boer soek 'n vou, Deel 1

En daar is ook ‘n film wat heet Vrou soek boer.

Inderdaad word daar gevra: Wat is die liefde?  En selfs die Hemelse Vader word op ‘n keer bedank, omdat die meisie hom weer in die liefde laat glo ...

In Jan van Staden se Boer kry ‘n vrou (en ‘n mens kan al die ander titels hoor: Boer kry ‘n hoer) is uitgegee deur Tafelberg op die voorblad word gespog: “Nog nooit is daar so wild op papier gevry nie”.

Inderdaad. Vanuit ‘n manlike perspektief, en meer spesifiek, uit die posisie van die stud, word wilde seksuele fantasieë aan die leser opgedis. ‘n Soort manlike 50 Shades of Grey.

‘n Mens hoef maar net terug te keer na die porno-film en jy het al die merkers van hierdie soort jagse (sic!) verhaal waar ons hoofkarakter, ene Juan van Wyk (Lees Don Juan), die Bosveld groet. Sy plaas heet Fort le Clos (Sartre? Huis clos? Huis Klos?) en hy hou ‘n rooibokram dop. Dié is ‘n gelukkige wetter. Raai waarom?

Die res is voorspelbaar. En die Latynse bloed klop deur die vertelling in ‘n sub-genre Tril-letterkunde.

Die stud is enigsins diep verontreg wanneer daar stories oor sy sekskapades begin rondloop (hier is die interteks: Die hele dorp weet). Ofskoon hy ‘n vrou op elke dorp het (nie hawe nie!), soek hierdie Bosveldseun rigting. Hierom moet hy deelneem aan die tv-program.

Die storie loop flink en die verhaal het ‘n heerlike skoot onbedoelde humor en soos in die jags-genre is die suspension of disbelief die ware Jakop.  En op die internet is daar geweldig baie artikels oor die fantasie van sowel vroue as mans te vinde. 

Die outeur span al die verskillende name in vir die manlike en vroulike geslagsorgaan en telkemale is die man verstom oor die vrou se kapasiteit om by te hou. Die “pornografiese verbeelding” dus in navolging van Susan Sontag, waar die storie net die verskoning word vir die sekskapades. Elke hoofstuk het ‘n trofee-ikoon net soos in die werklike lewe waar dié soort man sy vrou as ‘n skild sien.

Hoekom het hierdie leser die boek enduit gelees? Om as genderteoretikus net weer daaraan herinner te word wáárom daar vroue is wat reageer teen hierdie brutale oorheersing. Uiteindelik maak hierdie manlike beheer in die werklikheid nooit hond haaraf nie. So ‘n welbedeelde seksuele atleet, wat elke vrou oorrompel, bestaan nét in die fantasie-wêreld van die porno-verhaal. Wag wag. Daar is immers ‘n program waar vroue hulself aanbied as slagoffers en bepaald enigiets sal doen om ‘n boer te kry. Dat daar in die jaar 2015 nog so iets moontlik is, post-post-feminismes en maskulineitsteorie, is wel wonderbaarlik.

In James Bond-films is daar ondermynende humor. En dis mos die vroulike M, vertolk deur Judi Dench, wat vir James Bond in Goldeneye toesnou dat hy ‘n misogonistiese dinosourus is, nie waar nie?

Gaan kyk of daar ‘n inskrywing uit Marble Hall is.

Love story, West Side Story se Maria en Mamma, ek wil ‘n man hê,  word gebruik om die teks verder te “verdiep” met kodes uit die liefdesverhaal en Western. “Die vuur se vlammerdans gooi sy skaduwees oor hulle en ver weg brul ‘n leeu” (173) verneem ons. En tog bly die liefde ons held ontwyk. En hy voel selfs misbruik, omdat ‘n meisie hom gekies het om haar van haar maagdelikheid te ontneem? (254)
Op ‘n keer huil ons held; waarskynlik weens uitputting. Ek gaan nie die geheim (van Nantes) weggee nie, maar Juan sien sy spreekwoordelike alie.
As liefhebber van satires, is hier ‘n goeie geleentheid (verleentheid?) verspeel om ‘n kritiese parodie te skryf.

O waar o waar is Koekie Ziervogel?

Maar verkoop gaan hierdie roman. Dis nou maar boerewors.