Monday, June 22, 2015

Filmverse (Fopspeen Moving Pictures & ATKV)




Fopspeen Moving Pictures - Filmverse (DVD). ATKV, 2014

Resensent: Joan Hambidge.

Om ’n gedig te lees (en te verstaan) werk met besonder intieme assosiasies.

Nie twee persone sal ’n gedig dieselfde vertolk nie en die dieper assosiasies wat ’n gedig by ’n mens oproep, is uiteindelik uiters privaat en intiem.

Hierom is die “vertaling” van ’n gedig in beeldvorm waarskynlik nogal “gevaarlik”. Jy betree die heilige arena van iemand se private vertolking en begrip.

Tog is dit wonderlik om te luister hoe ’n digter sy of haar eie werk voordra. In dié produksie is daar stemme van digters – onder andere ­Ingrid Jonker, Adam Small en Breyten Breytenbach.

Hoe anders klink ’n gedig nie wanneer die digter dit self lees nie. Sylvia Plath se kil, emosielose stem laat jou haar verse opnuut ervaar as die werk van ’n diep gekwelde mens. Hoe mooi lees Antjie Krog tog nie. Daar is ook digters wat nie kan voordra nie en eerder van die po­dium moet afbly.

Wilma Stockenström is hier in haar bekende “Die skedel lag al huil die gesig” aanwesig. Hier was Crowther Lindeque die regisseur. (In my gemoed hoor ek Wilma self voordra.)

Ons vind ’n huwelik tussen kunstenaar (soos Michele Nigrini) wat Lina Spies se pragtige gedig “Finis” vertolk in beelde en Anna-Mart van der Merwe wat dit voordra in haar ryk, gemoduleerde dog nie-aansitterige stem. (Onthou tog hoe het ons almal gelag vir dramatiese vertolkings van Anna Neethling-Pohl. O die DANS van ons SUSTER . . .)

Dat die digkuns helaas ’n persoonlike weergawe is en bly, word goed gedemonstreer deur Diek Grobler wat agter ’n lessenaar inskuif (in ’n tronk) en Breytenbach “speel”. Sy beelde word dan verder vertolk deur Breytenbach se praat-singstem.

“Vroegherfs” (Louw), “Bitterbessie dagbreek” (Jonker), ­“Finis” (Spies), “What abou de lô” (Small) is van die bekendste en mees gekanoniseerde gedigte wat hier vertolk word. Jonger digters soos Danie Marais en ­Loftus Marais word ook opgeneem, met eersgenoemde se ­ontroerende “Jy vra my hoe my eerste soen was” en van laasgenoemde die snaakse, aweregse ars poetica “Belydenis van ’n ­studentedigter”.

Ronelda Kamfer se “ ’n Gewone blou Maandagoggend” word nog grimmiger met die tekeninge daaromheen: moord en doodslag, ’n skoolkind se miskraam, ellende en die dood wat om die draai loer, bewys watter sterk digter sy is. Die verwysing na ­Dylan Thomas se amper geykte gedig oor die dood word hier met nuwe krag gelaai. So iewers tussen haar gedig, die assosiasies met geweld op die Kaapse Vlakte en “do not go gentle into that good night”, sien ons ’n kunstenaar se vertolking, uitstekend gedoen deur Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet.

Omdat ek tans Gert Vlok Nel doseer, het ek geweldig aanklank gevind by ­“Timotei Shampoo” “gespeel” deur Janhendrik Burger en Berdene du Toit, gelees deur Erik Holm.

Jammer dat daar verwysings na Groot Verseboek gegee word eerder as na die oorspronklike bundels, soos by Louw.

Persoonlik het ek nie van hierdie weergawe van “Vroegherfs” gehou nie. Die gebedsaspek word hier nie na behore begryp nie en dit word eerder gelees as ’n vers oor transformasie.

Tog is daar weer iets soos ­“Visioen van ’n lessenaar” waar die kunstenaars verduidelik hoe hulle Bic-penne moes neem en buig vir hierdie produksie! Veertig penne is gesmelt en gevorm om ’n dansende pen te animeer. Ons wonder hoeveel keer het Krog op daai tikmasjien haar woede uitbasuin?

Sunieda Kelber en Fabian Wargau vang iets van hierdie tegelykertydsaspek van lyf en skryf op, terwyl die vertolking van “Bitterbessie dagbreek” deur Dewald en Roger van der Merwe deur die piekselisasie die stotterende aspek opvang en hiermee, volgens hul eie belydenis, die gevangeskap van die digter voorstel.

Hoe maak ’n mens met ’n animasiefliek waar jy net die gedig sien? Hoe verskil dit van die een waar jy die digter self hoor voorlees? Sou dit ’n verskil gemaak het as ons Krog gehoor het?

Animasie is inderdaad bewegende kuns oftewel visuele digkuns. Grobler, die ATKV (by name Nita Grové), en al die ander deelnemers en kunstenaars het iets wonderbaarliks en onthoubaars geskep.

Mense lees gedigte, en liefhebbers sal hierdie produksie geniet. En kyk mooi na daardie gedig wat stemloos oorgedra word . . .

Bestel die DVD by Hannelie van Schalkwyk, 011 919 9012, e-pos: hanneliev@atkv.org.za.


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)