Thursday, May 7, 2015

Riël Franzsen - Narokkong (2015)


Riël Franzsen - NarokkongProtea Boekehuis, 2015. ISBN 9781485304104

Resensent: Joan Hambidge

I

Narokkong, die titel van hierdie debuut, aktiveer D. J. Opperman se gedig “Koggelbos” en Sangiro se verhaal “Koors”. In die publikasienota verneem ons: vir die siek kind in die verhaal is die narokkong ’n bringer van onheil, maar in die kind se koorsdrome word hy self ook ’n narokkong wat deur die giftige nabome gelok word. In Franzsen se bundel is daar ook ’n vreemde band tussen die outistiese kind en die voël wat alles met sy afsydige swart oë dophou en is dit nie altyd duidelik of die voël bedreiging of beskerming inhou nie.

Hierdie bundel ondersoek dan die verwikkelde verhouding tussen ouer en kind, en meer spesifiek die verhouding tussen die vader wat iets probeer wys word van die outistiese kind se leefwêreld. In hierdie opsig is die bundel dan ’n “eerste” oor hierdie onderwerp waaroor daar al etlike vakwetenskaplike artikels en belydende tekste bestaan.

Die bundel vertel die verhaal van die kind, maar dit roep dan ook vergelykings op met bundels soos die reeds genoemde Opperman se Negester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok. En E. W. S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet.

Die lewensloop en -lot van die kind in sy “uitkringende eie hel” (26) word dan geboekstaaf met die vader wat saam met ’n “veteraanpasiënt” leef (22).  Die vader se empatiese beskrywing van sy kind se lot word in “Denmar” (29) ’n wanhopige uitroep dat hý eerder hierdie pyn moes ervaar het.

In “Outisme II” (40) word die tweetalige woordeboek in ’n woordspel beskou. “Outeursreg” word opgevolg met “outjie” en nie outisme nie. In “Gebed” (41) lees ons:

As daar ’n god
vir outiste is
wat sirkels 
met vierkante
kan verbind,

asseblief:

’n Flits om iewers
in die hol stam
van ’n naboom
die nes se opening
te help vind.

Vlerke wat hoër,
vinniger en verder
as Swartoog
kan vlieg; in stiltes
en in stormwind.

Opperman se “Man met flits” praat hier saam en dit is dan duidelik dat gedigte telkemale deur die Opperman-aanslag ingegee is: spaars, min woorde; die soeke na die metafoor of simbool wat betekenis moet amplifiseer; die komposisie van die eenheidsbundel; en so meer. Ofskoon Franzsen min woorde in die genoemde gedig hier bo gebruik, is daar nog te veel uitsegging.

In “Tehuis vir outiste” (51), in ’n haikoe-aanslag, kry die digter iets besonders reg:

vinke bly kwetter
’n kolgans snater in vlug
die swane bly stom.

Dit is ’n bundel wat op ’n eerlike wyse verslag lewer van die verhouding met die kind – met ’n terloopse verwysing na ’n ander kind – en selfs die medikasie vermeld.

“Beseringstyd” (54) praat weer met Ernst van Heerden se aangrypende verse oor siekte. Hier vind ons ’n wrang slot:

jy bevind jou
in uitgelese geselskap
met meer dokters
as vriende.

En is God dalk die Groot Outis? “Prototipe” (56)  is ’n gedig met vaart: presisie, elke woord op sy plek.

II

Hierdie bundel neem die leser terug na Opperman se digkuns en sowel die openlike as versweë gesprek met hierdie uitstaande digter se hantering van voëls, suggestie, metafore en die outobiografie soos veral in die imposante Komas vergestalt. Die debuut het my ook weer laat nadink oor die struktuur van die eenheidsbundel. Dit het my geneem na Leon Strydom se studie Oor die eenheid van die digbundel – 'n tipologie van gedigtegroepe wat in 1976 by Academica uitgewers verskyn het.

Hoe gedigte by Franzsen op mekaar inspeel, is die sterk punt van sy debuut wat 'n (outobiografiese) storie vertel. Daar is inderdaad konsentriese sirkels, 'n soeke na 'n sentrum.

Dit sou die speurende leser ook loon om te kyk watter woorde/begrippe herhaal word.

Het ons in hierdie bundel, as ons Strydom volg, 'n siklus, serie of reeks?

Opperman het, soos ons uit Lina Spies en Edna Duedney se studies weet, siklusse geskryf – die beroemde en goedafgewerkte "Kroniek van Kristien" kan ons hier uitsonder.

III

'n Mens moet Franzsen se bundel as 'n debuut lees waarin die gesprek met Opperman, die siklus, metaforiek, die eenheidsbundel jou laat nadink oor die funksie van die "dominante reeks-karakter". Hierdie bundel tree, soos Daniel Hugo se Takelwerk, in gesprek met Opperman se oeuvre, of dan ’n bepaalde werkswyse.

Die gevaar in Franzsen se geval is dat Opperman bo sy bundel uittroon en dat die eenheidsbundel eise stel wat die debutant nog nie werklik kan hanteer nie. ’n Digter se ouderdom is nie sy werklike of chronologiese ouderdom nie; die ouderdom word vanaf die debuutdatum bepaal. Diederik koggel hierdie digter  indien ons “Koggelbos” lees.

Dit is wel 'n bydrae tot die genre van siektepoësie in Afrikaans.

Die dans om en om die binnekring is waaroor hierdie debuut handel met ’n handvol goeie verse.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet)