Wednesday, May 20, 2015

Piet du Toit & Wanda Smith – Stylboek (2015)


Piet du Toit & Wanda Smith – Stylboek: Riglyne vir paslik skryf. Protea Boekehuis, 2015. ISBN 978 1 4853 0 114 1

Resensent: Joan Hambidge

I
Die jongste Stylboek van Piet du Toit & Wanda Smith is ‘n gevaarlike boek om te resenseer. Jy mag dalk in ‘n volgende uitgawe van hierdie omvattende en herbewerkte uitgawe verskyn as ‘n voorbeeld van hoe ‘n resensie nie behoort te lyk nie!

Dit is ‘n boek wat hierdie resensent sonder skroom of omhaal van woorde wil aanbeveel vir elke rubriekskrywer wat nie besef hoe ‘n skril, aanmatigende of betigtende toon juis jou leser vervreem nie of ‘n resensent wat met geykte stellings en kitsklaar waardeoordele ‘n boek kis, moet nadink oor die implikasies van skryf.

Hoe jy moet waak teen die argumentum ad hominem wanneer jy polemiseer en welke retoriese strategieë ingespan word om ‘n jou opponent belaglik te maak en hoe jy uiteindelik presies die teenoorgestelde effek bewerkstellig.

Die boek is besonder mooi uitgegee met potloodflertse op die buiteblad wat waarskynlik subliminaal wil oortuig dat skryf met die hand (en potlood) beteken dat jy terugkeer na die oorspronklike teks, uitvee, nadink …

Begrippe soos styl, duidelik skryf, teksbou, bondige formulering, die gepaste toon, aantreklike aanbod en die aanbod van navorsingstekste (vir  elke dosent wat worstel met nagraadse studente se onvermoë om te kan skryf), word netjies uitgepak. Elke kwessie word teoreties begrond met kundige en teoretiese verwysings wat die handleiding ‘n sterk basis gee.

Om binne ‘n koerantbespreking elke tersaaklike bron of opmerking te bespreek, sal ‘n saak van onmoontlikheid wees. Die samestellers moet geloof word vir die wye aanbod van skrywers. Sowel bekende kreatiewe skrywers se tekste as joernaliste en rubriekskrywers se werk word as voorbeeldmateriaal gebruik.

Vir hierdie leser was die hoofstuk oor “Die styl van literêre analises en resensies” uiters leersaam. Die samestellers wys ook op literêr-onaanvaarbare uitsprake. Dit spreek ook uit die analises dat die samestellers die letterkundige tekste goed ken en juis hierom kan wys op die verskil tussen waar en wolhaar. Nie iets waarvan ons die metakritikus Crito wat oor koerantsresensies ‘n oordeel fel, altyd kan beskuldig nie. Net wanneer die boek goed gelees is, kan ‘n uitspraak of polemiek sinvol ontleed word. Soos die polemiek róndom die N. P. van Wyk Louw-biografie deur J. C. Steyn (160). 

Wie mag resenseer? En mag ‘n resensie wat in die dagblad verskyn wél deur ‘n minder “kundige” behartig word? Veral gedagtig aan die feit dat daar minder ruimte aan boeke afgestaan word in die gedrukte media.

Die taalkundige beleefdheidsteorie word knap behandel: die ‘negative face’ wat beteken jy wil ‘n sekere afstand beswaar word, teenoor die ‘positive face’ wat smag na erkenning. Hierdie twee aspekte word myns insiens tans ontken deur mense wat te vinnig op Twitter of Facebook wyshede loslaat wat hulle later duur te staan kom. Ons dink hier aan gevalle soos Steve Hofmeyr en Zelda la Grange, byvoorbeeld (en hier spreek ek nie ‘n waardeoordeel uit nie; ek wys net hoe sosiale media se snelle aanslag die nadink, herbesin waarop hierdie boek die klem plaas, nie meer nakom nie.)

Daar word ‘n heel gepaste model vir korrekte polemiekvoering gegee (160).

‘n Kliniese analise van hoe verontregtes dikwels die uitgewershuis blameer (in plaas van die skrywer) vir ‘n kritiese aanvaal (163) en natuurlik die brandpunt van elke twisgesprek: wie het die laaste woord? En ja, stilte is ook ‘n antwoord …

En ‘n belangrike mantra in hierdie dae van storms op verskeie fronte: “As die diskoers verwerp word weens die toon, wat die houding van die skrywer weerspieël, ly die opweeg van die standpunte in die polemiek skipbreuk” (163).

Kyk byvoorbeeld hoe kon Van Wyk Louw ‘n opponent troef met sy “prikke”; en hoekom word polemiek al die negatiewe betekenis van  ‘uitbytery’  gekry.

Jare gelede het ek vir Die Vaderland boekresensies beginne skryf en Harald Pakendorf, toe redakteur, loop my eendag raak en sê: ”Kom werk vir my, dan leer ek jou skryf.” En so is dit. Om vir ‘n dagblad te skryf, leer jou om helder te kommunikeer, jou bedoelde leser in ag te neem en altyd deel te bly van ‘n gesprek wat  nooit verdwyn nie. Dit beland nie net in ‘n stylboek nie; dit word in argiewe bewaar vir navorsers wat jare later nadink oor waarom was die twis so hewig? En sou resensent A nog steeds dieselfde dink oor skrywer B?

Of sal hy grootmoedig bely: my oordeel was meer op die persoon gerig as die boek? Soos ‘n gesiene kritikus later moes toegee dat hy onkundig was oor Faverey.

Sela. Amen.

Gaan  koop hierdie boek. Dit neem nou plek in langs my bed waar Louis Eksteen se nooit volprese Sinoniemwoordeboek ook staan. Ek lees sulke boeke vir louter plesier.

II
Vir die dosent van die Afrikaanse letterkunde is daar ‘n belangrike afdeling oor ontleding (analise) en interpretasie (die soek na of toeken van betekenis) (396).  Sekere terme is allemansgoed; ander behoef ‘n naslaan in ‘n glossarium soos ons besit in Afrikaans met T. T. Cloete as die redakteur.

‘n Mens vind – veral as jy self resenseer – hoe maklik jy in geykte stellings kan verval.  Onvaste terme word onder die loep geneem, soos elemente, aspekte of fasette …

En belangrike “golden oldies soos Nowottny en Wayne C. Booth word paslik gebruik om terme te omskryf.

Die polisindeton – ‘n term wat ‘n mens nie maklik vind nie – sou hierdie boek kon  beskryf van Du Toit & Smith: Én naslaanbron, én handleiding, én kompendium, én normboek …


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)