Saturday, May 30, 2015

David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing (2015)


David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing. Jacana, 2015. ISBN 978 1 4314 2153 4.

Resensent: Joan Hambidge

David Attwell is ‘n gesiene literator, verbonde aan York Universiteit en ‘n voorste Coetzee-kenner. Ons dink hier aan Doubling the point (1992) met essays en onderhoude wat die weg gebaan het vir talle navorsers.

My gevoel oor Coetzee was nog altyd ‘n komplekse een: enersyds gebruik hy die werklikheid of lewe as ‘n vertrekpunt wat hy daarna inkleur en verander met komplekse fiksionaliseringsprosesse. ‘n Mens dink hier onvermydelik aan die magistrale roman The Master of Petersburg waarin Dostojefski die basis vorm waarteen Coetzee homself posisioneer. Andersyds negeer hy hierdie verband tussen lewe en fiksie.

En die kodewoord is hier kompleks, want ‘n letterkundige teks is nooit op ‘n een-tot-een vlak gelyk aan die werklikheid of die representasies daarvan nie. Imraan Coovadia se polemiese reaksie ‘n tyd gelede op die lewe van Coetzee het dit immers bewys toe Ian Glenn met klinkklare feite gekom het en hom verkeerd bewys het op Litnet. Die punt is egter: wanneer ‘n skrywer self ‘n persoonlike mitologie skep van “privaatheid”, dan skep dit paradoksaal juis meer gissinge. Veral romansiers begryp dit: kyk maar net wat maak Julian Barnes nie alles met Flaubert in Flaubert’s parrot (1982) nie.

In 2003 verower Coetzee die Nobelprys vir letterkunde en aan die UK is daar die Coetzee Collective. Min moderne skrywers het soveel aandag van kritici geniet as Coetzee self en die meeste van hierdie ingeligte of ideale lesers is deurgaans besig met ‘n (besitlike) gesprek met mekaar.

Attwell is duidelik daaroor dat ‘n mens hierdie studie, ‘n kritiese biografie, moet saamlees met die kreatiewe tekste van JMC.  Die outeur is uitgesproke daaroor dat nie alles van Coetzee se lewe tot uiting kom in sy werk nie en die bestudering van manuskripte in die Harry Ransom Sentrum aan die Universiteit van Texas, te Austin was die ondersoekterrein – net soos US se dokumentasiesentrum vir die Opperman-navorser die sentrale navorsingsentrum is.

Wat is “off stage” en wat is “centre stage”? Attwell het begin as ‘n MA-student onder Coetzee se begeleiding: hierna volg Doubling the Point (1992) en J.M. Coetzee: South Africa and the Politics of Writing (1993).

Die bonuspunt van hierdie boek is dat dit uiters vlot en toeganklik geskryf is. Attwell verwag dat die leser Kannemeyer se biografie (J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe, 2012) ken en hy fokus op die ragfyne drade tussen (die) lewe, intriges (soos sensuur) en die skryfproses. Die skrywer se taalidentiteit, wisselend tussen Afrikaans en Engels, word aangespreek. Coetzee se beroemde (berugte?) uitspraak teen Gordimer dat ‘n mens alleenlik krities mag wees oor Afrikaans en die Afrikaner as jy self een is, word ondersoek (43). Coetzee is ‘n histories gesien ‘n “Afrikaner”, ‘n persoon wat altyd met my vlot in Afrikaans gekommunikeer het as toenmalige kollega aan die UK. Sy taalidentiteit, nes al die ander “wisselinge van lywe”, is die voortdurende spel wat JMC met sy publiek speel as die enigmatiese, nie vaspenbare verkleurmannetjie. Dalk die beste voorbeeld van hoe ‘n skrywer homself kan “herskep”, ‘n nuwe identiteit kan skep? Van rekenaar-fundi, linguis tot gerekende postmodernis; ook dalk faux-biograaf.

En Attwell hou al die balle in die lug soos ‘n bedrewe jongleur. Hy skep moontlikhede, posisies, hy haal aan, hy wys op feite en latere implikasies in die skryfwerk.

Vir my is ‘n aangrypende afdeling oor die rol van sy moeder en hoe dit beslag gekry het in Age of Iron. Die pynlike verlies aan die moeder en die kartering van haar onregverdige posisie binne die gemeenskap met ‘n man wat haar nie genoegsaam kon ondersteun nie, word uitstekend ontleed. Juis hierom dan die erkenning aan die moeder by die ontvangs van die Nobelprys.

‘n Groot skrywer is altyd veel te danke aan sy lyfkritikus wat sy lewe, dokumente en uiteindelike werk verstaan en goed kan verpak vir ‘n leserskorps. So ‘n kritikus is uiteraard altyd die Ideale Leser, daardie een waarvan Wolfgang Iser praat.

Daar word afdrukke van notaboeke gegee en die migrasie tussen teks en lewe, ander tekste en eie tekste, vind dan beslag op “geleende” eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad. Waarskynlik omdat skryf uiteindelik ‘n proses van self-eksaminering is …

Miskien sou ‘n mens meer wou sien oor die verhouding met Paul Auster en hul uitruiling van idees? Die sentrale idee van hierdie studie is weliswaar die “face to face” met JMC. ‘n Skrywer wat telkemale ten spyte van persoonlike ellendes, soos die tragiese dood van ‘n kind of ‘n non-funsksionerende vaderfiguur, ‘n indringende en komplekse roman skryf. Mites rondom die outeur se vertrek na Australië word die nek ingeslaan. Die beplanning rondom sy vertrek het lank voor die ANC se kritiek op Disgrace gekom. Vir hierdie leser is Coetzee op sy beste in die reeds genoemde Master of Petersburg en In The Heart of the Country.

Dit is ‘n manjifieke boek. Met J.M. Coetzee as die formidabele akteur en David Attwell as die regisseur én souffleur. Hierdie boek analiseer die “inner workings” van ‘n belangrike skrywer.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Beeld geplaas)