Saturday, May 9, 2015

Leonard Nolens - ‘n Digter in Antwerpen (2015)


Leonard Nolens - ‘n Digter in AntwerpenProtea Boekehuis, 2015. ISBN 978 1 4853 0176 9

Resensent: Joan Hambidge
  
Om ‘n nuwe digter te ontdek, is soos om ‘n nuwe vriendskap te sluit. Jy hou van iemand onmiddellik en vind aanklank by sekere uitsprake, optredes, ‘n lewenshouding of wat nog.

Dis presies hoe ek gevoel het by die lees Nolens se ‘n Digter in Antwerpen, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo, ‘n voorste vertaler van Hollandse en Vlaamse tekste. Die boek is pragtig uitgegee en Hugo stel ons voor aan een van die beduidenste digters van ons tyd, eweneens bekroon met gesogte erkennings soos die Constantijn Huygens-prys en die Prijs der Nederlandse letteren.

Met opset het hierdie leser niks oor hom verder gaan lees nie en net na die gedigte gekyk. Dit handel oor Antwerpen, inderdaad ‘n soort “back drop” waarteen die gedigte geplaas word. ‘n Stilswyende gespreksgenoot, maar ook ‘n beamende een, want die ruimte waarin ‘n gedig geplaas of gesitueer word, het bepaald ‘n invloed op die uiteindelike vers. Op die agterblad (wel dit kan ‘n mens nie mislees nie), word die digter gesien as ‘n liefdesdigter sonder gelyke in die moderne Nederlandse letterkunde. Hier sou ‘n mens dalk nie sommer alte gou moet vergeet van Herman De Coninck nie.

Maar die aweregse blik op die liefde is boeiend. ‘n Mens vind hier ‘n rustelose figuur, ‘n man wat sy eiesinnige kyk op sake het.

“Sy enkelvoud verklap die oorlog en musiek van die grammatika,
Ontmasker die labiele meganiek van die standvastige tyd"

lees ons in “Grammatika in die kleine” (27).

Hy is inderdaad ‘n belangrike liefdesdigter, ‘n soort moderne Petrarca wat weet die geliefde is wars van sy aanbidding soos ons aflei uit “Sint-Vitusdans in Oktober” (19) met sy slim personifikasies en ‘n huis vol “sielskloppings, weggooi-ewigheid, stekelbriewe”.

Die gedig is dikwels ook bewus van die onmag om die geliefde te bereik, ‘n tematiek bekend aan hierdie soort vers.

Ons vind ‘n self-bewuste digter hier wat gedigte optel op die mees onwaarskynlike plekke en in ‘n bouval. Op ‘n behendige wyse gebruik die digter personifikasie om sý prosesse aan die leser te verklap:

Die huis is oud en afgeleef en werklik nie pluis nie. 

Dit luister fyn, dit fluister en souffleer vir my 

Kelders en solders, kamers en gesprekke 

Van dooie bewoners. Ek is hier hulle enigste adres. (103)

Die soeke na stilte en die huis as ‘n verplaasde simbool van die self, kom duidelik na vore in hierdie gedigte.

Dit is toeganklike verse, ja, maar beslis nie oppervlakkig nie. Die geliefde as teenspreker word aan die woord gestel in die aangrypende “Bruilofslied” (99) waar die digproses as ‘n “binnegesprek die verhouding bedreig. Die digkuns is vir hierdie digter ‘n obsessie en hierom kan dit nie van die self geskei word nie; hierom word ‘n visie oor die skryfwerk in wese ‘n belediging vir sowel die digter as die poësie (“Onderhoude 1 “, 97).

‘n Mens duisel voor wonderlike beelde (“aan die verkeerd geplaasde komma van ‘n haikoe”, 93), verhulde intertekste (soos na Rimbaud, John Berryman en liriekskrywers, soos Leonard Cohen) en ‘n soms gesellige, soms knorrige praataanslag.

Die digter noem homself ‘n nar, narsis, Sisifus en ‘n feniks tegelyk (11) en daar is ‘n vermoë om te vereenselwig met ander om hom (soos ‘n dokwerker). Die ervaring van eensaamheid of isolasie loop soos ‘n swart draad deur hierdie digkuns.

Die belangrikste kenmerk van hierdie digterskap (behalwe vir die verbluffende vormbeheer), is die gevoel dat die digkuns die belangrikste geliefde is.

Hierdie "ek" ken sy storie (51) en al spot hy soms dat sy gedigte nie betekenis het nie, dink 'n mens lank na oor sy beelde.

Die stad Antwerpen het 'n skatkis van verse vir hierdie digter. En wanneer hy Adam Zagajewski aanspreek, is dit 'n uitstekende kopknip.

Dit is inderdaad ‘n nuwe vriendskap!

Die boek is knap vertaal, omdat die digter heerlik dans in ‘n ander taal. So meegevoer is ek dat die bundel Liefdes verklaringen nou op my wag.

Ook Protea se bereidwilligheid om Leonard Nolens te publiseer, moet erken word. Dit is vir alle liefhebbers van die digkuns.

Leonard Nolens


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)