Monday, April 6, 2015

Tien vrae: Joan Hambidge oor Matriks

Foto: Naomi Meyer

Digters oor hulle nuwe bundels: Joan Hambidge oor Matriks
Naomi Meyer

Wie/wat is jou muse? Waar ontspring ’n gedig, of dan die kiem vir Matriks, vir jou?

My muse vind ek wanneer ek reis. In vreemde hotelkamers, straathoeke, in kerkhowe …

Matriks het oor ’n lang periode ontstaan, soos die leser kan aflei uit die lykdigte oor bekende figure soos Eveleen Castelyn, Izak de Villiers, Natasha Richardson …

Die voorblad is afgeneem in Ljubljana. Ek neem altyd deure in vreemde ruimtes af en hierdie pragtige deur (in die Zaprtostraat) het ek toevallig gesien en dit bevat al die argetipes van die menslike bestaan: foltering, die ouer-kind-verhouding, die liefde, die priester, oorlog, en so meer. In Jungiaanse terme.

Dit is ook die stad van Žiżek en wanneer ek reis, neem ek altyd sy Pervert’s guide to the cinema saam en ’n Franse en Italiaanse grammatikaboek.

Psigoanalises interesseer my en reis is waarskynlik die beste manier om die onbewuste oop te maak: jy ontdek altyd iets van jouself in ’n vreemde ruimte. Jy kom tot besinning of helderheid.

Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?

Ek vind dit ’n wonderlike proses. Die enigste moeilike deel daarvan is dat dit ’n mens tydens intense kreatiewe prosesse kan slaaploos maak. Wat dikwels ongemak veroorsaak indien jy die volgende dag afsprake moet nakom of klasgee.

Kom jy as digter soms te staan voor die “Kalahari’s wit papier”? Indien wel, hoe oorkom jy hierdie struikelblok?

Indien ek nie ’n gedig kan skryf nie, skryf ek iets anders. Ek word nooit ongeduldig nie. Die gedig sal terugkom of sig aanmeld wanneer die tyd reg is. Skryf is ’n dissipline. Inspirasie moet daar wees, maar die werklike digproses is om al die buie te kan akkommodeer: ’n pynlike ervaring of herinnering; die dood van ’n geliefde of verhouding.

Melancholie. Ek ken al die anatomie van my melancholie.

Selfs ’n gelukskoot wanneer jy iets oorwin, kan help met ’n struikelblok. Maar dig spruit juis uit teenstand …

Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?

Die digkuns is vir my sowel klank as beeld. Sintuie is werktuie, het Opperman geleer. Ek lees my gedigte ook voor om die balans tussen klank en beeld te kry en oortollige woorde uit te haal. ’n Ruk terug moes ek ’n gedig van een minuut voorlees vir kykNET: “The drama of being a child” uit Lot se vrou.

Die gedig was langer en ek het woorde uitgehaal wat dit die lengte laat oorskry het en die gedig verander na Zanzibar in sy beeldvorm omdat ek foto’s van Zanzibar had.

Hiermee illustreer ek dat gedigte ook maakwerk is.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek luister altyd na redigeerders en fyn lesers. My eerste leser is die digter Johann de Lange. Dan kyk ek na keurverslae en kyk na klein aanwysings soos woordorde of parenteses wat moet waai.

Tot op die laaste oomblik is ek altyd in die hande van my redakteur en ek aanvaar (met dank) die uitwys van klein foute of voorstelle.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Vir my is skryf joernaalhou. Toe ek onlangs weer in Buenos Aires was, het ek na Verdraaide raaisels gekyk. Met deernis na die mens wat ek was. Maar uit hierdie leeservaring kon ek opnuut na Suid-Amerika kyk, ’n landskap wat my begeester. Ek is reeds besig om ’n reis na Chili te beplan, vir ’n tweede besoek, aan die einde van die jaar.

Santiago de Chile. Ek sien uit om weer na Neruda se huis te gaan …

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek skryf aan ’n bundel, Indeks, ’n kortverhaalbundel Kortaf, ’n opera Anti-Laius en ja, ’n roman: Die buikspreker. Verder het ek ’n blog waarop ek my reaksie op films of boeke plaas. Dit heet Woorde wat weeg.

Om te skryf is om intenser te lewe. Jy lewe eintlik twee keer: eers werklik en dan in die skryfwerk.

Watter digters of skrywers lees jy graag?

Dit verander voortdurend. Maar ek keer altyd terug na Opperman en Eybers. Verder lees ek alles wat in Afrikaans verskyn en probeer byhou met resensies en reaksies. Verder lees ek De Lange indringend vir ’n studie oor sy werk en ek gee ook ’n kursus oor hom.

Ek is gaande oor “verlore digters” soos Freda Plekker.

Tans is ek opnuut begeester deur Sheila Cussons. Die swart kombuis is gewoon briljant.

As jy terugkyk oor die landskap van die Afrikaanse digkuns, wat val jou op, indien enigiets? Is hier vir jou patrone of enigiets wat verander het of aan die verander is?

Daar is waarskynlik meer digters, meer stemme. Die populistiese stem is meer hoorbaar. Maar die digkuns het te make met stamina … “the loneliness of the long distance rhymer”. Jong digters met talent is daar bepaald, maar ’n mens wonder hoeveel gaan aanhou, uithou.

Hoeveel van hierdie talente sal die drif hê om aan te gaan, want hoe meer stemme daar is, hoe beter vir ’n digkuns.

Hierom meet ek my aan my tydgenote wat in die tagtigerjare saam met my begin het en steeds voortdreun: De Lange, Johann Lodewyk Marais, Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, onder andere. Daar is vir my geen digters nie, net ’n digkuns – om Neruda aan te haal. Daardie gedig wat jou tref tussen die oë en in die maag. En daar is gode sy dank ’n hele klomp van hulle …

Jy is ook baie bekend as resensent. Wat sou jou wens wees vir resensies of resensente in die Afrikaanse boekebedryf op die oomblik?

Dat meer van my kollegas bereid sou wees om te resenseer. Wanneer ’n mens deur die jare kyk hoeveel resensies van ’n boek verskyn het (tot tien reaksies in die tagtigerjare), is dit dikwels jammer dat ’n boek na vier (halfhartige) resensies “verdwyn”.

Baie digters en skrywers het veel te sê agter die bakhand. My wens is: sê dit op skrif, want ’n skrywer baat by ’n reaksie. Literatore beskou dit ook as tydmors. Ek helaas nie.

By FineMusicRadio lewer ek elke week ’n kort resensie vir die luisteraar om hulle op hoogte te hou van die jongste ontwikkelinge in Afrikaans. Die impak van ’n resensie is dikwels nie onmiddellik nie; dit help wel later die jong navorser of skrywer om by iets anders uit te kom. Hierom is polemiek in ’n letterkunde gesond.

Maar openlike akademiese argumente, nie Facebook-verdagmakery wat ’n negatiewe of kritiese resensie onmiddellik as venynig of as ’n aandagsoekery afmaak nie.

Alle skrywers moet negatiewe kritiek kan hanteer. Selfs die grote Susan Sontag is gestriem in ’n stadium oor swak films of mindere romans, so wie is ’n Vinnige Fanie of Hansworsie om te meesmuil as sy of haar boek nie die treffer van die oomblik is nie?

’n Kritikus moet streef na die Orde van die Goue Skerpioen eerder as na die Orde van die Goue Heuningkwas.




(Hierdie onderhoud het voorheen op Litnet verskyn.)