Monday, April 13, 2015

Joan Hambidge - Twee verse vir Johann de Lange / Reis as kladpoetica


Robert Lowell se gedig "Epilogue" (manuskrip)

Loneliness is a science—

consider the taxidermist's
tender hands

Kevin Young

Vroeër sonder om te weifel die hotelkaart ingevul,
selfs my paspoort onder by ontvangs gelaat,
die deur snags soms gegrendel, soms oopgelaat.
Selfs digby 42nd Street vertoef in 'n hotel bedenklik.
Nou word alles haarfyn beplan met reisbrosjures,
selfs koepons, 'n tas wat met kodenommer sluit.
My onuitgepakte tasse weifelend, opgevul
met indrukke, biljette, 'n faux-Peso-noot vir dobbel.
En hieruit mag ek dalk, as jy fyn kyk, 'n gedig maak.
Wat behoef jy? 'n Distigon? 'n Gebreekte sonnet
of 'n vierreëlige "weerlig van die ongeloof"?
"Skei uit", hoor ek jou grom, "ek soek 'n akwarel
vir die dors, 'n gedig as kladpapier wat die hele Iguasso
met een diep intrek van asem omskep in 'n waterwoestyn!"


Épater la bourgeoisie

In ‘n studie oor genre van ene Heather Dubrow,
konkludeer hierdie teoretikus, so waar as vet,
dat die verhouding met ons ouers nadoods voortduur.
In ‘n lesing oor jou verbintenis met jou vader
sien ek hoe jy elke genre-voorskrif oor ‘n gedig
se sluiting ondermyn, afbreek en uitstel.
Waarom, wonder ek, word ons onthou om die on-
bedoelde, die jeugvergrype, die San Andreas-fout
van die lyf, die onvergeeflike vloek-in-die-vers
eerder as die ónverwoordbare pyn wat voortslinger
in gebreekte sonnet na gebreekte sonnet? 


© Joan Hambidge