Suzette Kotzé Myburgh & Leti Kleyn (Samest.) - Nuwe Stories 3. Human & Rousseau, 2015. ISBN 978 0 7981 6798 7
Resensent: Joan Hambidge
Nuwe stories is al 'n instelling. Onder die keurdershande van Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn word jong kortverhaalskrywers die geleentheid gebied om verhale gebloemlees te kry. Hierdie projek behels ook werkswinkels en raad. Keurverslae word dan ook op Litnet geplaas. Abraham H. de Vries en H. J. Pieterse het agter die skerms ook insette gelewer.
Die verhale is van jong skrywers wat nog nie met solobundels gedebuteer het nie, maar wel die potensiaal het om verder te kan ontwikkel. Dit is wel miskien 'n bietjie voortydig om al onderhoude op Litnet te voer met hulle asof hulle volwaardige skrywers is, maar in hierdie dae van sosiale media sou hulle waarskynlik elders hul eie profiele aan ons kon verklap.
Hierdie leser staan net by enkele verhale stil om die bundel oop te maak vir lesers.
Die bloemlesing spring weg met 'n sterk verhaal "Antie en die engel" deur Frederick J. Botha met sy navrante ontginning van 'n verskoppeling se ervaring met 'n dyke. Geskryf in 'n bykans Jeanne Goosen-aanslag, vind ek hierdie verhaal nes "The day Madiba died" afgerond en meervlakkig. Laasgenoemde handel nie net oor Madiba se dood nie, maar word 'n komplekse ontginning van die verhouding tussen vader en seun wat gesinkopeer word.
By meesterkortverhaalskrywers - soos De Vries en Aucamp - vind die leser immer die dubbelloopperspektief. Die knalslot of opsommende slot is weer by ander kortverhaalskrywers 'n kenteken.
Skuld en onskuld, liefdesverhoudings, moord en dood, familieverbintenisse, liefde en seks is van die temas wat die leser hier aantref. Onder andere word moord ontgin in die grimmige "Een in 'n miljoen" (Luka Dreyer) oor die binnelewe van 'n versteurde persoon wat deur die forensiese perspektief in die tweede gedeelte van die verhaal 'n ander perspektief bring. Hierdie vertelling lewer siniese kommentaar op ons samelewing oor die alledaagsheid van moord. Nie alle moorde haal eens meer die voorblad van 'n koerant nie.
'n Besondere verhaal is "Lettie se verlies" (Elani Venter) waarin die emosionele versteuring van die hoofkarakter wat 'n baba verloor het, uitloop op 'n onthutsende slot. Die volle impak van geestesversteuring tref die leser eers ten slotte. Die verhaal gee genoegsame sleutels om die slot vir die leser voor te berei. Juis hierom is die ander verhaal van dieselfde skrywer, "Keerom" 'n teleurstelling. Die verhaal gaan oor in 'n preek en beweeg verby sy natuurlike slot.
Die goeie kortverhaal werk met suggestie, dikwels tot by die einde waar al die temas en motiewe tot 'n ruspunt of konklusie gevoer word. Tematies verklap hierdie verhale ook iets van die tydsgees: ontnugtering, geweld, buitestaanderskap ("Utopia" van Christina van Deventer) en "Die koekietannie" van Heloïse van der Walt. Die suggestiewe slot van "Ontspoor" (Tanya van Buuren) gee 'n priemende verslag van post-traumatiese stres, boonop oortuigend in die idiolek van 'n treindrywer geskryf. "Likkewaan" van Carien Smith gee weer 'n "ek" (naked I) se weergawe van geweld in 'n skool: onthutsend, fantasieryk en die likkewaan is uiteraard meer as 'n likkewaan ...
Behalwe vir die ontginning van fantasie ("Martine se teepot" deur Susan Gaigher), is daar ook die belewenis van keiharde realiteite soos straatlewe, fisiese en emosionele geweld. Martin Laubscher wys hoe niks meer op vaste pote staan nie.
Carla Kargaard en Corné Koegelenberg is van die ander bydraers. Is dit tersaaklik dat hier meer vroulike skrywers as manlike bydraers is?
Kinderseks word sonder skroom of 'n omhaal van woorde belig in "Een, twee, drie, blok myself" deur Ilisna Nel.
Van hierdie jong skrywers kry dit reg om buite 'n eie genderkonstruksie te skryf en in 'n karakter van 'n ander gender se kop in te klim wat alreeds 'n besondere tegniese beheer verraai.
Die bloemlesing is tegnies goed versorg en die twee samestellers het uitstekende werk verrig. Die bloemlesing is veral vir jong lesers aan te beveel. Vir kortverhaalkanoniseerders is dit 'n belangrike baken. Vir hierdie leser altyd belangrik om tred te hou met die binnelewe van jong mense en dit wat hulle aanspreek. Die verskillende verhale, soos dit in 'n versamelbundel die geval is, speel dan ook op mekaar in en amplifiseer temas.
In elk van hierdie bydraes is daar genoegsame belofte van talent. Hopelik bly hulle nie net "nuwe stemme" nie, maar word hulle gerekende stemme. Nuwe stories is kortverhaalskrywers se ruimte vir debuteer soos Nuwe stemme dit is vir jong digters.
As liefhebber van die kortverhaal-genre het hierdie leser die bundel geniet.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)