Friday, April 24, 2015

Gabriël J. Botma - Brothers in Armchairs (2015)


Gabriël J. Botma - Brothers in Armchairs. Sun Press, 2014. ISBN 978-1-920689-52-0

Resensent: Joan Hambidge

Gabriël Botma se boek is gegrond op sy doktorale proefskrif, maar word toeganklik aangebied vir sy lesers oor die kulturele stryde en skermutselinge by Die Burger waar hy as joernalis en kunsredakteur werksaam was. Sy boek is nie net ’n ontleding van een koerant se werksaamhede nie, maar ’n belangrike analise van die transformasie van die Afrikaanse dagblad en hoe joernaliste hulle moes verweer teen politieke eise.

As skrywer en resensent kan ek hierdie “underbelly” wat Botma vir ons opteken, beaam. Byvoorbeeld in die insigryke hoofstuk “The Ghost of W.E.G. Louw” bly die aanwesigheid van hierdie kunsredakteur ’n standaard waarna gestreef is etlike jare ná sy vertrek.

Botma bekyk die oorgang van een stelsel na ’n ander: die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika. Van apartheid na demokrasie; van sterk beheer tot groter deursigtigheid.

’n Mens lees hierdie boek soms met nostalgie en soms met verbystering. Jy onthou die werk van deurwinterde kunsredakteurs soos wyle Wilhelm Grütter en ’n man soos Johann Botha wat nie sou skroom om ’n resensie met vrae terug te stuur as hy van mening was dat jy “polities-korrek” wou wees nie. Jy onthou hoe nuanses verlore gegaan het met die Watervalberaad in 1989 en hoe André le Roux hom gedistansieer het van die ANC se boikot en hoe hy, volgens Botma, steeds ’n prys betaal vir hierdie ongewilde standpunt.

Die boek lees soos ’n roman. Daar is hofies wat jou letterlik van een stryd na die ander neem: van ’n joernalis wat gestriem word oor die Afrikaner se “kollektiewe skuld” tot die vraag in welke mate die kunsredaksie politieke kwessies aansny. Uiteraard gaan ’n teks die politiek van die dag aanspreek en hier is Antjie Krog, ’n gerekende skrywer, dan ook ’n persoon wat telkens ter sprake kom oor háár standpunte.

Die toeganklikheid beteken egter nie dat die skrywer nie kennis neem van belangrike teoretici en politici binne sy veld nie. Hy verwys na Edward Said en Albie Sachs. Hy betrek Habermas by implikasie. Hy noem redakteurs by name en daar is onderhoude gevoer met medewerkers wat op húl beurt persoonlike standpunte weergee. Hegemonie versus anti-hegemonie.

Dit is ’n boek wat in ons dae van ’n nuwe kulturele verset en opstand, soos die Rhodes-standbeeld se posisie aan die Universiteit van Kaapstad, ’n belangrike bydrae maak. Hy skryf oor die eis van die PAC indertyd om Jan van Riebeeck se standbeeld in die see te gooi (bl. 64). “Die plek en spelers sal voortdurend wissel / maar die spel word telkens in die tyd herhaal”, om Opperman aan te haal.

Hierdie studie is sober en boeiend. Dit is ’n tydsdokument wat in die aanslag nie nostalgies is nie, maar die leser soms laat verlang na ander dae wat duidelik nooit enkelvoudig was nie.

Vrees word aan die kaak gestel. Die spanning tussen Eurosentries en Afrosentries lyk vandag vreemd (bl. 75).

Die diskoers van krisis word ontleed in hierdie troebel tye en omdat Botma van vraelyste gebruik gemaak het, kan hy ’n respondent aanhaal én die tydvak kontekstualiseer.

Daar is vele tye wat ’n mens in die kantlyn ’n opmerking byskryf. Byvoorbeeld wys Botma tereg daarop hoé joernaliste by die kunsredaksie telkemale moes standpunt inneem teen politieke verwikkelinge omdat daar gevoel is “die kunste funksioneer apart van die politiek”. Hy wys ook op dapper joernaliste wat gevaarlike inligting “ingesmokkel” het en hoe die grootste gevaar van so ’n oorgangsperiode vrees is en hoe joernaliste onbewustelik selfsensuur begin toepas het.

Die belangrikheid van Afrikaans word eweneens aangespreek (bl. 127) en ook die standaard van die kunsredaksie. Gender-kwessies kom te berde (Anneke Keyter as die eerste vroulike redakteur, en lank daarna, Laetitia Pople), nes die impak van die postmodernisme met die afbreuk van die grense tussen hoë en lae kultuur. Belangrike tekste soos W.D. Beukes en J.C. Steyn se gesaghebbende Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 vorm deel van die bronnelys. Die boek is in Engels geskryf, waarskynlik om aan te sluit by ’n wêreldwye debat oor die rol van die kunsjoernalis en die hibridiese rol van hierdie persoon wat dikwels op soveel stoele tegelykertyd moet sit.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)