Sunday, March 22, 2015

Joan Hambidge - Protes en anargie (2015)

I

Dit is waarskynlik nooit gerade om onmiddellik op 'n krisis of protesaksie te reageer nie. Tans is daar die Rhodes-debakel en verskeie menings word hieroor gelug in die pers. Dit moet waarskynlik teen die agtergrond van Charlie Hebdo gesien word waar die Franse en masse ge-je suis Charlie het. Hierom net 'n paar kanttekeninge. Geen bombasme. Geen absolutes.

In 'n hotelkamer in Buenos Aires het ek laatnag CNN gevolg en die verskillende reaksies beluister. Teen terrorisme is hierdie skrywer beslis. Maar, toe die Franse - bekend vir hul oproep tot openbare protes - soos een man stelling inneem teen die afskuwekkende daad wat Parys getref het, was my vraag: hoeveel mense hét die komiekstrips van hierdie subversiewe skrywers gelees? Is dit snaaks of satiries om misogonisties te wees? Of die Drie-Eenheid in 'n ménage à trois voor te stel? Of vir Mohammed te vra of hy al 'n varkkop genaai het?

Hierop het Adam Small tereg soos volg gereageer in Die Burger:

‘Charlie Hebdo’ publiseer nie ware satireDinsdag 13 Januarie 2015 22:39
Die huidige opstoot rondom Charlie Hebdo maak ’n mens moeg (siek eintlik) tot by die kiewe. 
Regtig, dis ’n gedoe van ’n soort wat die slegste in ons menslikheid uitwys – die skaapagtigheid van gedrag wat skande oor ons menswees bring. 
Die Hebdo-mense se manier is dié van die wilde kudde, en so is die manier van húlle wat so erg oor hierdie (gevaarlike) bog voel dat hulle daarteen met gemene oorlogswaansin reageer. 
Ek gaan volmondig akkoord met Breyten Breytenbach (DB, 10.01) oor die “selfverklaarde krygers” téén die Hebdo-tydskrif: dat hulle “jong nihiliste (is) op soek na betekenis vir hulle onaangepaste lewens . . . betekenis wat hulle kry in ’n krom, fanatiese, gemanipuleerde interpretasie van die Islam”. 
“Hulle verag en verwerp alles wat Westers is, maar is (self) produkte van die verrotting van die holle verbruikerswêreld, afhanklik van sy ‘embleme’ . . . (Hulle is) narre, lakeie en hoere aan bewind, met geen leiding of etiese visie nie.”
Maar dan geld dieselfde tog ook vir die Hebdo-mense?! 
Húlle soort skrywe en spotprentery word as ‘‘satiries’’ bestempel, maar ware satire is ’n skoon manier van letterkunde. Skrywe wat bedryf word in die trant van Van Wyk Louw se beskouing van pennewerk as ’n saak van ’n ‘‘skerp swaard en blink’’.
Oor wat satire werklik is, kan gerus gekyk word na James Sutherland se boek English Satire. 
Hebdo se vieslike – sieslike (!) – manier het niks met ware satire te doen nie, waarin ’n mens in kritiek respek (ek beklemtoon graag die woord) betoon vir dié wat jy kritiseer, menswaardig.
George Orwell se Animal Farm is satire, nie hierdie onplesierige gesukkel van Hebdo nie.
’n Belangrike gedagte: Indien daar niks, maar niks meer waarlik heilig in die lewe is nie, en alle geloof maar net as ‘‘heilige koeie’’ gesien word, kan ons maar ons winkeltjies sluit en verward en sielsarmoedig gaan slaap. Só, soos George Steiner dit gestel het, kom die ‘‘habits of hell’’ die ‘‘sintakse van (ons) taal’’ en ons lewens binne, en leef ons, sonder om teenstand te bied, saam met ’n gelukkig-grinnikende Satan.
En tragies is dit ook dat hierdie mense, en wat hulle opwerp, ’n land menslik en ekonomies plunder.
’n Laaste opmerking: Charlie Hebdo se mense het glo gelag oor die dood van Charles de Gaulle. Die man was, weliswaar, ’n gekke magsbehepte, maar – die hemel behoed – wyse mense lag nie oor die dood nie: die dood is om diep oor na te dink.
Prof. Adam SmallHeathfield


II

Wat het dit te make met die UK?

Studenteopstande is bekend aan ons. Part en deel van die ou-Suid-Afrika. Die 1968 studente-opstande in Parys het oorgeskuif na die res van Europa en die huidige Rhodes-standbeeld-kwessie gaan waarskynlik ook by ander kampusse uitbars.

'n Emmer vol ekskresie is oor Rhodes se standbeeld uitgeslinger. Tampons met bloed en plakkate (Is verkragting erger as menstruasie?) voor die Arts-gebou gelaat; swastikas teen die Jameson Hall; 'n besetting van die Bremner; 'n uitkoggeling van dr. Max Price met 'n afskakeling van sy mikrofoon:  kenmerkend van hierdie protes wat Jacques Lacan, die Franse psigoanalis, as 'n passage à l'acte sou tipeer. Acting out. Woedeaanvalle omdat die universiteit nie genoegsaam transformeer nie. [Passage to the act - No Subject - Encyclopedia of Lacanian Psychoanalysis - Encyclopedia of Lacanian. Besoek 22 Maart 2015]

Protesprosedures is nie gevolg nie en daar bestaan 'n gevoel van verontwaardiging by kollegas, wit en swart, dat om platvloers te wees en só op te tree nie 'n universiteit waardig is nie. Ander sal voel protes moet juis prosedures vermy en ontwrig.

Is Rhodes se standbeeld die enigste teiken? Sal dit transformasie-probleme oplos as dit verwyder word? Ek dien op my fakulteit se transformasiekomitee en ek spandeer baie tyd om mense aan te hoor, op komitees te dien en na my mening het die universiteit in meer as twintig jaar geweldig getransformeer. Byvoorbeeld: dienskursusse vir Afrikaans en isiXhosa aan die Mediese Fakulteit; meer swart studente en kollegas as aan die begin van die negentigerjare toe die administrasie feitlik 'n ou koloniale vesting was; vroue in bestuursposisies; babaverlof vir gay-vaders. Daar is meer vryheid van spraak. Die opperbestuur word in die pers aangetree. So iets sou in die begin-negentigerjare tot teenspraak gelei het.

III

Aan wie behoort 'n universiteit?

Uiteraard moet dit in hierdie land verskillende ras- en taalgroepe bedien. In my vorige lewe het ek doseer aan die Universiteit van die Noorde (nou Limpopo) in die struggle-jare en beleef hoe 'n universiteit lamgelê kon word deur stakings. Eksamens is ontwrig. Klasse is geboikot. 'n Biblioteek afgebrand.

Hier het 'n dosente steeds probeer om studente op te lei om hulle voor te berei vir 'n lewe daarbuite - 'n gemeenskap wat egter in die ou-Suid-Afrika met gelang van tyd skepties gestaan het oor die instelling. Hier het ek ingetree toe 'n swart polisieman 'n student met se kop met 'n sweep oopgeklief het. En deur, links en regs, my weggebaan om studente literatuurteorie te leer. En om die daaglikse ellendes te trotseer van studeer teen weerstand in.

Dieselfde moet nou gebeur. Die geskiedenis kan nie verwyder of verander word nie. In Milan Kundera se beroemde roman The book of laughter and forgetting (1967) word 'n karakter uit 'n foto verwyder. Ek haal Ted Gioia aan:

In The Book of Laughter and Forgetting, as in the Dvořáček affair, the struggle is not about defining the future, but redefining the past.  Kundera sets the tone for the book in its opening pages, relating the story of Communist party leader and hard-line Stalinist Klement Gottwald, who gave a speech from a balcony in Prague's Old Town Square on a chilly,
snowy day in February 1948.   At one point, Vlado Clementis, standing next to the speaker, removes his fur hat and places it on Gottwald's head.  After Clementis was denounced as a Trotskyite, Zionist and "bourgeois nationalist" and executed in 1952, his image was retrospectively removed from photos of 1948 speech.  But the fur hat remained—a telling 
Kunder-esque-and perhaps Dvořáček-esque-reminder that even our forgetting requires us to remember. 
[The Book of Laughter and Forgetting by Milan KunderaBesoek 22 Maart 2015]

Rooi Daantjie in Parys word nou 'n jongeling met 'n pienk hoed en 'n emmer faeces.  Al verwyder of verskuif ons Rhodes se standbeeld, is daar steeds die gronde waarop die kampus staan en die Rhodes-beurs (wat deur die jare so getransformeer het dit beskikbaar is vir ALLE studente, nie net meer wit jong mans nie).

Uiteraard is dit 'n gesogte beurs vir uitstaande studente.









Ek is 'n ere-akademiese fellow van die Smuts Hall aan die UK met briljante studente wat alle rasse verteenwoordig.

IV

Iets om oor na te dink? Net soos satire grénse impliseer, kan 'n studenteopstand nie nie 'n diskoers van banaliteit gebruik nie. Ook nie geweld nie. Dit het ons geleer uit die 1968-opstande en al die films en boeke daaroor, illustreer hoe geweld net geweld opwek.

Plaas eerder Rhodes se standbeeld in 'n hok van perspeks soos  Francis Bacon gedoen het of 'n ander beeld neffens hom. Want die geskiedenis kan nie vanuit 'n agterna-perspektief verander of weggewens word nie. Die hoed bly agter soos in Kundera se roman.

© Joan Hambidge