Minotaur © Paul Wunderlich
Loergat
Die loergat is ‘n judasoog,
sê nooit: ek's eensaam, of het lief,
wys lies of lul, die skaam bruin oog,
‘n mond wat rond pleit: Asseblief
–
(Uit: Nagsweet. Taurus, 1991)
Art is not only about something; it is something. A work of
art is a thing in the world, not just a text or commentary on the world.
Susan Sontag
I
Op die webruimte Kaapse paragrawe van die digter Johann de
Lange verskyn daar 'n gerf dagboekinskrywings onder die titel "Bloudraad".
Soos by De Lange se mentor Hennie Aucamp word die dagboek ‘n
komplekse teks: enersyds private ontboeseming; andersyds bedoeld om gepubliseer
en dus gelees te word. Hierdie spel tussen privaatheid en openbaarmaking is die
genre-voorskrif van die dagboek – ons dink aan Laclos se beroemde Les liaisons dangereuses en op
Afrikaanse bodem is daar Hettie Smit se Sy
kom met die sekelmaan uit die dertigerjare. En vele ander tekste gehou deur
verraaiers en diegene wat verraai is met 'n judaskus.
Die soort teks werk dus altyd met ‘n implisiete spel tussen onthulling
en verhulling; oopmaak en toemaak.
Die leser van die dagboek is dus voyeur, koekeloerder; die
skrywer van die dagboek is iets van ‘n naakloper. Hierdie dubbelspel is dus die
genre-voorskrif van die dagboekroman en dagboek-as-teks.
Dieselfde tematiek as in sy bekende, en waarskynlik mees
omstrede digbundel Nagsweet, kom aan
bod in hierdie dagboeke waarvan die leser ‘n uittreksel te lese kry op die
skrywer se blog. De Lange is ook ‘n behendige prosaskrywer soos ons weet uit sy
kortverhaalbundel Vreemder as fiksie
wat in 1996 verskyn het. In hierdie
bundel word die stylgrepe van die postmodernisme ondersoek en toegepas: die
spel tussen waarheid en fiksie; die verdoeseling en problematisering van identiteite (reeds ingegee deur die
voorblad waar die figure Aucamp, De Lange en Koos Prinsloo oor mekaar skuif);
die sikliese gang van die vertellinge; die closure wat uitgestel bly,
ensomeer. (Sien "Die prosa van Johann de Lange: Die versplintering van die 'ek'”. Besoek 25 Februarie 2015)
II
Hoe moet ons hierdie dagboekinskrywings benader?
In navolging van Heather Dubrow se studie oor Genre – wat deel uitmaak van die reeks
The Critical Idiom – is dit opvallend hoe skrywers dikwels genrevoorskrifte
oortree. Die voortdurende veranderinge – evoluering – is bekend aan gesprekke
en tekste oor genre.
Van die tekste het oorspronklik by Homeros verskyn onder
redaksie van Danie Botha (Party van ons)
en dit word aangekondig dat die teks as Gulp
in in 2012 verskyn het. Die teks is egter by nabetragting deur die outeur gekanselleer. ‘n
Nuwe weergawe word vir 2015 beoog. Ondertussen werk ons met die teks Bloudraad wat op die webwerf Kaapse paragrawe bestaan. Vir die leser
se gerief word die behandelde teks hier volledig as 'n endnoot gepubliseer.
Vervolgens gaan sekere kodes en genre-kenmerke bespreek word
aan die hand van die inskrywings:
I Die eerste opvallende kenmerk is dat die datum-inskrywings
vaag bly en dat die jaartal onvermeld is. Ons begin by 5 Maart, maar ons weet
nie presies watter jaar dit is nie. Die eerste inskrywing begin met "gaan
saam met" en die ek word weggelaat. 'n Soort aanduiding van die vinnige inskrywing
of optekening; alvorens die "ek" vergeet. Hiermee word 'n soort
universaliteit oor die kondisie gesuggereer.
II Die bekende cruise-tematiek kom aan bod in die tweede
inskrywing waar 'n onwillige persoon aangetref word. Hier word die
ambivalensie-kode opgeroep wat die gevaarelement van cruising vooropstel. Dit
skep uiteraard spanning by die leser wat weet dat die "ek" iemand
nooi na sy woonstel - 'n private ruimte - waar hy vermoor of aangerand kan
word.
III Hierna word iemand in 'n toilet afgesuig voordat die "ek"
die film Fearless gaan kyk. Die
kodes van gevaar en kortstondigheid word hier geaktiveer: cruising het te make
met gesigloosheid, blootstelling en 'n ervaring wat van korte duur is. Dit is
fast food sex.
IV In die gym, eweneens 'n bekende ruimte vir gay-mans op
soek na lyflike plesier, word die private openbaar gemaak. Daar is coitus interruptus vir sowel die leser
as vir die karakter: ons kan nie alleen wees met ons "ek" nie; hy
word onderbreek deur binnetredes van 'n ander wat sowel ons leespret as sy
lyflike pret bederf.
V Peter is 'n blote fuck buddy in 'n volgende inskrywing en
ook hier word die seksuele spel tussen die "ek" en die Ander
onderbreek deur 'n foonoproep van ene Lucas.
VI Die Bronx, 'n gay-ruimte, word geïdentifiseer en die mooi
man ('n bekende kode in gay-tekste) word ontgin. Die "ek" is verbaas
oor sy aandag en hy gaan op uitnodiging na sy plek. Hier word intieme seks
beleef:
Hy trek die skuifdeure toe & ons gaan deur kamer toe, begin soen, mekaar uittrek. Hy wil hê ek moet my jeans & skoene aanhou; net my hemp uittrek. Sy piel is aan die klein kant; besny. Hy buk vooroor, rug na my. Ek gaan sit op my hurke & begin hom lek. Ruik na gegeurde seep. Ek werk my tong in hom op. Hy kreun.
Dis die eerste keer sedert Willie dat ek dit met iemand doen & geniet. Ek druk sy boude met my twee hande oop sodat ek sy hol beter kan sien & dieper kan tongnaai. Die vlees daarvan is sag & glad, met ‘n smaak van sy eie. ‘n Byna metaalagtige smaak, soos van bloed. Ek voel hom oopgaan soos hy ontspan & my tong vat.
In hierdie energieke toneel word die "ek" ook gevra
om oor te bly, maar hy verkies om huis toe gaan. Hy beleef dit as 'n positiewe
ervaring en skryf intens en lank hieroor.
Dit is opvallend uit hierdie aangehaalde gedeeltes dat ons
hier die "resisting queer" vind: die persoon wat die patriargale
dominansie ondermyn of subverteer. Deur hierdie inskrywings te publiseer, word
die diskoers van die "resisting I" weergegee. Die gay-persoon gebruik
skryfwerk om die hetero-gedomineerde wêreld te verontrief deur 'n ontbloting of
"flashing" van persoonlike ervarings.
Elke inskrywing kan eweneens sy pendant vind 'n gedig van De
Lange wat meer verhullend met die gegewe werk. Trouens, die De Lange-speurder
"herken" dikwels die aantekeninge vir 'n vers.
III
Cruising is
'n spesifiek homoseksuele kode wat kasuele seksuele interaksie beteken. In 1980
verskyn William Friedkin se film Cruising (webblad besoek 28 Februarie 2015) met Al Pacino in die
hoofrol.
The Village People se uitbundige "I am a cruiser"
beklemtoon die speelse aspekte van hierdie interaksie. In die film met Pacino
as die polisieman aktiveer die titel se twee dimensies: die polisieman se
soektog na die reeksmoordenaar in 'n "leather bar" en die gay se soeke
na vrye seks.
In die West Village kroeë in New York word homoseksuele mans
opgetel en daarna vermoor in goedkoop motelle en die speurder (polisieman) moet
dit oplos.
Good cop/bad cop; bo-wêreld/onderwêreld; straight/gay word in
opposisie met mekaar geplaas.
Burns (Pacino) se soektog na die moordenaar word telkens
gefnuik. Die ambivalensie van Burns word uitgebou deur sy vriendskap met 'n
gay-dramaturg wat hom help om die onderwêreld te betree. Sowel Burns as Ted
(die dramaturg) ervaar problematiese verhoudings met hul onderskeie partners.
Die slot van die film aktiveer 'n sterk homo-erotiese kode. Wanneer Burns weer intrek by sy vriendin,
ondersoek sy Burns se klere: 'n leerbaadjie en pet. Dit is klere wat die moordenaar
ook dra ...
In die slottoneel kyk Pacino direk in die kamera - sy baard
is afgeskeer. Kon hy dalk die moordenaar wees? Het hy dit geword in ons
verbeelding? Weet hy dalk wie dit gedoen het? Of het hy deel geword van die
gay-wêreld wat hy betree het? Hoekom dra hy nou 'n gay-uniform?
Hierdie ambivalensie van manlike identiteit is iets wat De
Lange sterk uitbou in Nagsweet en ook
in die bundel Vleiswond. In die
tweede inskrywing word hierdie aspek verder ontgin. Die man gaan na die
"ek" se woonstel, maar verander dan van plan. Hy bely dat hy nie van
hierdie "soort" is nie, met ander woorde, nie behoort tot die
"annerster soort" nie. Dit is Aucamp, et al. se kode vir gay-mense.
Tog voel hy duidelik ambivalent oor homoseksualiteit; hy gaan sáám met die
gay-persoon, maar verloor uiteindelik belangstelling waarskynlik uit vrees of
onsekerheid oor wat die aanraking mag inhou.
IV
Maar dit gaan vir ons uiteindelik om die rol van die leser of
interpreteerder van die teks. Ook óns word deur Johann de Lange in 'n
ambivalente posisie geplaas. Ons is enersyds buite; terselfdertyd binne. Ons
word deel van die intieme dagboeke en moet, soos Al Pacino, die driftige,
onbekende onderwêreld betree. Soms is ons toegerus; ander kere nie. Ons is
Orfeus in die onderwêreld. In hierdie Bloudraad-konfessies
word die volle impak van die cruiser se bestaan gekarteer. In die VIe
inskrywing word die kannibaal-beeld gebruik en in De Lange se gedigte word
kannibalisme en reeksmoordenaars ontgin as metafore om hierdie bestaan te
beskryf. Duet of Cannibals van Susan
Sontag is 'n film uit 1969. Die beroemde filmkritikus vervaardig 'n film en
betree dus as teoretikus die arena van die filmmaker net soos hierdie leser met
die binnetrede van die dagboeke (wat die werklikheid probeer weergee anders as
'n gedig wat metaforiseer en verdring) die kodes probeer ontsyfer. Nie alle
kykers was gaande oor Sontag se film nie en 'n gesiene kritikus, soos Roger
Greenspun, wat in 1969 negatief daaroor skryf. (Movie Review - Duet For Cannibals - The Screen/Susan Sontag's 'Duet for Cannibals' at Festival - NYT. Besoek 28 Februarie 2015).
Sontag se teoretiese werk is van kardinale belang vir die
lees van hierdie dagboeke. Haar beroemde "Notes on Camp" en
"Against interpretation" gee al die sleutels vir die lees van hierdie
dagboekinskrywings. In die dokumentêr, Regarding
Susan Sontag, beklemtoon sy die belangrikheid van kamp as 'n stylfiguur en
hoe die vaudeville-wêreld van die gay-man werk waar alles gestileerd en
geaffekteer is. Dit word in die IXe inskrywing aangetref.
Reborn heet
die vroeë dagboeke van Sontag wat die tyd tussen 1947 en 1964 karteer,
saamgestel deur haar seun David Rieff, met wie sy 'n besondere verhouding gehad
het. Op bladsy 163 bely sy haar siening oor liggaamlike skoonheid:"And
physical beauty is enormously, almost morbidly, important to me." Hierom kon sy die gay-sensibiliteit begryp.
In die genoemde film word verhoudings met sowel mans as vroue
behandel. Veral verhoudinge met vroue speel 'n sentrale rol in haar lewe.
Sy het ongeveer 100 notaboeke nagelaat en dit is onseker of
sy dit vir publikasie bedoel het. Die feit is egter dat dit bestaan en 'n lig
werp op haar komplekse lewe as skrywer en openbare intellektueel. Rieff erken
wel dat die publikasie haar privaatheid binnedring (x). Name van mense word wel
nie verklap nie, ofskoon die film oor haar lewe dit wel doen! Sontag het tydens
'n ontmoeting met my haar boeke geteken - vreemd genoeg nie langs die kolofon
of op die titelblad nie, maar agterin die boek. Dit was tydens haar besoek aan
die Universiteit van Kaapstad waar ek die voorreg gehad het om 'n dag met haar
deur te bring in Maart 2004. (Sien "Desperately Seeking Susan Sontag: ’n Essay-verhaal". LitNet/ SeminaarKamer. Besoek 1 Maart 2015).
Sontag word eweneens tersaaklik in die VIIIe inskrywing met
haar siening oor siekte as 'n metafoor wat sy later uitbrei in haar teks: Aids and its metaphors. Die gay-man kan
nie meer uitbundige seksuele ervarings beleef nie; Vigs is die pretbederwer.
Ironies genoeg sterf Sontag aan kanker.
In afdeling VII word anonieme toiletseks beskryf met die
ingeboude fisiese gevaarelement wat dit impliseer.
In die Xe inskrywing aktiveer De Sade ritualistiese seks;
iets waarop die dagboekskrywer sinspeel; net soos wat die XIe inskrywing met sy
verwysing na die "usual suspects" nie alleen die film oproep nie,
maar eweneens iets patroonmatigs impliseer. Ook in hierdie film gaan dit om
identiteite wat verskuif. ("The Usual Suspects - Wikipedia, the free encyclopedia". Besoek 28 Februarie 2015).
Psycho van
Hitchcock is beslis nie 'n toevallige interteks nie. Moedermoord (matricide) en onderdrukte seksuele
begeerte wat op moord uitloop, maak van hierdie film 'n tersaaklike interteks.
Hoe ironies dat die speurder, ene Arbogast, wat alles moet oplos in Psycho vermoor word. Die Bates-motel is 'n gekodeerde ruimte van
waansin waar Norman Bates die vrou, Marion, in die stort vermoor in die
gedaante van sy reeds gestorwe moeder. Dit is 'n briljante film in die
ondersoek na identiteitoorname. Norman is onder die indruk dat sy moeder dit
gedoen het. Boonop is die bloed in die storttoneel wat gebruik was sjokolade
wat aansluit by Sontag se siening oor "Notes on camp" en films se
gebruik van artefakte. ( Psycho (1960 film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 28
Februarie 2015).
En die leser, as 'n letterkundige speurder, kan in 'n
ondersoek verkeerde aannames maak en kodes foutief interpreteer en dus
simbolies "vermoor" word deur die gevaarlikte teks.
V
Uiters suggestief eindig hierdie inskrywings:
Onder in die sitkamer, op pad uit, merk ek heelparty kunswerke deur plaaslike kunstenaars. Veral een vang my oog: ‘n mooi yster-figuur van Christo Liebenberg. Die torso is opgebou uit dik bloudraad met in die middel ‘n ysterhart vasgeheg aan die torso met drie leerbandjies. Die hart het ‘n sleutelgat; is dus gesluit. Ook tussen die bene is ‘n soort codpiece wat eweneens gesluit is. Die sleutels na hierdie twee begeerde domeine is nêrens te sien nie.
So word die titel verduidelik en dat die sleutels na die twee
begeerde domeine nie gevind kan word nie. Die hart is gesluit en die bene is
eweneens toegesluit in die kunswerk.
De Lange probeer Sontag se dictum
"In place of a hermeneutics we need
an erotics of art" hier uitvoer ... Tog probeer die leser dit koppel aan
ander tekste, sowel met die digkuns as die teorie.
Bloudraad is 'n
fassinerende teks met sy bedoelde-onbedoelde toespelings, inspelings en
uitspelings.
© Joan Hambidge
Kaapstad 2015
Endnoot:
Bloudraad. Die
Kaapse paragrawe
I. 5 Maart
Gaan saam met Raymond na Chart Farm om druiwe & rose te
gaan pluk. Die plaaswinkeltjie sit teen 'n helling met die roostuin op
regterhand & die druiweboorde al teen die hang af. Pragtige uitsig. Gewapen
met ‘n snoeiskêr & plastieksak vaar ons eerste onder die hanepoot in.
Die druiwe het 'n wilde smaak, asof mens die son daarin kan
proe. Wanneer laas het ek my hand tussen blare ingesteek & die koel swaar
gewig van 'n tros druiwe aan die tak kon voel?
Ons pluk & eet al geselsende. Ons klouter deur pap
draadheinings & gooi 'n draai deur die ander wingerde maar die druiwe daar
is nie soet genoeg na ons smaak nie.
Dik gevreet steier ons met die sakkie geplukte druiwe teen
die helling uit waar ons dit solank by die plaaswinkeltjie los & 'n plat
kartondeksel kry vir die rose.
Die rose is nog nie in volle bloei nie. Daar is baie knoppe
& 'n paar vroeë blomme. Maar ons werk die beddings geduldig deur, van die
Double Delicious tot by die Vera Johns. Ek ruik aan elke soort, party het 'n
swaarder reuk as ander, party soeter.
Ons pluk meer as twintig bloeisels wat net begin oopgaan
& Raymond snoei sommer op die plek oortollige takkies & blare van die
stingels af. Party rose het groter dorings as ander, asof hulle hulleself meer
aggressief verweer teen die hand met die lem. Die dorings gee iets manliks aan
die rose.
II. 2 April
Tel ‘n man by Saunders Rock op. Aantreklike bruingebrande
swartkop met ‘n stewige knop in sy kortbroek. Hy het ‘n rooi rugsak & sê hy
het die oggend berg geklim. Sy sweetreuk bevestig dat hy lank in die son was.
By die woonstel trek hy sy skoene uit, gaan was sy voete & maak hom tuis in
die sitkamer. Ek gooi vir ons vrugtesap in & ons gesels voel-voel. Die tyd
stap aan & ek noem dat ek die woonstel met iemand deel. ‘n Fout. Sy houding
verander handomkeer.
Hy krabbel in sy rugsak, haal ‘n stuk papier & pen uit.
Ek dag hy wil vir my sy adres &/of foonnommer gee, maar nee, hy begin ‘n
kriptiese lysie op die papier neerskryf. Hy sit ook ‘n maatband op die
tafeltjie neer.
“Waarvoor is dit?” wil ek weet.
“Wag, jy sal sien.”
Toe hy klaar geskryf het, staan hy op & vat die maatband.
Hy beduie ek moet ook opstaan. Ek meen eers hy wil dalk die lengte van my piel
meet as die een of ander voorwendsel tot seks, as ‘n soort seduksie. Maar dit
blyk toe, nee: hy wil my ánder mates vat.
Die ou is kennelik nie lekker nie & ek bied aan om hom te
gaan aflaai waar hy wil wees. In die hysbak & motor probeer ek agterkom wat
in daai kortbroekie skuil, maar hy wil niks weet nie. Mompel nurks dat hy nie
van die “soort” is nie.
III. 16 April
Ek gaan fliek by die Waterfront – Fearless met Jeff Bridges. Voordat die fliek begin, gaan ek vinnig
toilet toe. Iemand kom sit in die hokkie langsaan & loer deur die loergat.
Ek loer terug & sien hom draadtrek.
Die volgende oomblik kyk hy bo-oor die afskorting. Hy is ‘n
aantreklike blondekop met jeans & ‘n sportsbaadjie aan. Sy piel is stewig
& besny. Ons tos mekaar onderdeur die afskorting.
Na ‘n ruk kyk hy weer bo-oor & vra of ek getroud is. Ek
neem aan dis deel van sy fantasie & sê ja. Hy vra my om hom te soen. Ek
huiwer.
"Kiss me," sê hy dringend. "Kiss me."
Ek gaan staan op die toiletbak se rand & ons soen mekaar
bo-oor die afskorting. Hy soen baie lekker. Dan klouter hy af, trek sy broek op
& verkas.
IV. 14 Mei
Gym toe. Met die instapslag sien ek 'n ou, omtrent my lengte
& ouderdom, fris gebou, met 'n laaannngg piel. Dit klap behoorlik teen sy
bobene terwyl hy loop. Swengelend. Hy stort in die hokkie langs myne. Seep daai
ding in tot 'n semistyf. Lieflike gesig. Ek aai dit vir laas voordat ek wegstap
stoomkamer toe. Vang sy oog. Kry die gevoel ek moet hom nie traai nie.
In die stoomkamer is daar 'n swartkop wat waarskynlik mof is.
(Ek kry net die vibe.) Die deur gaan oop & Langpiel kom in. Hy gaan staan
teen die muur waar ek sit, sy hande voor hom gehou, 'n trouring aan sy vinger.
Maar sy piel hang ver onder sy hande uit, steeds semistyf. Dik uitgeswel. Ek
kan my oë nie daarvan af vat nie, maar probeer om nie te opvallend te staar
nie.
Ek begin 'n horing kry. Probeer dit wegsteek, maar hy sien.
Sy piel begin ook swel. Wel! Hy vat sy hande weg sodat dit effens wegstaan van
sy lyf, steeds te swaar om eens 90 grade te lig! Hy gaan sit op die bankie
oorkant my & begin homself tos. Die swartkop sit steeds met sy bene
opgetrek & maak of ons nie bestaan nie. Ek begin ook tos. Die ander man se
piel is nou in volle sterkte styf & manjifiek. Hy staan op & kom staan
voor my. Tos my. Net toe ek my hand uitsteek na syne gaan die deur oop. 'n
Swartkop outjie kom in, gemiddelde piel. Hy kom sit langs my.
Langpiel gaan sit & trek sy bene op sodat sy piel nie wys
nie. Die eerste swartkop stap uit. Langpiel hervat weer sy vertoning. Die
outjie langs my doen niks, kyk net. Ek begin ook tos. Toe ek weer kyk, is die
swartkop se piel volle sterkte uitgeswel & byna net so groot soos Langpiel
s’n. Nie so lank nie, maar dikker, amper bierblik-dik.
Hy speel tentatief met homself. Toe ek aan hom wil vat, keer
hy my hand weg. Hy laat egter langpiel toe om hom te tos, maar wil nie aan hom
vat toe dié beduie hy moet nie. Ons word weer onderbreek & kry die res van
die aand nie weer kans om alleen te wees nie.
V. 23 Julie
Peter kom oor die oggend. Ons het beplan om die dag iewers
heen te gaan, of net rond te ry. Net voordat ons waai, bel Lucas. Terwyl hy met
my oor die foon gesels, blaai Peter deur porno. Raak jags, & dis nie lank
nie of hy het my broek oop & wikkel my piel uit & gee my een van sy
onverbeterlike blow jobs. Later werk ek syne ook uit. Sy kakie langbroek het 'n
nat kol voor. Ek gesels nog eenstrykdeur met Lucas. Toe ek later die foon
neersit, gryp ons mekaar met mening.
Ons ry agterna uit Melkbosstrand toe, dan Tweede Steen waar
ons uitklim, die bosse in stap & mekaar nogmaals gryp. Peter kom terwyl hy
vooroor gehurk my staan & afsuig. Sy kom vlieg die wêreld vol. Net toe ek
begin kom, sien ek iemand 'n ent van ons af staan & pis. Ek is nie seker of
hy ons gesien het nie; glo nie so nie. Peter trek sy broek op, ek staan met my
rug na die ander man toe & maak klaar. Ons stap laggend terug kar toe.
Dis laatmiddag wanneer ons by die Blue Peter hotel bier
bestel & iets om te eet. Stap daarna 'n moerse ent op die strand &
gesels. Of ons ooit iets meer as fuck buddies sal word, betwyfel ek. Maar ek
verkies dit eintlik so. Dis eenvoudiger. Dis omtrent vyfuur wanneer ons weer
terug is in Seepunt.
VI. 27 Augustus
Gisteraand weer Bronx toe. Ontmoet David, pas afgetrek van
Johannesburg. ‘n Sexy swartkop. Ek was heel verbaas toe hy my cruise. Ek het
hom vroeër die aand saam met ‘n ou by die Bronx sien instap & hy is deur ‘n
hele paar van die mooies gegroet. Op die dansvloer het ek langs hom & sy
vriend gedans, maar hy het nie in my rigting gekyk nie. Later, toe ek naby die
ingang staan om af te koel, kom staan hy alleen langs my. Vra hoe dit gaan. Ek
sê goed & bly dan stil.
Ons staan woordeloos langs mekaar. Later stut hy sy hande
agter op die houtreling waarteen hy leun & ek vat ‘n kans & sit my hand
naby syne, raak ‘toevallig’ aan hom. Na ‘n ruk raak hy liggies aan my hand
& ons vingers verstrengel. Nog steeds praat ons nie.
Elke keer as iemand wat hom ken met hom kom gesels, vat hy sy
hand weg. Hy’s waarskynlik involved & wil nie hê sy lover moet uitvind nie.
Ons bly staan met lang stiltes tussen ons. Ek druk ‘n keer of
wat my hand agter by sy jeans in & voel die welwing van sy boude, of streel
die diep kurwe van sy rugstring.
Later moet hy sy vriend gaan aflaai & vra of ek nog gaan
bly. Ek trek my skouers op, nie seker wat om te sê nie. Sê dan nee, ek gaan ook
waai. Hy sê dat hy my graag weer sal wil sien, wil ek hom nie so oor ‘n halfuur
by sy woonstel kry nie. Of dalk later in die naweek? Ek sê ons kan mekaar later
in die naweek sien, miskien ‘n brekfis doen.
“I would
like it if you came to my place. Tonight.”
“OK. I’ll
see you later.”
“Give me 15
minutes to drop him off, then I’ll be home.”
Hy bly in ‘n woonstel wat hy huur in Bantry Bay, op met
Ravine Steps. Lieflike uitsig. Toe ek die bopunt van die trappe bereik, sien ek
die hek is halfoop gelos. Ek stap ‘n paar trappe af na ‘n houtdek waarop ‘n
tuintafel & –stoele staan. Net ‘n plat ruwe houtdek sonder reling.
Die skuifdeure is ook halfoop & ek kyk in op die
sitkamer. Smaakvolle (hoewel effens verbeeldinglose) meubels & ornamente,
niks moffierig nie. Die objekte & skilderye teen die mure is ‘manlik’ – ‘n
ou seekaart, kompas, sulke dinge.
Ek stap binne. David is nêrens te sien nie. Die deur na die
slaapkamer is links & ek sien twee bene wat afhang oor die bedrand. Swart
skoene & jeans. Ek beweeg nader.
Hy lê op sy maag, half aan die slaap. Vir ‘n oomblik dink ek
dis ‘n speletjie, dat hy maak of hy slaap & ek raak styf by die gedagte.
Maar toe ek die vertrek inkom, word hy wakker & rol om. Glimlag.
Hy trek die skuifdeure toe & ons gaan deur kamer toe,
begin soen, mekaar uittrek. Hy wil hê ek moet my jeans & skoene aanhou; net
my hemp uittrek. Sy piel is aan die klein kant; besny. Hy buk vooroor, rug na
my. Ek gaan sit op my hurke & begin hom lek. Ruik na gegeurde seep. Ek werk
my tong in hom op. Hy kreun.
Dis die eerste keer sedert Willie dat ek dit met iemand doen
& geniet. Ek druk sy boude met my twee hande oop sodat ek sy hol beter kan
sien & dieper kan tongnaai. Die vlees daarvan is sag & glad, met ‘n
smaak van sy eie. ‘n Byna metaalagtige smaak, soos van bloed. Ek voel hom
oopgaan soos hy ontspan & my tong vat.
Ek steek my een hand tussen sy bene deur & vat sy piel vas.
Dié is nat van die pre-cum wat daaruit op die mat drup. Hy is baie responsive,
maak geluide, beweeg sy onderlyf, probeer nog verder vooroor buk sodat ek
dieper kan inkom.
Sy matras lê op ‘n platform twee trappe hoër as die vloer. Hy
gooi sy hemp oor die boonste trap (die mat is van ‘n baie growwe, geweefde
soort) & gaan lê op sy maag met sy knieë op die onderste trap. Ek kniel
agter hom & begin hom weer tongnaai. Ek voel ek kan ‘n ganse nag aanhou
daarmee.
Die geluide wat hy maak & woorde wat hy sê, is half
skugter, onseker oor hoe ver hy kan gaan. Hoe meer ek te kenne gee dat ek
daarvan hou, hoe pronter raak hy. Na ‘n ruk staan hy op & ons vry weer, dan
gaan hy agter my staan terwyl hy sy hand om my sit & my piel beetvat. Hy
begin my op die boude looi met die plathand. Later die aand doen ek dit met
hom. In ‘n stadium trek ek hom oor my skoot & looi hom goed.
“Do you like
it?” vra hy.
Ek knik.
“I want you
to do what you want with me.”
Hy vertel my dat hy daarvan hou om te tongsoen, & veral
as die ander ou sy tong so diep as moontlik in sy keel afdwing. Vir die
volgende 5-10 minute doen ons net dit, soos twee kannibale wat mekaar probeer
verorber. Baie intens. Dan kniel ek agter hom & begin met my pielkop aan sy
hol por. Hy weet wat ek wil & haal ‘n kondoom uit wat hy vir my aansit
& ook jellie.
Ek lê op my rug & hy sit bo-op my, probeer my so ry. Maar
dit werk nie mooi nie. Ek kniel agter hom, hy op sy hande & knieë &
naai hom. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel dit goed.
“I want you
to enjoy it,” sê hy. “Fuck me hard. Do what you want.”
Ek begin hom rof naai, trek my piel elke keer so te sê
heeltemal uit & stamp dit dan terug. Ek voel my orgasme opbou. Die volgende
oomblik kom hy in sy hand. Ek trek uit, pluk die kondoom af & begin tos. Hy
rol om op sy rug sodat ek bo-op hom kan gooi. Ons lê ‘n ruk uitasem. Hy beduie
ek moet met my kop op sy boarm lê. Ons bly ‘n ruk lank so lê. Dan staan hy op
om badkamer toe te gaan.
“You can
sleep over if you like,” sê hy. “Only problem is I have an early meeting so
you’ll have to get up early with me.”
“I’ll go
home,” sê ek.
Terwyl hy in die badkamer is, trek ek aan. Wanneer hy uitkom,
keer ek hom voor & ons soen weer.
“Are you
sure you don’t want to sleep over?”
“Yes,” sê
ek. “Next time.”
Hy vra my telefoonnommer & sê hy sal my bel. Ons staan op
die houtdek, ek geklee & hy kaal met die maanlig op sy skouers & die
see agter hom & die donker vensters van die woonstelblokke & huise. Ons
soen, groet dan.
Ek ry woonstel toe, opgelug. Dis vyfuur in die oggend maar ek
voel nie moeg nie.
VII. 17 September
Vlieg Durban toe. Nadat ek my bagasie ingeboek het, gaan eet
ek iets bo in die restaurant. Daar sit drie mans by 'n tafel & gesels.
Tipiese sakemanne. Een is aan die ou kant, maar die ander twee is jonk. Ek maak
oogkontak met die swartkop. Toe hy my egter 'n paar keer betrap dat ek vir hom
kyk, gee hy my 'n aggressiewe kyk. Ek besluit dis tyd om te waai.
Gaan gooi gou ‘n draai by die toilet. Skaars 'n minuut later
staan die swartkop langs my by die krip. Sexy piel, onbesny met ‘n lekker los
voorvel. Ek staan heel luiters, hou my hande tuis. Dit kan 'n setup wees. Sy
twee vriende wag dalk buite. Na 'n ruk is beide van ons styf & hy begin
speel. Ek laat hom my pielstyf sien, maar doen niks verder nie. Dan beduie hy
ons moet in een van die hokkies ingaan. Ek reken dis veilig & knik.
Binne in die hokkie rem ons vinnig ons jeans af & begin
mekaar tos. Hy wil nie hê ek moet hom suig nie. Ons hoor sy twee vriende by die
toilet inkom. Ek gaan sit op die bak terwyl hy voor my staan. Hy vat my jeans
wat tussen my enkels gebondel is in sy vry hand vas & lig my voete van die
grond af op sodat daar net een paar voete sigbaar is, sou iemand onderdeur
loer. Die ouer man stap uit, maar die jong een bly agter. Hy roep my seksmaat
by die naam.
“Ek kom” sê dié & voeg dan ook sekondes later daad by die
woord & pomp sy wit in 'n bondel toiletpapier. Heel kinky om seks te hê met
'n ou terwyl sy vriend niksvermoedend buitekant wag. Ons wag 'n ruk totdat die
vriend ook uitstap. Die swartkop trek sy jeans op, sê dankie & glip by die
deur uit. Toe ek buite kom, is die drie nêrens te sien nie.
VIII. 24 September
Peter daag op. Ons kyk Longtime
companion. Terwyl ons fliek kyk, begin ons vry. Trek uit. Hy’t ‘n lekker
lyf. Harige borsies, mooi definisie met die harde borsbeen tussenin; gladde
byna haarlose boude. Gemiddelde piel. Ons lê later op die mat & 69.
Kort-kort as hy naby is, stop ek want ek wil hê dit moet duur. Staan daarna
kaalgat op die balkon & gesels terwyl hy ‘n sigaret rook. Die suidoos waai
lat dit bars.
Gaan na ‘n ruk weer binnetoe. Begin aantrek. Porno kom ter
sprake & ek sê ek het porno, & ons kyk na een. Hy raak weer lus. Ons
trek uit & begin van vooraf. Rek dit uit so lank as moontlik. Die tweede
keer kom hy baie meer as die eerste keer. Dit val in sulke wit hale oor my
bors.
Dan hou hy skielik op om my te suig.
“You’re bleeding,” sê hy. “I must have hurt you somehow.”
Hy probeer dit casual hou, maar in ons albei se koppe alarm
dit. Wie se bloed is dit? Myne of syne? Elkeen dink waarskynlik die ander een
is die groter risiko. Peter is heel
bedrywig & ek lei af hy hou daarvan om genaai te word. Ons sê niks nie. Ek
tos myself tot ek kom. Teen daardie tyd is daar redelik baie bloed.
Ek gaan badkamer toe om 'n waslap te gaan kry. Spoel myself
af, maar kan nie die stukkende plek kry nie. Dalk was dit sy tandvleise wat
gebloei het. Ons trek aan, probeer gesels asof alles OK is, maar die aand is
basies oor. Later gaan hy badkamer toe waar hy sy mond aanhoudend uitspoel.
Dis onmoontlik om deesdae seks te hê sonder dat die skadu van
die virus oor jou val. Die alomteenwoordige derde bedmaat.
IX. 1 Oktober
‘n Groep van ons (onder andere Stoffel, ‘n akteur &
larger than life aktrise) is Donderdagaand na ‘n clairvoyant-meeting by Ashbey
house in Highlevel road. Ashbey House is ‘n ou dubbelverdieping wat lyk soos
die Bates-huis uit Psycho.
Aan die agterkant van die gebou is daar ‘n ingang na ‘n saal
wat alreeds byna vol sit. Dis nie ‘n baie groot vertrek nie & ruik ietwat
bedompig. Die stoele is van die goedkoop wit plastiek soort & daar is
bittermin beenruimte. “Barcarolle” speel sag in die agtergrond.
Uiteindelik kom die medium by die deur regs van die verhogie
uit. Hy is ‘n kort man, aan die mollige kant & met ‘n ronde baba-gesig, in
sy sestigs sou ek sê. Hy praat sag & glimlag dikwels. Bedank almal wat aan
hom gedink het & vir hom gebid het tydens sy tyd in die hospitaal onlangs.
Terwyl die musiek speel, sit hy op ‘n stoel met sy oë toe.
Wanneer die musiek ophou, staan hy op & begin praat. Ek dag nog hy praat
met ons, want hy het nie sigbaar in ‘n trance ingegaan nie, maar ek kom agter
dat hy reeds met een van die dooies kommunikeer. Hy beskryf die persoon se
voorkoms & geaardheid. Sê hoe oud hy was toe hy dood is & waar &
wanneer & hoe hy dood is. Die dooie man se suster sit agter ons. Lawson sê
dat haar broer in ‘n motorongeluk dood is op ‘n Sondagoggend & dat dit
onverwags was.
“He says he was so surprised. He didn’t expect it that
Sunday. He saw a tree and the next minute he was up between the branches. He’s
a very impatient man. He’s telling me to listen and to get it right.”
Die geeste van twee jongmans wat in die lewe vriende was, is
gelyktydig teenwoordig, albei in hulle twintigs toe hulle dood is. Hulle troos
hulle ouers & gee boodskappe deur vir lewende familielede.
“These young men are quite special,” sê Lawson in ‘n stadium.
“They are doing good work. They have a whole gang on the other side to meet
young men who arrive without knowing where to go and to help them.”
Na ‘n uur kondig hy aan dat die sessie verby is, teken
apologie aan dat hy nie by almal kon uitkom nie. Tee sal op die boonste
verdieping bedien word.
Toe ek verby hom stap, vat hy my hand vas & druk dit
& sê “Thank you for coming.”
In die motor toe ek & Stoffel wegry, sê hy dat die
aktrise die medium soos ‘n mede-arties gelukgewens het met sy vertoning.
“Hy het my self al hoe meer aan ‘n afgetrede
vaudeville-akteur laat dink.”
X. 22 Oktober
Gaan haal pos uit & laat val my bril. Een lens flenters.
Raak aan die gesels met ‘n ou in Exclusive books. Baie
straight looking. Butch. Lank & met donker hare. Sy lyf sou mens ‘wiry’ kon
noem. Taai, definitief sterk. & hy straal gevaar uit.
Hy is op soek na boeke van die Marquis de Sade. Dié is egter
nog steeds verbode. Ek laat val dat ek dit by die woonstel het – ‘n
vlugkelnervriend het dit vir my die land ingebring. Hy is baie gretig om dit te
siene te kry, vra of hy nie vanaand kan oorkom nie. Kan op ‘n lekker sessie
uitloop. Ek is seker hy is bewus van my belangstelling.
Hy daag agtuur se kant op. Nog in dieselfde jeans & hemp,
maar met ‘n leerbaadjie aan & ‘n motorfietshelmet in sy hand. Ons gesels ‘n
bietjie. Hy kyk na die Tom of Finland boeke wat ek ‘toevallig’ op die
koffietafel laat lê het. Kyk half snaaks na my. Ek gee vir hom die De
Sade-boeke om na te kyk terwyl ek gaan koffie maak.
Wanneer ek terugkom in die sitkamer sit hy teruggeleun op die
rusbank, bene wydoop, met die boek op sy borskas. Die leerbaadjie lê langs hom.
Dis duidelik dat hy ‘n horing het & wil hê ek moet dit sien.
Ek sit in ‘n stoel teenoor hom, my hand liggies op my mik. Hy
blaai verder, stop & lees, blaai, stop & lees. Ek knie diskreet (of so
het ek gedink) aan my groeiende ereksie. Hy sit die boek neer & vat die
beker koffie, kyk om hom rond, asof hy bestek opneem van my plek.
“So, do you live alone?” vra hy dan.
Ek knik. Besef dan ek moes eerder nee gesê het.
Hy sit weer terug & my oë gaan onwillekeurig na sy mik.
Hy sit sy hand daarop & glimlag.
“I need to use the toilet,” sê hy.
Ek beduie dis in die gang af. Hy bly ‘n lang ruk weg. Ek kry
hom in die studeerkamer waar hy na die boekrakke kyk.
“Have you read all these books?”
“Most of them,” sê ek. Ek staan teen hom sodat ek sy lyfhitte
kan voel opslaan in my gesig & hom kan ruik. Hy draai om & stap by my
verby sitkamer toe.
Ek bly ‘n oomblik staan, gaan dan badkamer toe. Dalk het hy
getos na aanleiding van die De Sade. Dalk sit die kom nog teen die binnekant
van die toilet, of dalk lê daar ‘n druppel pis, of ‘n balhaar, enigiets wat ek
kan gebruik vir ‘n solo-sessie later. Maar daar’s niks.
Toe ek in die sitkamer kom, sit hy weer op die bank. Hy het
‘n appel van die vrugtebank in die kombuis gevat & draai dit om & om in
sy hand. Dan haal hy ‘n springmes uit die leerbaadjie se binnesak. Hy kyk na my
& laat die lem oopspring.
“I know what’s going on,” sê hy afgemete, terwyl hy stadig
die appel begin skil.
“What do you mean?” My stem klink stram, vreemd.
“The question is,” die skil wat onder sy mes uitkrul, is soos
‘n slang wat al hoe langer word, “what are you going to do about it.”
Hy sit die mes op sy bobeen neer & vat ‘n diep byt in die
appel, kou dit langsaam. Sluk.
“I mean, you can try me. I might go for it. But then again, I
might not.” Hy kyk my reg in my oë. “I might snap & kill you. Maybe I’ve
done it before.”
My fokken luck om altyd die psycho’s aan te trek.
“It’s getting late,” sê ek dan. “I’ve got an early day
tomorrow.”
Hy bly sit. “You want me to leave?”
“Yes.”
“Sure?”
Ek knik.
“Did I scare you?”
“No,” sê ek onoortuigend. “It’s late.”
Hy glimlag. (Smalend?). Staan op & maak ‘n hele produksie
van die knipmes. Knip dit stadig toe & laat dit dan tot diep onder in sy
jeans se sak glip, so neffens sy knop.
Ek gaan maak die deur vir hom oop. Hy staan ‘n oombllik in
die deuropening. Hy glimlag weer vir my, druk met sy wysvinger teen my bors.
Dan draai hy om & stap weg in die donker gang. Ek druk
die deur agter my toe.
Later, alleen in die donker in my bed, is ek spyt ek het hom
nie getraai nie. Ek is seker dis
wat hy wou gehad het. Of nie?
Dis eers die volgende oggend dat ek ontdek dat my kopie van 120 days of Sodom weg is.
XI. 5 November
Gym toe. The usual suspects. Net toe ek op die punt is om
huis toe te gaan, kom sit daar ‘n ou langs my in die sauna. Fris gebou, met ‘n
stewige piel (halfstyf), kort geskeerde hare. Ek dag eers hy is straight &
dat sy piel maar net so semi-styf is na hy gestort het (wat dikwels gebeur want
dan seep hulle mos hulle piele in). Maar kort voor lank kom ek agter hy cruise
my. Ek is aangenaam verras. Dis die soort ou wat my gewoonlik nie eens ‘n kyk
gee nie.
Hy beduie ek moet hom volg & hy stap uit storte toe. Ek
volg hom. Daar gekom wys hy ek moet in ‘n stort teenoor syne staan sodat ons
kan tos terwyl ons vir mekaar kyk. Dit werk egter nie want daar is te veel
ander mense wat skielik ook kom stort. Ek gaan in die stort langs syne in.
Hy leuen oor & vra: “Do you have time?” Met ‘n sexy
Duitse aksent.
Ek dag hy wil weet hoe laat dit is, maar hy lag & beduie
nee.
“Do you want to come to my place?”
“Sure.”
Dit blyk toe hy is inderdaad ‘n Duitser wat hier is met
vakansie. Sy naam is Ralph (of so sê hy) & hy bly in Fresnaye. Buitekant
die gym staan hy eers met ‘n meisie & gesels. Hulle het saam kom oefen
& hy wag eers vir haar om te ry voordat ons in sy kar klim. Hy sê sy weet
nie van hom nie & dat hy dit so wil hou.
Ons pak mekaar in die sitkamer, maar beweeg dan met die
sirkeltrap na een van die bonste slaapkamers waar ons albei uittrek. Hy gaan
sit-lê agteroor op ‘n soort sofa, bene wyd uitmekaar geplant met daartussen ‘n
lieflike dik piel na my toe uitgestrek. Dit blyk gou dat dit ‘n one-sided deal
gaan wees, maar ek gee nie om nie. Die kans is goed dat hy dalk biseksueel is.
Anyway, ek suig hom af. Hy hou daarvan dat sy piel spoeg
gesmeer & dan afgestos word deur jou gladgesmeerde hand oor die kaal
pielkop te beweeg. Vir my is dit te pynlik, maar sommige ouens hou daarvan,
veral besnydes. Hy maak baie geluide, praat terwyl ek hom afsuig.
“Yeah, that’s good. You do it good. Do you like my cock?
Yeah, do it like that.” Die normale porno-dialoog. Maar in my ore was dit
musiek.
In ‘n stadium vra hy my: Do you want me to come on top of
you? Ek knik.
“It’s quite a lot,” sê hy. “Quite a huge load.” & toe hy
‘n ruk later kom, is dit ook so. Dit spuit behoorlik by sy piel uit. Oor my
hande, my bors, my nek, ‘n paar skote in my gesig & dit loop af oor my maag
& drup op my bobene. Ek moes agterna gaan stort.
Onder in die sitkamer, op pad uit, merk ek heelparty
kunswerke deur plaaslike kunstenaars. Veral een vang my oog: ‘n mooi
yster-figuur van Christo Liebenberg. Die torso is opgebou uit dik bloudraad met
in die middel ‘n ysterhart vasgeheg aan die torso met drie leerbandjies. Die
hart het ‘n sleutelgat; is dus gesluit. Ook tussen die bene is ‘n soort
codpiece wat eweneens gesluit is. Die sleutels na hierdie twee begeerde domeine
is nêrens te sien nie.
Johann de Lange
Bibliografie
De Lange, Johann. 2010.
Judasoog. ‘n Keur uit die gedigte van
Johann de Lange. Kaapstad: Human
& Rousseau.
De Lange, Johann. 1991. Nagsweet.
Johannesburg: Taurus.
De Lange, Johann. 1986. Snel
grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2000. Tweede natuur. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1993.
Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1996. Vreemder
as fiksie. Kaapstad: Human & Rousseau.
Dubrow, Heather. 1982. Genre.
Londen: Methuen & New York.
Friedkin, William. 1980. Cruising.
Film.
Hitchcock, Alfred. 1960. Psycho.
Film.
Singer, Brian. 1995. The
usual suspects. Film.
Sontag, Susan.1966. Against interpretation. New York:
Picador.
Sontag, Susan.1966. 1969. Duet
of cannibals. Film.
Sontag, Susan.1966. 1978. Illness as metaphor. New
York: Farrar, Straus & Giroux.
Sontag, Susan.1966. 1989. Aids and its metaphors.
New York: Farrar, Straus & Giroux.
Sontag, Susan.1966. 2008. Reborn. Early diaries
1947 - 1963. Londen: Hamish Hamilton.
Sontag, Susan.1966. 2014. Regarding Susan Sontag. Nancy D. Kates
(regisseur)