Daniel Hugo - Takelwerk. Human & Rousseau, 2015. ISBN 9780798169257
Resensent: Joan Hambidge
Ná die publikasie van Hanekraai (2012) by Protea, verskyn Takelwerk by Human & Rousseau, die digter se 14de digbundel.
Die digkuns van Daniel Hugo kan ten beste opgesom word as ’n bemoeienis met die
woord. Elke woord is goed gekies wat rym en klank betref en in die gedig word
elke woord afgeweeg. Die invloed van die digter D.J. Opperman is opmerklik,
maar nie steurend nie. Die titel aktiveer immers reeds die klassieke
Opperman-gedig “Digter”:
Ek is gevang
en met die stryd
êrens in die ewigheid
op ’n Ceylon verban
waar al my drange
na ’n verlore vaderland
my dag na dag geëiland
hou met horisonne en verlange,
en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers
wat groei tot boeg en mas
en takelwerk – en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.
Hugo is ’n vakman. Hiervan getuig die
behendige hantering van rym- en klankpatrone. Daar is ook genoeglike woordspel
aanwesig en dit doen nooit geforseerd aan nie; die teken van ’n suksesvolle
digter.
Hy spreek die liefde en veral godsdiens
aan. Die nostalgiese herinnering is daar en alles word verbind aan die tematiek
van bome (ingegee deur die voorblad). Siekte, dood (onder meer oor J.C.
Kannemeyer) is eweneens bekende Hugo-temas wat ’n sterk outobiografiese element
dra. ’n Mens dink onder meer aan die aangrypende lykdig oor sy broer, George.
Die soeke na geluk en vervulling (’n uiting
van die carpe diem-gedagte) teenoor die Calvinistiese jeug is ander merkers in
hierdie bundel.
Daar is ook humor aanwesig; die digter is
immers ’n liefhebber van die speelse vers. Hiervan getuig die gedig oor Tom
Gouws, “Sy paaie en sy pyn”:
Tom die Rymer het ’n hemelse Tom-Tom
hy ontwyk al die breë weë brom-brom
en as hy – sowaar - met ompaaie aankom
is die Hekke toe en die Interkom stom
Vir my is die vers “Literatuurgeskiedenis”
oor Kannemeyer uiters wrang. Dit word ’n komplekse verslag van ’n verloopte
mentorskap, maar ook ’n analise van hoe broos die menslike bestaan is; selfs al
was die persoon ’n versamelaar van boeke en optekenaar. Die digter loop in ’n
tweedehandse boekwinkel ’n boek uit Kannemeyer se “verstrooide nalatenskap”
raak. Só eindig die gedig:
hierdie boek breek my hart: John
was die grootste van ’n Gideonsbende,
bewakers van die gedrukte woord,
nou uitgedun tot snuffelaars
tussen stowwerige rakke, skamel
versamelaars van ’n taal se ellende.
Daar is kort haikoeagtige verse soos “Prins
Albert”; gedigte met netjiese slotte; kwatryne soos “Karoonagte”:
die peperboom registreer
wat die noordewind komponeer
in die toonaard – ’n mineur –
wat die uil sugtend suggeer
Daar is verder verse oor die grammatika van
liefhê en die netjies afgewerkte gedigte is vir die poësieliefhebber ’n plesier
om te lees.
’n Sentrale vers in die bundel is “Hospitale”
(30) met die toespelings op Eugène Marais, waar die dood telkens op
verskillende maniere gepersonifieer word. Die digter gee hom dikwels oor aan
die “diep en ongerymde dinge”, te wete die transgressiewe en die niepoëtiese
soos verwoord in “Klinies”. Hierom waarskynlik ’n gedig soos “Die rymwoord
pyn”:
sy kwaste staan in terpentyn
sy organe week in wyn
met sy inspirasie aan die kwyn
word bestaan vir hom venyn
al sy sinne rou geskryn
drink hy die terpentyn
In hierdie bundel is daar nie alleen ’n
gesprek met Opperman aanwesig nie, maar waarskynlik ook een met Ina Rousseau en
haar Eden-gedig. Hugo het haar gebloemlees en die verskillende boomgedigte
soos “Die eik en die plataan”, “Plataan” en die reeks “Stellenberg se eik” kan
as die sterkste in die bundel beskou word.
Dit praat saam met die voorblad, geskoei op
’n foto, wat die takelwerk van ’n liefdesverbintenis voorstel: hoe mense in
mekaar íngroei.
Daar is inderdaad versreëls wat kweel en
kwetter in hierdie bundel.