Saturday, March 14, 2015

Deon Meyer - Ikarus (2015)



Deon Meyer - Ikarus. Human & Rousseau, 2015. ISBN 9780798169776
Resensent: Joan Hambidge

I
Dit is waarskynlik onnodig om Deon Meyer te resenseer. Hy het sy getroue volgelinge. Die jongste stel beslis nie teleur nie. Die belangrikste merkers van die suksesverhaal word hier aangetref, te wete die nougesette navorsing en die inspeel op die werklikheid (daar is verwysings na Oscar Pistorius en Shrien Dewani, 48) wat die sogenaamde vraisemblance aktiveer.

Verder weet hy hoe spanning op te bou. Daar is ‘n lyk, ‘n lykshuis, ‘n uitkenningsparade, ‘n beskuldigde wat ‘n verklaring aflê voor ‘n vroulike advokaat.

Daar is Bennie Griessel met sy drankprobleem en post-traumatiese stres.

By Jane Austen is daar ‘n man, ‘n vrou en ‘n dans … en alles beweeg (dans) vorentoe.

Met Ikarus is daar die verdagte en die leser wat saam speurder speel.

II
Hierdie patroonmatigheid kan ook gesien word wanneer ‘n mens kyk na hoe die James Bond-films vervaardig is. En meer spesifiek Dr No (1962) en From Russia with love (1963). Met nougesette aandag is die figuur James Bond gekonstrueer: sy kleredrag, sy horlosie, sy wapen, sy humoristiese gevathede wat die regisseur Terence Young help skep het.

Veral die “voice over” oor die klassieke From Russia with love verduidelik presies hoe die film verloop: die kyker weet wie die moordenaar is en Bond is uitgelewer aan die meisie wat hy dink hom verraai. Maar uiteindelik deel hulle ‘n gemeenskaplike vyand, te wete SPECTRE.

III
Bennie Griessel en Cupido se rolle as good cop/bad cop, wat telkemale omgeruil word, rig die verhaal. Griessel se drankprobleem is deel van die spanning. Sy oordeel word aangetas en sy besoeke aan die sielkundige en Dok, sy ondersteuner, wys hoe sy lewe uitmekaar val. Sy vrou het hom verlaat weens sy jongste oortredings. In 'n spieël sien Griessel hoe hy agteruit gegaan het. Die leser word intens bewus van sy psigiese spanninge, die sogenaamde underbelly van die verhaal.

Cupido weer verloor sy afstand en raak emosioneel betrokke by 'n verdagte.

'n Moord moet opgelos word. Ernst Richer is vermoor, 'n berugte internet-entrepreneur en die skepper van die ruimte Alibi.co.za, 'n webtuiste wat jou help om via e-posse en sms'e 'n alibi te skep indien jy 'n transgressiewe lewe lei. Ontrouheid en leuens word verdoesel. Maar daar is afpersing en ondertussen word name aan die pers gelek. Die Son se verslaggewer is ook hier met sy valstrikke. Boonop het Bennie hom misdra in 'n kroeg en sy baas weet dit ...

Die speurders praat eg en aards, Kaaps.

Op 17 Desember word die lyk gevind en op 24 Desember begin 'n wynboer verklarings aflê voor 'n vroulike advokaat. Francois du Toit verklap sy hele lewe voor Advokaat Susan Peires. Ons sien 'n Afrikaner-dinastie se donker kant. Die leser word die speurder en dink soos die advokaat dat jy weet wie die moord gepleeg het.

Die handgeskrewe familieboom help beslis (42): Oupa Jean, Ouma Hettie; Pa Guillaume en ma Helena; Paul en "ek".

Die leser word behendig gefnuik deur 'n aanskoulike familiegeskiedenis ondergrawe deur  twis, gierigheid en psigopatie. Met verwysing na Shakespeare oor waar ons foute opgesluit is.

En die moordenaar is nie wie jý dink dit is nie.

IV 
Jy kan 'n straat in Belville sien. Stellenbosch word uitstekend beskryf en Hannes Myburgh van Meerlust word in die nawoord bedank. Wynbedrog (ofskoon die KWV se werknemers nie geraadpleeg is oor intriges in die jare negentig nie), berus op koerantargiewe en die skrywer fiksionaliseer die gegewe. Suiwer fiksie is dus nagestreef.

Maar die leser sien 'n plattegrond en weet wat werklik agter die skerms kan gebeur.

Neil Pendock het wel sy kennis gedeel.

Om tienduisend bottels Chăteau Lafite Rotschild te vervals met die rooi seël en wit-en-swart-logo met sy unieke vorm (vyf pyltjies op die buitekant van die bottel) speel eweneens in op die wending in die roman. En wynvervalsers weet dat wynkenners nie vir ape gevang wil word nie; so hulle sal hulle wynbekke hou! Net soos daardie keer toe Kaliforniese wyn Franse wyn getroef het by 'n blinde wynproe. En wynkenners weet dat Frankryk se wyne strawwe kompetisie het uit sowel Kalifornië, Australië en Suid-Afrika.

Vervalsing en kompetisie is belangrike kodes dus. Net soos identiteite op die internet vervals kan word.

Klein Zegen is nie Welgevonden nie. En jakarandas as 'n uitheemse boom (Jacaranda mimosifolia) is 'n belangrike leidraad oor wáár die moord plaasgevind het.

Die forensika is uitstekend nagevors nes die pligte van die speurders en hul afkeur aan administrasie.

Sarah Woodruff uit John Fowles se The French Lieutenant's Woman is eweneens 'n belangrike kode vir Tinder. Twee eindes (o.a.) in die roman.

Foonapplikasies, sms'e en wie het wanneer vir wie gebel, word deel van die speurtog. Nes die twiets wat alles verder kompliseer.

Uiteindelik lewer hierdie boek kommentaar op ons samelewing waar moord en doodslag deel van die bestaan geword het. En daar is genoegsame toespelings wat die boek begrond in die werklikheid van die hier en nou. Ons is deesdae almal sitkamer-speurders wanneer 'n moordverhoor gebeeldsaai word, en kenners van dolus eventualis.

Ons is in 'n Bennie Griessel-dossier. Met Ikarus wat te hoog gevlieg het.

And about suffering they were never wrong ...

V
Nes Ian Fleming en Terence Young is jy in veilige hande. James Bond ken sy wyn en whisky. Hy eien 'n jaartal van 'n whisky. En as M hom korrigeer, stel hy reg met 'n ek verwys nie na die jaar van die whisky nie, maar na die vaat of kuip waarin dit verouder is.

Die roman beweeg die hele tyd op twee vlakke. Deon Meyer slaag daarin om al die balle in die lug te hou in hierdie fassinerende speurverhaal.

Wie het geskryf die vyande van wyn is hulle wat dit nie ken nie? En wát drink Bennie Griessel after all?

Gee vir Deon Meyer 'n Bell's!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)