Wednesday, November 19, 2014
Rubriek: Die stand van sake
Die funksie van keurverslae en resensies is om ‘n kritiese en gedistansieerde reaksie op ‘n boek te kry. ‘n Resensent skryf ‘n eerste, kritiese reaksie op ‘n teks, wat ingelig en eerlik behoort te wees.
Binne ‘n klein letterkunde is alliansies en vriendskappe uiteraard daar. My vriendskap met Johann de Lange is bekend, maar wanneer hy ‘n boek aan my opdra, resenseer ek dit nie. Ek is besig met ‘n studie oor sy werk – krities en gedistansieerd – maar ons vriendskap vorm nie deel van hierdie projek nie. Trouens, ons verskil oor etlike letterkundige kwessies.
Nou onlangs vra ‘n webmeester van ‘n digkuns-webblad vir my om ‘n bundel te resenseer. Ek wys dit van die hand, omdat ek die eksaminator was van die MA in kreatiewe skryfwerk aan ‘n ander universiteit. Ek was onder die indruk van die bundel, maar het tog gevoel dat ‘n resensie ‘n duplisering van my mening oor die bundel gaan wees. En dat ek deel was van die totstandkoming van die bundel met aanwysings en kanttekeninge. So gesien, dus deel van die proses.
Net so min as wat ek my studente resenseer wat binne die kreatiewe kursus aan die UK onder my werk en publiseer, vind ek dit nie in orde nie wanneer iemand in die kursus (wat dus nog nie gepubliseer het nie), ‘n pas gedebuteerde resenseer en allerlei wyshede die wêreld instuur. Ek resenseer ‘n klasmaat, of voormalige klasmaat; hoe “objektief”, “gedistansieerd” kan dit wees?
Vanoggend maak ‘n kollega in die Engelse departement my daarop attent dat daar sopas ‘n resensie van In a burning sea verskyn het, en, voeg hy fronsend by, ek meen die kritiek in die Cape Times is deur Brink se vrou geskryf? Het Brink dan nie die voorwoord geskryf en gehelp met die keuse van die gedigte nie? Dit het 14 November verskyn.
‘n Nederlandse klassikus het sopas Fragmente uit die Ilias van Cas Vos aangekoop en die resensie op die Versindaba gelees. Die resensent, ene Gerhard Swart, dosent in Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria, word bedank in die voorwoord vir die wenke wat hy aangebied hy by die vertaling. So wie resenseer Swart? Cas Vos of homself? Hierdie grys area maak my dadelik waaksaam vir die geldigheid van die resensie ten spyte van die goeie insigte en die waarde van die uitgebreide inleiding.
Teen die einde van die resensie skryf Swart: “’n Kunstenaar wat sy kunsvorm goed beoefen, verdien applous; ontvang applous; erken applous.”
Koos Kombuis skryf ‘n lesersindruk op Litnet oor Herman Lategan se Binnekring van spookasems, met ander woorde, hy vertel die storie agter die storie en hoe dit gekom het dat hy die “shout” vir die boek geskryf het. Dis ‘n lieflike, skreeusnaakse verslag, maar die leserreaksies onderaan laat blyk dat dit tóg as ‘n resensie ervaar word al is dit ‘n rubriek, en ons word dan ook verwys na die werklike (?) resensie deur Martie Meiring-Retief.
Nou onlangs word ek gevra om In a burning sea te resenseer. Ek verklaar onmiddellik dat ek hierin opgeneem is en sou miskien oor die vertalings iets kon uitwys. Beide die boekeredakteur en ekself besluit wyslik oor ‘n koppie koffie dat dit nie korrek sou wees nie. Nie heeltemal verkeerd nie, maar soos om ‘n bed te deel met die keurder/inleier van ‘n bundel wat jy resenseer in die openbare domein. Boonop staan daar: “André Brink’s introduction gives a short historical overview of Afrikaans poetry and its various trends, placing the selection in context.”
Miskien het die kultuur rondom sosiale media soos Facebook tot gevolg gehad dat grense vervaag. Dat alles gemoedeliker geraak het. Dat ons sommer gou-gou iets skryf en “post” en nie nadink oor die langtermyn-implikasies in 'n vinnig veranderende wêreld nie.
Maar dink daaroor na. Die resensie mag positief en gloeiend wees, maar die ingeligte leser is skepties, en op die lange duur is dit nadelig vir die boek en die hele bedryf waartoe sowel skrywer as leser behoort. En die proses van kanonisering kan nie ligtelik opgeneem word nie.
Daar was ‘n tyd toe D.J. Opperman, ‘n gesiene kanoniseerder, sowel keurder was vir Tafelberg as Human & Rousseau uitgewers. Nodeloos om te sê: dit het gelei (gely?) tot konflik en ongelukkigheid wanneer ‘n digter tweekeer afgekeur word deur dieselfde keurder!
Hierom skryf ek keurverslae onder my eie naam en versoek ek altyd dat daar by ‘n tesisverslag my naam geplaas moet word.
Want dis belangrik. Wie het wat en wie het wat waar geskryf.
Joan Hambidge
Kaapstad, 18 November 2014