Antjie Krog - Mede-wete. Human & Rousseau, 2014. ISBN 978-0-7981-6787-1
Resensent: Joan Hambidge
I
Dit is Krog se eerste bundel in agt jaar. Hierdie
langverwagte bundel open met ‘n aangrypende vers oor die dood van haar vader.
Die bundel handel oor familieskap in al sy vorme: die verhouding met die ouers,
kinders, kleinkinders, maar ook die familieskap met taal en die land van
herkoms.
mirakel
ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak
ek het geen ander land
as dié land nie (30)
Hierdie bundel het onder andere tot stand gekom, terwyl die
digter met 'n DAAD-beurs in Berlyn kon navorsing doen. Hierom die afstand oor
die (Suid)-Afrikaanse wêreld
en die beskrywing van die beklemmende politieke werklikheid waarin alles op ‘n
daaglikse basis afgetakel en omgekeer word. Die politieke werklikheid is ‘n
ontstellende een, ónafhanklik van die plek waar jy staan, links of regs, wit of
swart. Die bundel heet Mede-wete. Ons
hoor medepligtig, met wete, met insig. Ook die leser word mede-speler,
mede-skrywer.
II
Krog debuteer in 1970 met Dogter
van Jefta. Hierna verskyn vele bundels en etlike keurbundels soos Digter wordende (2009), kinderpoësie, prosa, nie-fiksie – soos die
belangrike Country of my skull
(1998), ‘n Ander tongval (2003), Begging to be black (2010), onder
andere.
Daar is ‘n monografie oor haar geskryf deur Louise Viljoen waarin die
belangrikste kodes en temas uitgewys word. Nou onlangs het ek soos volg ‘n versameling opstelle van haar werk
geresenseer in Rapport. [1]
In die jongste bundel vind ons die woedende Krog, maar woede
word telkens afgewissel met teerheid. Verset teen taal en gesag - soos die skutblad
verduidelik - is die onderstroming van hierdie bundel met toespelings op Paul
Celan se digkuns, verwysings na C.G. Jung, Drucilla Cornell, J.M. Coetzee,
Lacan, Spivak (radikale alteriteit of die herkenning van die Ander, wat jou
omskryf of inbeperk), e.a. Celan se eksperimentering met taal vind uiting in
hierdie bundel met gedrongenheid en taaleksperimente. So gelees word hy 'n
"boksmaat, skermmaat".
Die eerste afdeling "die werf" situeer die
plaaslewe met motto's van ouer digters. Werf in die sin van begrensing word
hier geaktiveer in gesprek met die familie. By die begrafnis van die vader
dring die moeder daarop aan dat daar voorgelees moet word uit die Ou Vertaling.
Dus, op bevel van die moeder, die matriarg, en skrywer in eie reg, Dot Serfontein,
met die dogter as teenpool en waarnemer en optekenaar. Telkens word die jonger,
politiek-bewuste Antjie Krog, geplaas teenoor die stoere wêreld van die
Vrystaat.
Daar is ook 'n "vlammestriem van verlange" (18) te bespeur
in hierdie gedigte met hul sterk melancholiese en eerlike aanslag. In "die
boesman" (19) is die kind getuie van geweld teen die Ander, iets wat later
in die gedig "hou jou oor teen die skeur van my land" (28 - 29)
aangespreek word deur die ouer waarnemer, wat indertyd by die WVK getuie was
van pynlike belydenisse en mense se onmag om die "interverbondenheid"
tussen wit en swart te aanvaar. In "dis hy!" (22) word 'n swart man
haar vader; sou hy haar vader kon word / wees in 'n versoenende, aangrypende
vers wat afspeel in die verbeelding.
III
Die sterk politieke gewete word in 'n tweespraak, wat
“bediendepraatjies” (60) heet, uitgewerk
waar sowel die swart vrou as die wit een, aan die woord gestel word.
Tweegesprek dus - met erkenning aan die vertaler Balisa Finca. Dit is weliswaar
minder gedronge, en hierom minder oortuigend as die ander sterk, gelade verse;
altans vir hierdie leser.
Die gedig oor Mandela is 'n sterk politieke vers, die enigste
een, behalwe Johann se Lange s'n, wat my indertyd oortuig het as volwaardige
gedígte by sy afsterwe en nie opportunistiese rympies nie.
Die stemlose word stemhebbend gemaak in Krog se digkuns en
haar genderpolitiek is 'n ongebreidelde opstand teen die falliese en
fallokratiese orde. Bemagtiging, selfsug, selfvoldaanheid kom telkens in haar
visier. Wanneer ‘n jong seun beskryf word (“junior”, 36), vra sy haarself af
waarom moet daar iets word van ‘n seuntjie? Hierdie vers word geplaas teenoor
‘n gedig oor ‘n dogtertjie: “om in ‘n dogtertjie se kamer te slaap” (37) waarin
die rol van vrouwees gedekonstrueer word. Die vrou sal moet gelukkig wees met
“besdoen”, met jou lewenslot aanvaar. Hierdie gedig tree implisiet in gesprek
met Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” waarin genderrolle
ook uitgewerk word, maar by Krog is daar onteenseglik woede en opstand aanwesig
by “die Tannie”!
Die genderpolitiek word geplaas teenoor die politieke onreg.
Daar vind in hierdie bundel telkens ‘n dubbelgesprek plaas: landspolitiek
téénoor persoonlike politiek of genderverskille. 'n Mens word nie 'n vrou gebore
nie; jy word een gemaak, hoor ons De Beauvoir in die agtergrond praat.
IV
Die sterk beeldende vermoë is daar, die eiesoortige ideolek
("antjiekaans"), die gebruik van die plat of skokkende woord, Bybelse
verwysings, die gebed wat ook ars poetica word ("moniaal", 41), die
sterk narratiewe draad wat verskillende wêrelde saamsnoer (ook ontrafel) en die
sillabeversteurings as belangrike kodes vir oopmaak van hierdie bundel. Krog is
die meester van klank in 'n gedig; hierom leen haar verse sig tot uitstekende
voordragte. Krog het reeds haar eie idiotikon opgestel; frases en uitdrukkings
waaraan jy haar kan herken.
Die digter voorsien ons ook van 'n bronnelys waarin sy bely
dat sy soms en soms sonder erkenning iets oorneem. Bachmann, Fanon, Cornell,
Hamburger, Versfeld, Spivak (die subaltern), o.a. word leidrade vir die
speurende leser wat die filosofiese onderbou kan uitsnuffel. Daar is etlike morele vraagstukke wat sy
uitwerk rondom kos en eet, verruklik verwoord in "sondagmiddagete"
(26). Daar is humor, soos 'n rusie oor 'n familie-legende van die skoonpa wat
'n vyfsentstuk vir die Ontvanger teruggeneem het (88). Daar is 'n skerp blik - ongeromantiseerd - op
die ellendes van die nuwe-Suid-Afrika wanneer die spreker 'n dokterseun bel op
Volksrust met slegte ontvangs. 'n Babatjie sterf in Ongevalle weens die
"standaard-equipment" wat nooit nagegaan is nie.
V
Vir my is die aangrypendste gedigte die verse oor die kinders
en kleinkinders. Nou onlangs het ek weer Rika Cilliers en Johann Johl se
antologie Bloeityd (1993) gelees en
die wye skakering van kind(er)gedigte in Afrikaans beskou. Krog romantiseer nie
die verhouding tussen (groot)moeder en kind nie. Sy skryf eerlik hieroor, opreg
- en sy wys op die komplekse simbiotiese bestaan tussen moeder en kind: dat die
geboorte van die kind die einde van selfkoestering is en 'n leeflange
vervolging aandui ... Jy voed as't ware die mond wat byt (84). Paradoksale
toestand van geluk én weerloosheid.
"convivium" (82) - geskryf in samewerking met die
Berlynse astronoom Hans Zinnecker - tree in gesprek met De Lange en TT Cloete
se gedigte oor die universum.
Siekte ("vervalle sillabes in bloei", 96) en die
vrees dat 'n geliefde verloor kan word, ruk aan die hart. 'n Huweliksrusie het
nie sy gelyke in Afrikaans nie ("toe die jongste kind", 101) waarin
die lewensgetroue vloekwoorde en skunnighede vergestalt word. Hierom steur die persoonlik-anekdotiese
"ter herinnering" (105) waarin 'n besondere vriendskap beskryf word,
maar die kragdadige aanslag van vintage-Krog
mis.
Uiteraard is daar besinning oor die eie dood ("as ek
doodgaan", 102) waarin sy die versugting oordra om panteïsties deel te
word van die aarde. Gelees teen die agtergrond van "connected in
Berlyn" (55) waar moderne tegnologie 'n antwoord word op metafisika. Of die
pragvers "12 weke 4 dae sonar" (40) wat terugspeel op gedigte in Mannin en Beminde Antarktika (1975) waar die belewenis van 'n swangerskap ook
'n ars poëtica word.
Die slot-afdeling "vier pogings in linguistiese
sinaps-opsporing" - opgedra aan Jakes Gerwel - is Krog op volle vaart in
haar tweegesprek met Celan.
tong gevolmag
die son sniert
die nagberg nierts
Celan (1920 - 1970) was sowel digter as vertaler, nes Krog
ook beweeg tussen verskillende tale en diskoerse, ofskoon sy in Afrikaans op
haar beste is. Die Duitse digter se naam is 'n opgemaakte naam, saamgestel uit
die sillabes van sy regte naam, Paul Antschel. Krog is Anna Krog; sy is ook
Anna Samuel. Sy is Antjie. Lady Anne. Celan moes die Joodse vervolging verduur
en die dood van vriende verwerk. Krog was openbare optekenaar van sosiale
ongeregtigheid hier te lande. Die Romeens gebore Celan moes die dood van sy
ouers beleef ...
Sy verhouding met Ingeborg Bachmann - sy toeverlaat - kon hom
egter nie red van sy selfdood in Parys nie.
Sy gedronge gedigte - dikwels gewoon 'n verwringing van die
Duitse idioom - het vele modernistiese digters geïnspireer. Ook sy
verheerliking van die digkuns, te wete dat daar niks is waarvoor die digter sy
digkuns sal opgee nie, is eweneens 'n refrein in Krog se werk.
Beide Celan en Krog moet gesien word as waarnemers van
ongeregtigheid.
Met poësie as 'n uitweg.
Beide moes ongeregverdige aantygings oor onoorspronklikheid
verduur. Beide is deur die literêre sisteem geglo en in ere herstel.
VI
Dit is 'n sterk bundel. Een vir nadink, herlees, herbesin.
Dit wil opstand en teenspraak by die leser inskerp. Met 'n voorblad na 'n
kunswerk van Otobang Nkanga.
Die buiteblad: twee koplose figure wat toutrek. Maar daar is
'n vlier. Die digkuns dus as verlossing. Maar ook as toutrekkery.
Wegbeweeg - as ons kyk na die
hooftooisels - maar ook verbind, verbonde, verband(e). Nes Krog altyd verbonde
bly aan haar plaasagtergrond en hierom praat sy Afrikaans met 'n Hebreeuse
kleinkind in die vreemde.
Ons sal nooit die prys wat Krog moes betaal om al die
ellendes van hierdie land aan te hoor, kan takseer nie:
die aarde het ek in my mond geneem. 'n verhewigde land
probeer begryp. daarvan herstel ek nie weer nie
(112)
'n Resensent met karige insig het onlangs geskryf dat 'n
bundel voortaan dié bundel sal wees waaraan elke ander bundel gemeet sal word.
By die lees van Antjie Krog se Mede-wete
besef 'n mens hoe onsinnig sulke waardeoordele is. Daar is Breytenbach, daar is
Cloete en ja, daar is Lady Anne.
Endnote:
1. Antjie Krog: An ethics
of body and otherness
Redakteurs: Judith Lütge Coullie en Andries Visagie
University of KwaZulu-Natal Press, 2014
341 bladsye Sagteband
ISBN 978 186914 253 7
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie bundel bevat 'n handvol artikels oor die Antjie Krog,
sowel digter as openbare figuur. Daar is 'n litograaf van Claudette Schreuders
op die voorblad wat heel gepas heet "Public figure" (2008).
Krog se digkuns verwoord die volledige gestalte van vrouwees:
jong kind, vrou, moeder, geskeide vrou, vrou met (politieke) agentskap. Sy is
'n veel bekroonde digter en openbare figuur en veral Country of my skull oor
die WVK het haar gevestig as 'n internasionale figuur. Haar gedigte bestaan ook
in vertaling, ofskoon die Engelse gedigte die chora of "underbelly"
van die oorspronklike taal mis. Dit is "down to my own skin" en vir
my gevoel te gestroop; soos vleis waarvan die vetjies afgesny is.
'n Paar kanttekeninge: as 'n leser van Krog is van die
bydraes van buite insiggewend. Dit is immers altyd relevant om te verneem hoe
die lesers van ander tale reageer op die Afrikaanse letterkunde. "Running
with the jackals" van Anthea Garman bekyk die rol van Krog as joernalis.
Krog se werk by Die Suid-Afrikaan en as verslaggewer by die SABC waar sy die
verrigtinge rondom die TRC weergegee het, gee 'n opsomming van haar aanslag as
'n aweregse, dwars en belangrike kommentator. Trouens, hierdie artikel som die
konflik tussen die estetika en politiek die beste op. Haar werk wys immers op
die domein van vrouwees - in navolging van verskeie feminismes - as 'n
gepolitiseerde ruimte. In Met woorde soos
met kerse gee sy stem aan die stemloses en wys sy op die verskillende
taalsisteme wat langs mekaar bestaan in buurskap sonder kennisname, sonder
respek. Krog as orator en digter van die praatvers sluit dan ook aan by die
swart orale tradisie, want vir haar is poësie in die eerste instansie, klánk.
Ons lees in hierdie boek hoé Krog se media-kapitaal werk en
openbarend, soos veral Louise Viljoen uitwys, die moeder die jong kind beskerm
het teen die ongenaakbare media-blootstelling en as ‘n soort buikspreker
opgetree het. Die intrede van Opperman as mentor (en die jarelange inskryf en
wegskryf van hom en ‘n MA-verhandeling oor sy werk), openbaar ook aan die leser
dat Krog aan twee sisteme tegelykertyd behoort het: die politieke sisteem en
die Afrikaanse digterlike sisteem. In beide gee sy ‘n stem aan die
stilgemaaktes en as digter het sy op ‘n opwindende wyse – soos Johann de Lange
– die skunnige en transgressiewe woord tot poëtiese woord verhef. Die rol van
fiksionalisering in haar prosatekste (hoe sy konflik verplaas van haar dogter
na haar eie verhouding met haar moeder, Dot Serfontein) en die impak van Country of my skull as skokkende teks,
is eweneens tersaaklik.
Daar is twee stewige bydraes van Louise Viljoen in hierdie
bundel opgeneem.
Krog is 'n figuur met geweldige simboliese kapitaal. Dit bly
altyd opwindend om die gesprek tussen Krog, Opperman en Eybers na te speur. Kim
Rostan wys ook op die rol van personas in
haar werk en in welke mate veral Country
of my skull ‘n komplekse teks is van “waarheid” en fiksionalisering. Daar
is eweneens uitsprake oor die rol van vertaling en haar siening van
“antjiekaans” en die gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse gedigte. Dan
Wylie skryf regstellend in “Now strangers walk in that place” oor die gebruik
van die Bleek/Lloyd-materiaal.
Hierdie bundel ondersoek haar invloed as literêre figuur, as
vertaler, as politieke ikoon, as joernalis en as feminis.
Die indeks is onvolledig.
In ‘n tyd waar die publikasie van akademiese tekste al hoe minder word, is hierdie boek
van uiterste belang.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)