Henning Mankell - An Event in Autumn. Random House, 2014. ISBN 9781846558078.
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie roman vorm deel van ’n BBC-reeks met die Britse akteur Kenneth Branagh in die hoofrol.
Dat ’n gesogte Shakesperiaanse akteur in so ’n reeks optree, bewys teoretici reg: die grense tussen populistiese en ernstige literatuur is besig om te vervaag.
Boonop bevat hierdie novella ’n essay (“How it started, how it finished and what happened in between”) waarin Mankell verduidelik hoe hy die rassisme van sy gemeenskap wou aanspreek en die naam van sy hoofkarakter, Kurt, in ’n telefoongids gevind het – die naam Wallander is “common, nor too uncommon”. Die karakter is ook in sy lewensjaar gebore (1948) wat die leser bewus maak van die spel tussen werklikheid en fiksie. Verder bely hy die invloed van die Griekse dramas op sy skryfwerk.
Ek is gaande oor reekse en die Wallander-reeks is boeiend. Die noir-aanslag en melancholie van sowel die films as die romans, word besonder goed verbeeld.
An Event in Autumn begin met die ontdekking van ’n geraamte in ’n tuin. Wallander, met die hulp van sy dogter, Linda, konfronteer die moordenaar. Geduld blyk die wagwoord te wees van hierdie speurder wat sukkel om ’n rekenaar onder die knie te kry, maar geweldige insig het in die psige van ’n moordenaar.
Dit wentel om huishoudelike geweld, die selfdood van ’n moordenaar, en vadermoord.
Was dit ’n geregverdige daad?
Mag ’n kind sy vader vermoor omdat die moeder verneder en verminder is?
Hieroor tob die leser saam met Wallander en ’n mens lees hierdie roman – wat goed geskryf is – om agter die kap van die byl te kom (by wyse van spreke).
Mankell beskryf sy landskap goed. Die leser kan Skåne altyd in die geestesoog sien en enige landskap maak hy vir jou oop. Onder andere ook Pole ...
Hierdie outeur is nie alleen ’n blitsverkoper nie, maar die Universiteit van St. Andrews het ’n doktorsgraad aan hom toegeken vir sy bydrae tot die letterkunde en tot sosiale bewusmaking en geregtigheid. ’n Mens wonder hoe hulle sou reageer op die troebel psige van ’n Georges Simenon wie se lewe daar anders uitgesien het?
In sy naskrif bely Mankell dat Wallander nou aftree as speurder.
Bepaald jammer, maar gelukkig is daar deesdae so ’n oorvloed van goeie speur- en misdaadverhale dat ’n mens hierdie as ’n tydelike verlies sal ervaar.
Daar is immers Sherlock Holmes (ook in nuwe reekse) en ja, dan altyd die koningin: Agatha Christie.
En terloops, ek koop ook nie die afbreek van grense tussen populistiese fiksie en hoë literatuur nie. Laasgenoemde kan wel hierdie kodes gebruik soos Umberto Eco al vir ons bewys het.
Maar Ruth Rendell of Henning Mankell is beslis nie Nabokof nie.
Henning Mankell
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)