Charles Fryer (1946 - 2014)
Ek knip my naels so eksie-perfeksie
vir my indertydse uitgewer
vir die man met die groot-groot lag
vir hóm met die bont-bont das
in wie se netjiese hart
soveel onrustige digters kon pas.
Sonder horlosie op die arm
potlood in die hand
stip hy nougeset
in die kantlyn vrae aan
oor 'n rymdwang, slot
of onsoepele toespel.
Nou is die sirkel voltooi
en die o-klanke
van mý klein rooiwielwa
sou hom beslis nie ontgaan.
Heengaan, weggaan, trustaan?
Gaandeweg verlaat ons tog dié spel.
In die omtes van jou groot-groot hart,
vergeef tog dié ongebreidelde smart:
"van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa."
Dit prik, dit vlym, dit skryn
hierdie afskeid aan die Hantam-man.
© Joan Hambidge
*
Ek het intiem met Charles Fryer saam gewerk met my bundels Geslote baan (1988) en Lykdigte (2000).
Ook het hy die satire Die
swart sluier (1998) versorg met die
gekke buiteblad deur Piet Grobler. Die satire het hy gate uit geniet. Dit was
ook my eerste kennismaking met Susan Bloemhof, wat later sou sorg vir etlike
ontwerpe vir my waarvan die hoogtepunt Lykdigte
bly.
In 1988, so om ag die aand lui my foon. Dis Charles. Geslote baan gaan moreoggend drukkers
toe en hy wil net weet of ek gelukkig is met ‘n woord wat ek in ‘n gedig
gebruik het.
Stipleser. Nougeset. Met proewe waarop sy ronde handskrif
staan. Oor hierdie bundel het hy vir my
geskryf: ”Die gedigte is subtiel. Maar onder alles kan ‘n mens die pyn voel
prik.” Hierna het ek hom beter leer ken en ‘n hele paar keer met hom en Petra
Grütter
tee gedrink en Danie van Niekerk, toe die hoof van Tafelberg, leer ken.
Hierna het ons paaie (tydelik) geskei en toe ek met Interne verhuising in 1995 na hom toe is,
was hy nie gelukkig met die bundel nie. Ek het dit later uitgegee by Kagiso,
wat my roman Die Judaskus gepubliseer
het.
My grootste waardering vir Charles het egter in 2000 gekom
met die bundel Lykdigte.
Ons gaan vir oulaas die bundel deur. Charles se horlosie is
afgehaal en hy sit met ‘n potlood en werk aan die bundel.
“Hierdie gedig is nie klaar nie, Joan,” gee hy raad op sy
sagte manier. Ons het ook altyd ‘n speelse, grappige manier van gesels gehad.
Die gedig lui aanvanklik so:
14 Vraag
Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap?
Sodat sy blind moes uitkom aan die anderkant?
Dit handel oor die dood van my kollega, Maggie Mezzabotta,
dosent in Klassieke Tale aan die UK en iemand met wie ek gereeld kon gesels oor
klassieke verwysings. Sy is een Sondagoggend oorlede toe sy in Fresnaye afgery
het en ‘n man oor ‘n rooi robot gejaag het. Haar eggenoot, ‘n bekende veearts,
het ‘n ruk later op die ongeluk afgekom.
Charles stuur my na die aangrensende kantoor waar ek die
gedig in een sitting klaarskryf. Na Maggie se dood, het ek en haar man en twee
ander vriende na ‘n wynplaas gegaan. Haar man stukkend oor haar dood,
verduidelik vir ons dat ‘n bottel wyn aan “bottelskok” ly indien
dit te gou oopgemaak word.
Vraag
Vir Margaret Rosabel Mezzabotta
Ontydig, voortydig jou vertrek
na ‘n ander onbekende oord.
Die siel, onthou ek vanoggend,
is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.
Iets glo soos bottelskok
as dit te gou ontkurk of geskink word.
Jy sou my dadelik kon reghelp:
dit staan in die Egiptiese Boek van die Dood.
Om jou dood te begryp
is ‘n hiëroglief onontsyferbaar
in ‘n donker gang onbegaanbaar.
Die dood keer woordordes om,
dit laat ons terugkyk, onthou, selfs gryp
na klein momente van die toeval –
soos hoe ek eenmaal jou bril skoongemaak
het, oor duister simbole met jou praat.
Vir hierdie lykwaak, groot gelykmaak,
is ek as digter onvoorbereid,
nee, eerder onbereid.
Die sogenaamde consolatio of vertroosting
van ‘n medium (Kyk, sy stuur ‘n roos)
of die flikker van ‘n kers
maak niks ongedaan nie. Wat beteken ontval.?
Dat jy te vinnig – na my sin –
paradyswaarts
moes gaan. Dat jou siel
oënskynlik sonder voorbereiding
weggeruk is. Dat rose verwelk,
kerse ophou flakker…
Ek wou nog vra:
“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap
sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”
Charles Fryer was in eie reg ‘n uitmuntende digter.
Weens ‘n siekte moes hy voortydig sy werk verlaat – ‘n slag
vir die uitgewersbedryf as sodanig, want Charles Fryer kon ‘n boek agter die
manuskrip gaan haal en regruk.
In 1978 verskyn Rooiwielwa – sy helder debuut. Dit is jammer dat hy ons ontval het sonder dat sy digkuns
volle wasdom kon bereik het, jammer dat daar nie nog verse uit hierdie wonderlike mens gespruit het nie. Dalk was dit omdat hy al sy energie in ander se skryfwerk geplaas het.
Ek sal hom altyd eer vir hierdie treffende gedig:
Oulaas
Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan ’n handvatsel.
Dis half swaar, Pa.
Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.
Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.
Pa het dié tyd
altyd
’n bietjie gaan skuinslê.
Calvinia, 1970
© Charles Fryer