Thursday, August 29, 2013

The Verwoerd who toyi-toyied - Melanie Verwoerd (2013)



Melanie Verwoerd. The Verwoerd who toyi-toyied. Tafelberg, 2013. ISBN: 9780624057383.

Resensie: Joan Hambidge

I,

Op die buiteblad word hierdie outobiografie aangeprys deur biskop Tutu en Roger Moore. Inderdaad die voormalige James Bond. Maar kom ons begin by die gegewe wat hier aangepak word: dit is ’n verhaal, meer spesifiek, ’n lewensverhaal, ’n apologia pro domo van ’n jong vrou wat by verskillende geleenthede stroomop opgetree het. Melanie Verwoerd het die aandag getrek toe sy as jongmens by die ANC aangesluit het. Hierna word sy politikus en lid van Mandela se eerste nierassige parlement. Sy word ambassadeur in Ierland en hoof van UNICEF-Ierland en raak betrokke by Gerry Ryan, die Ierse uitsaaier. Vervreem van sy vrou, maar nog nie amptelik geskei nie, omdat egskeidings daar sloer.

Die outobiografie en biografie as letterkundige teks interesseer my. Dikwels is daar besonderhede wat die subjek anders laat vertoon as wat hy of sy miskien bedoel het.

In 2008 het Gerry Ryan se outobiografie verskyn; gaan goegeloer gerus oor hom. [1]


Nou moet ek bely: ek het die laaste gedeeltes eerste gelees. Die beskrywing van die verhouding met Gerry Ryan word in besonderheid vertel. Hoe hy haar inspireer het, laat lag het, en ons lees hoe hy haar gevra het voor sy dood om ’n boek te skryf, want hulle sou hom uitmaak as ’n “evil bastard” (256). So beskou, is hierdie boek dan ’n soort regstellende aksie. Dit wil die leuens en wanvoorstellings rondom hierdie mediapersoon regstel. Met bekendheid kom daar ’n prys: bemind en onbemind.

Ons lees ook lang gesprekke oor sy Gerry Ryan se populariteit, hoe sy vriende nie vir hom wou geld leen toe hy in nood was nie, oor sy liefdevolle verhouding met haar twee kinders, en les bes sy gesondheidsprobleme. By herhaling versoek Melanie Verwoerd hom om dokter toe te gaan, maar hy skryf dit bloot af as stres. Ons lees hoe sy – saam met haar seun – sy lyk gevind het en al die reaksies van ander oor sy voortydige dood. En ellendes wat net nie ophou nie: sanksies rondom die begrafnis, die media wat baljaar, verraad …

Daar is immers skouers geskuur met Bono. As lid van UNICEF is daar kontak met Liam Neeson, Vanessa Redgrave, Annie Lennox …

Die foto’s verklap iets hiervan.

Die kulturele verskille tussen Ierland en Suid-Afrika is onthullend, en ook hoe die Iere daarvan hou om mense te “bespreek”.

Die spanninge rondom die “coroner’s report” word eweneens onthul. Die pers se inbraak op privaatheid. Rusies oor besittings wat aan haar behoort het. ’n Onderhoud om sake reg te stel en al die ronddanserye en dubbelpratery hieromheen.

Die begrafnis:

 Bono se reaksie:



Op bladsy 295 verneem ons: “The pathology report found that Gerry had been drinking the previous night. It also indicated the presence of Xanax and the sleeping pill in his blood, as well as trace amounts of cocaine.” Met hierdie inligting hardloop die pers dan. Die boek lewer skerp kommentaar op die rol van die pers. By meer as een geleentheid moes sy die pers se harteloosheid verduur.

Tereg het Gerry Ryan twee keer gesterf: eers letterlik en toe nadat die pers met die gegewe begin loop het. Met Melanie Verwoerd wat strykdeur haar geliefde verdedig. Onthou, sy moet. Haar geliefde het immers gevra dat sy ná sy dood die waarheid moet vertel. [1]

II.

Die lewensverhaal begin by ’n optekening van die familieromanse (soos Freud dit noem). Die grootouers is ’n model vir haar soeke na geregtigheid, en die invloed van haar ma, ’n briljante vrou, is kennelik van belang. Die verhouding met die alkoholis-pa word met soveel eerlikheid vertel. Hier sluit sy aan by die nuwe tradisie in Afrikaans, waar kinders die feilbaarheid van die ouer sonder skroom onder die loep neem.

Haar politieke ontwaking en huwelik met Wilhelm Verwoerd word in besonderhede gekarteer. Haar liefde vir haar kinders en die impak wat die aansluiting by die ANC gehad het, word eweneens belig. Dit is ’n lewe wat van meet af aan ’n opdraande stryd inhou: sy is immers ’n feminis, studeer teologie aan die Universiteit Stellenbosch en bevind haar in ’n tradisioneel manlike wêreld. Oxford word ’n basis vir haar eggenoot – ook hier sien sy die patriargie in aksie.

Sy is bloedjonk toe sy die politieke arena betree, maar sy maak ’n verskil. In die nag gaan lewer sy ID-boekies af vir mense sonder adres in ’n township. Daar is etlike kere wat sy ’n boer op sy plaas aanpraat oor hoe hy sy werkers behandel. Hier is daar werklik ellendes waaroor ’n mens jou net kan skaam.

Haar stryd met ’n bank en ’n patriargale gemeenskap – veral op die wynplase – maak van hierdie boek ’n belangrike feministiese dokument. Dieselfde wynboer wat haar beledig het, is in Ierland ’n gas waar sy ambassadeur is.

Die verskeurdheid ervaar ’n mens wanneer die eise van moederskap en die einde van ’n huwelik sy tol begin eis. Oor haar gesondheid skryf sy deurgaans.

Die Stellenbosse gemeenskap en hul reaksie op haar politieke “verraad” word ’n belangrike tydsdokument. Wilhelm Verwoerd se spanninge met sy ouers is ook daar. Maar daar is ook bystand en geesgenote: Anton van Niekerk, Annie Gagiano, Wina du Plessis – en vele swart susters in die stryd.

Wanneer Wilhelm se vader hulle in die openbaar verwerp, word Mandela die simboliese vader. ’n Gesprek met Mandela vroeër aktiveer haar ook om betrokke te raak by die “struggle”. Met die naam wat jy dra, het jy mag; jy kan ’n verskil maak …  (60).

Oor Mbeki se Vigs-beleid is sy krities – vanselfsprekend word sy later by UNICEF en haar werk daar bewus van al die implikasies van ’n verkeerde Vigs-beleid. Persoonlik het sy wel waardering vir sy intellek.

Haar vertellinge van die lewe in ’n ambassade waar sy anders optree, is eweneens tersaaklik.

III.

Die boek het wonderlike humoristiese staaltjies. Tannie Betsie Verwoerd se reaksie op Mandela se besoek aan haar in Orania: sy nie weet wie die swart man was wat haar besoek het nie, maar is vies oor die media haar blomme vertrap het (121).

En skaterlag ’n mens nie oor die jong dogtertjie wat voor die TV weggeruk word sodat die konserwatiewe grootouers nie kan sien hoe sy “Amandla” sal uitroep nie (67). Of kleintjies wat almal Mandela wil wees op die maat van “Aanstap rooies …”

IV.

Wat is waar, wat is wolhaar? Hieroor moet die leser self besluit. Maar ek het agter die skerms ingekyk na die persoonlike reis.

Melanie Verwoerd se storie is aangrypend, eerlik, dapper. ’n Mens moet dit eweneens lees as ’n verslag van verlies.

Die impak van die media op haar lewe is ook hier. Die media het immers ook ’n rol gespeel om haar loopbaan by UNICEF te kompliseer. Sy het ook die wind van voor gekry in Ierland met mense wat probeer het dat die boek nie gelees moet word nie. Auk. Ten spyte hiervan was die boek dáár ’n topverkoper.

Hierdie onderhoud is relevant:



’n Resensent het nie van die meer persoonlike gedeeltes gehou nie. Dis immers wat ’n outobiografie wil wees: dit moet vertel, verduidelik, openbaar.

Dis ’n memoir, ’n lewensverslag van ’n “small town girl”, politieke aktivis en celeb. Jungiane sou ook praat van ’n individuasie wat plaasgevind het. Die skrywer verwys ook na die feit dat sy fey is (39).

Daar is ’n belangrike toneel in hierdie boek waar Melanie Verwoerd by die parlement oor ’n hek klim wat gesluit is. So moet jy hierdie lewensverhaal benader: dis iemand wat dikwels in haar lewe voor geslote hekke te staan gekom het en tog oorgeklim het.

Ek voorspel sy sal weer ’n hek oopmaak.

Bronne

Gerry Ryan - Wikipedia, the free encyclopedia. (4 Julie 2013 geraadpleeg)

Author interview/ The Verwoerd who Toyi-Toyied - City Press. (6 Julie 2013 geraadpleeg)

Die Burger / Ook histories waardevol. (6 Julie 2013 geraadpleeg)

Die ander Verwoerd | Rapport. (6 Julie 2013 geraadpleeg)

Eindnota

[1] Vroeg in 2008 het Gerry Ryan aangekondig dat hy deur Penguin genader is om sy outobiografie te skryf. Die voorskor van €100,000 wat Penguin Ryan betaal het, was  na bewering die grootste nog ooit betaal vir 'n boek wat in Ierland gepubliseer is. Would the Real Gerry Ryan Please Stand Up is op 16 Oktober 2008 in Ierland vrygestel, en het teen Januarie 2009 alreeds meer as 10 000 kopieë verkoop.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]