Wilma Stockenström. Hierdie mens. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 6373 6.
Resensent: Joan Hambidge
Deur die jare het Wilma Stockenström ‘n belangrike bydrae tot ons digkuns gelewer. Haar gesprekke met NP van Wyk Louw en Peter Blum is opvallend. Sy skryf ‘n gestroopte, intellektuele vers waarin die sintaksis van die gedig tot die maksimum uitgedaag word en die leser geïmponeer word deur ‘n gedig waar geen woord uit plek is nie. Haar verse is dikwels bondig en in haar satiriese verse – waar sy van haar beste werk gelewer het – is die aktrise aan die woord. Sy ontmasker en oordryf; haar leser is dikwels ‘n bysiende, speurende een (soos een van haar titels heet) wat met intellektuele genoegdoening die monsters van ons bestaan beleef.
Haar Afrika-verse is aanskoulik, soos in Van vergetelheid en van glans (1976) en binne ‘n groter verband van die heelal, word die mens teenoor die klip geplaas, vasgevang in sotternye en selfbedrog. Die leser is dus paleontoloog en die jongste bundel, Hierdie mens, speel in op die klassieke gedig “Ecce Homo”. Aan die Kaap geskryf (1994) en Spesmase (1999) het hierdie bundel al voorberei: ‘n terugkeer na die self en ‘n afskeid van en besinning oor die lewe. Hierdie bundel is geskryf in die sleutel van laatwerk en die literator Helize van Vuuren se essays oor hierdie onderwerp is tersaaklik vir die lees van hierdie digbundel. In die openingsvers skryf die digter:
Om ’t ewe
Hulle sê terloops my verse is nie singbaar nie.
Hopelik darem onthoubaar ofskoon onverstaanbaar.
Sal ek my steur aan hierdie hulle?
Wat weet hulle van die waarde van prulle?
Geagte leser, dink oor die volgendes.
Skaar u u by die verbolgenes?
Is u verwonderd of bedonderd?
Terloops, dis my om ’t ewe.
Die leser word dus betrek by die skryfproses en die digter is ironies en gedistansieerd oor haar gedigte. Poësie as ‘n waardelose, dog nodige aksie – skouerophalend – word hier aangetref. Ons vind ook ‘n gesprek met ander digters (“Skatpligtig”, 9) waar Celliers, Van Wyk Louw en Ingrid Jonker aan bod kom. “Sic biscuitus desintegrat”, oftewel dis hoe die koekie krummel.
Die verouderde tikmasjien word in ‘n Ode besing. Die troue maat deur dertien dun boekies moes sy weggooi, omdat sy nie ‘n tiklint kon vind vir hom nie.
Lof swaai ek jou toe, beskeie grys obsolete,
jy was draagbaar, toeritsbaar, dierbaar, myne (10).
In ‘n stukkende droom probeer die spreker die legkaarte van die self uitpluis, daardie een gedeelte wat nie gevind kan word nie. Hierdie gedig sluit aan by “Olke bolke” (12) waar die sittendes in die ouetehuis na mekaar kyk – uitgelewer aan ‘n situasie en bewus van die naderende einde. Hierom dan die dood wat in ‘n volgende vers aangespreek word:
Uitnodiging
Daar’s ’n glimlag in sy stem.
Hy sê: kom binne, kom binne,
ons werk nie meer met linne,
dis nou as en beentjies en rook
uit ’n vuur deskundig gestook
maar steeds vir daar doer bestem. (13)
Die ironies-sardoniese spreker maak ‘n grap van die geslag van die dood: hoekom altyd ‘n hy, vra sy. Nog ‘n onderwerp vir Vrouedag hierdie geslagsdiskriminasie, besluit sy in die gedig “Diskriminasie” (14). En die digter vergelyk ‘n gedig met ‘n kat met die gedig wat nie met ‘n kat kan kers vashou nie!
Ag wat kat
Geen gedig loop so lenig soos ’n kat.
Geen gedig rek hom halfsirkel
en geeneen pronk soos ’n kat nie,
staar intens ’n kamerlengte
ver soos ’n kat nie, en geen gedig, geen,
openbaar kat soos kat kat nie. (27)
Die digter probeer telkens om die heilige onsin in ons dwalinge te ontmasker en hierom word die digproses ‘n ruimte van gestrooptheid. Sy verkies die sigbare, die natuur bó die Onsienlike: “Niks genadiger as die genade van niks” (36).
In “Maankeuse” (44) word digterlike simboliek aan die kaak gestel en dink sy wat sy sou doen as sý die maan was. Die gedig word ‘n ontsnapping van mites en ‘n vooropstelling van ‘n patent van egtheid.
Die slotvers “Daar en hier” (49) staan apart van die ander gedigte. ‘n Afskeid aan haar digkuns? ‘n Bestekopname? ‘n Gedig vir haar geliefde man, die poliglot wat sy bestendig en verewig in hierdie lieflike vers?
Dit is ‘n belangrike en aangrypende bundel wat sterk herinner aan die laatwerk van Elisabeth Eybers: ‘n bestekopname van ‘n lewe en terugspeel op bekende temas in die oeuvre, geskryf in ‘n mineurtoon, maar steeds dwingend, belangrik en imposant weens die tegniese beheer. Spieël van water heet ‘n bundel: inderdaad (in navolging van Lacan) kyk die leser in die gedig as ‘n spieël wat die besinnings van ‘n briljante vrou terugkaats. D.J. Opperman het tereg die enorme talent van hierdie digter raakgesien toe sy by ‘n klein uitgewershuis gedebuteer het. Die res is geskiedenis.
Vir hierdie mens bly net geluid oor
wat vorm soek om in te woon (24).
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]