Jeanette Ferreira & Suzette Kotzé-Myburgh (Reds). Nuwe Stories. Human & Rousseau,
2013. ISBN 9780798156448.
Resensent: Joan
Hambidge
I. ’n Nuwe
wêreld-sonder-grense
Afrikaans is geseënd met uitmuntende kortverhaalskrywers. ’n
Mens dink aan Jaarringe (1966) van Henriette Grové, Duiwel-in-die-bos (1968)
van Chris Barnard, Volmink (1981) van Hennie Aucamp. Van ons “mooistes” en
“bestes” is deur Abraham H de Vries, self ’n voorste kortverhaalskrywer, in ’n
kortverhaalboek byeengebring. In die tagtigerjare het Etienne van Heerden, Koos
Prinsloo, Alexander Strachan, Victor Munnik, en ander die grensoorlog
oopgeskryf en die sogenaamde postmodernisme ingelui en grense verskuif. Jare
later kom Johann de Lange met sy gesprek met Aucamp en Prinsloo in Vreemder as
fiksie (1996) en daarna met sy opbreek van die “ek” in dwelmverhale in Tweede
natuur (2000). Digters is dikwels uitstekende kortkuns-beoefenaars, soos Petra
Müller en George Weideman bewys het. En H.J. Pieterse se kortverhaalbundel Omdat
ons alles (1998) is eweneens voortreflik.
Veral Prinsloo se verhale – ’n mens dink hier aan Slagplaas
(1992) – het die owerhede op meer as een vlak ongemaklik gehad. In die
tagtigerjare is die manlike subjek (gay, straight, weerloos, weerbaar) beskryf
en ’n Wêreld sonder grense sou ’n metafoor word vir hierdie generasie.
Daar is puik kortverhale in Afrikaans: Ina Rousseau se
“Onthou jy nog vir Helena Lem?” (Soutsjokolade, 1979), wat ’n openbaring word
van hoe ’n opmerking ’n verhouding kan kelder en hoe herinnering sy eie pad
loop. Nanette van Rooyen se “Tollie Hans”, wat wat in 1999 Human & Rousseau
en De Kat se Vonkfiksie-kompetisie gewen het, is ’n klassiek. Dit is sekerlik
die mees gedronge verhaal oor aflegging, pyn, verwonding van ’n vrou in haar
liefde verlaat.
Die kortverhaal en kort-kortverhaal is in Afrikaans deur
vele beoefen. Trouens, dit is Hennie Aucamp wat in sy Die blote storie daarop
wys dat die kortverhaal nie ’n vingeroefening vir die roman is nie. Dit is ’n
gerekende genre. Guy de Maupassant versus O Henry se verskillende aanslae – die
een wat wentel om die storie en sy ontknoping; die ander wat werk met die
knalslot. En dan is daar Borges, wat verhale-binne-in-verhale skep.
Wie kon ooit PJ Haasbroek se Roofvis (1975) ewenaar? Of
saampraat met John Miles of Welma Odendaal? Of verder terug in die tyd dink ’n
mens aan Van Melle en Elise Muller.
’n Goeie kortverhaal is op sy beste soos ’n goeie gedig: dit
suggereer en agterna klap die implikasie jou in die maag. Nou onlangs het André
le Roux weer uit die coulisse getree met sy eiesoortige, minimalistiese styl.
’n Mens kan maar net weer Haasbroek lees vir sy metaforiek,
of Strachan, Grové of Barnard loof vir hul eenheidsbundel waar elke verhaal
inspeel op ’n ander storie en sodoende die bundel met dieper implikasie laai.
’n Spaars oorsig wat enige persoon wat sy/haar hand wag aan
’n kortverhaal tot nederigheid behoort te stem.
Aucamp se Vuurslag (1990) oor die kort-kortverhaal is ’n
briljante leesboek.
A short story is a work of short, narrative prose that is
usually centered around one single event. It is limited in scope and has an
introduction, body and conclusion. Although a short story has much in common
with a novel, it is written with much greater precision.
Aldus Carol Dwankowski in "How to Analyze a Short Story", Internasjonal Engelsk - NDLA (9 Maart
2013 geraadpleeg).
Beter kan ek dit nie formuleer nie.
En dis juis hierdie presisie wat die kortverhaalskrywer
onderskei van die skrywer van ander verhaalvorme.
’n Goeie kortverhaal is dan ook een wat jy met jou saamdra,
amper soos ’n gedig, omdat elke aspek inspeel op ’n ander, en met ’n herlees
sien ’n mens dikwels hoe die skrywer klippies in die pad gelaat het sodat jy
nie moet verdwaal nie.
II. Die blote storie
en die “naked I”
As ’n pendant vir die Nuwe stemme-reeks in die digkuns wat
vir goeie verrassings gesorg het, is daar ’n reeks vir jong kortverhaalskrywers
geskep.
In hierdie dae, waar ons vergas word met die verkeerde
spelling van Barbra Streisand se naam en Elisabeth Eybers se naam met ’n z
geskryf word by ’n uitgewershuis, is die eerste vraag: Is die keurders
deurwinterde lesers wat kennis geneem het van die tradisie?
Die beste 21 verhale vir Human & Rousseau se Nuwe
stories-kortverhaalwedstryd vir skrywers onder dertig. Ons verneem op die
agterblad dat ons hier die pols kan voel van ’n nuwe generasie skrywers, met
skrywers soos Nina Botes, Carolyn Meads, Bibi Slippers, Alettie van den Heever
en Willim Welsyn, wie se name al op ander plekke opgeduik het.
Jeanette Ferreira en Suzette Kotzé-Myburgh is die
samestellers. Beide laat hul dan ook uit oor die bydraes soos die “unieke
register”. Twintig verhale uit 69 het die paal gehaal. Uiteindelik moes die
uitgewer 21 opneem; die gehalte was dan so goed.
Die veranderde sosiale werklikheid word uitgewys: die nuwe
tegnologie, die ander politiek en watter invloed dit op die verhale gehad het.
Soos met die Nuwe stemme-reeks in die digkuns, het ook
hierdie skrywers werkswinkels meegemaak. Verhale is dus “geslyp” en “afgerond”
in hierdie besprekingsessies. (Die invloed van kreatiewe kursusse is
waarskynlik nog nie genoegsaam verdiskonteer in ons letterkunde nie en hoe
alles vinniger en gouer afgewerk word onder die leiding van ’n mentor of
fasiliteerder. Daar bestaan ook deesdae iets soos manuskripontwikkeling, waar
’n ervare redakteur of skrywer foute kan uitstryk voordat die boek voorgelê
word.)
III. Enkele kanttekeninge
Alettie van den Heever
Die verhale aktiveer die ervaringsveld van die jong mens:
soos by Willim Welsyn (“Agter die tennishuisie”) is daar die jong verteller wat
aan die woord is en juis deur die oënskynlike onskuld diep kan raaksien. Daar
is ook die refrein van ontheemding en die ervaring van drugs, die internet,
McDonald’s, en so meer. Die verhouding met die ouers word onder die loep
geneem.
“Onder die brug” van Christina van Deventer – met sy
Faulkner-toespelings – ondersoek die lewe na die dood op ’n verrassende manier.
“Oog, lopend” van Alettie van den Heever is ’n besonderse
verhaal waarin die motief van die oog besonder goed uitgewerk word. Dit is ’n
verhaal wat nie al sy sleutels prysgee nie en die leser dwing om terug te keer
na simbole en subtiele implikasies. ’n Mens verwag nog baie van hierdie jong
skrywer.
Die patologie – onder andere verkragting – word uitgebou in
die verhaal “’n Ongelooflike hartseer” van Lezandra Thiart. Dit is ’n
skokkende, dog aangrypende verhaal wat sterk resoneer met werklike gevalle soos
die Eksteen-verdagte op Stellenbosch wat na bewering ’n jong meisie verkrag, ontvoer en in die
Weskus-duin begrawe het. Op ’n vernuftige wyse word die Leigh-Ann
Matthews-gebeure ook in die leser se gemoed geaktiveer.
’n Verhaal wat al die kodes van die post-postmoderne tyd
inkorporeer, is “524 keer” van Carolyn Meads, ’n uiters boeiende en
ontstellende verhaal oor Facebook en video-posting. Die karakter se ervaring
van hoe haar privaatheid binnegedring is, speel al die implikasies uit van hoe
die moderne mens enersyds verslaaf is aan hierdie media en andersyds uitgelewer
is aan die verskuiwing van grense wanneer ’n private video op die internet
beland. Inderdaad ’n “Alice through the looking glass” – ’n slim vertelling.
Uiters besonders juis omdat ’n mens as leser hier iets sien van die lewe en
angst van jongmense.
Trish Goosen
“Die ryloopmoordenaar” deur Trish Goosen speel met die leser
se verbeelding. Wat is feit, wat is fiksie? Die verhaal begin met ’n sin wat
jou uitnooi: “Kom ek vertel jou die storie wat my lewe vir altyd verander het”,
en eindig met ’n sirkelgang-slot. Met elke lees raak jy as leser dus betrokke
in ’n nuwe sirkel van interpretasies.
Armand Fourie maak die pap lekker dik aan in
“Kampuskriminologie” met ’n selfoon wat gil soos Psycho. Die mate waarin ons
uitgelewer is aan gevare en die algemene toestand van paranoia waaronder ons
leef. Die vrees dat ’n vriendin vermoor is, neem die leser deur al ons
herinneringe aan moord en doodslag.
In die verteller se binnespraak: “En tog is sý nooit direk
aangeraak deur geweld nie, nie sy of haar familie nie, dink Marieke. Al haar
vrese is slegs tweedehands …” (83)
Tog met ’n positiewe slot.
Wilken Calitz
’n Verhaal wat tot my gespreek het, is die skitterende
“Fratres” van Wilken Calitz. Konflik tussen broers, via Anna Karenina, word op
’n oortuigende wyse verwoord. Nie alleen skep die interteks spanning nie, maar
dit gaan hier om wat ons lees en dink ander nié gelees het nie. Nabokov se
beroemde lesing oor hierdie roman word ’n eggo: Anna Karenina is vernietig deur
die verkeerde boeke wat sy gelees het. ’n Diepsinnige ontleding van
broedertwis, wrokkigheid, wraak, liefdesontrou – met ’n knalslot.
PL Brand se “Gewapende kerkgangers” ondersoek die verhouding
tussen vader en seun. Die pa, met geen familie nie, lei ’n dubbele lewe en die
seun word daarby betrek. Sterk Freudiaanse ondertone stu hierdie kragtoer
voort: dit word ’n ontleding van die verhouding tussen vader en seun en hoe
mense betrek word by ondergrondse aksies. Dit is eweneens ’n subtiele ontleding
van ons geweldskultuur met ’n siniese verteller: “Op twaalf het ek die girls
begin charm. Op veertien het ek my maagdelikheid verloor” (45). Die verhaal
getuig van insig in familiestrukture en onthegting. Freud, eat your heart out.
Hierdie verhaal resoneer met Marni Bonthuys se
“Familiemoord”, ’n verhaal wat moord, selfdoding, die paranoia van die nuwe
Suid-Afrika knap ondersoek en aktiveer – met ’n vibrerende slot oor die
monsters wat kinders begin raaksien. Daar is geen buite-teks nie, het Derrida
geskryf, en hierdie teks speel so sterk in op ons belewenis van die huidige
onrus dat die verhaal nuwe dimensies bykry. Dieselfde geld die openingsverhaal,
“Centre stage is lewendig” van Charl Bezuidenhout met ’n deur wat oopswaai in
’n pynlike slot.
“Tweede natuur” van Nina Botes is ’n intellektuele ontleding
van vrou-wees: die vroulike subjek, ’n intellektueel, se vrese rondom
swangerskap en ma-wees word in ’n vreemde ruimte (België) geplaas. Die
hoofkarakter keer terug na Suid-Afrika en al die opposisies tussen
manlik/vroulik, swangerskap/aborsie, intellektueel/nonintellektueel word in
hierdie puik verhaal uitgewerk wat ’n mens terug neem na Cixous se studies oor
vroulikheid. Slim verwysings na Simone de Beavoir, Freud, Frida Kahlo gee
skakering aan die teks – ’n klein kragtoer. Botes is ook ’n teoretikus, en haar
verhaal lewer bewys van haar kennis van die kortverhaal wat ons in artikels
sien:
• Botes Nina
en N Cochrane. 2011. Generiese merkers in die kortverhaalsiklus. Deel 1:
teoretiese uitgangspunte. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 8(2):112-51.
ISSN 1995-5928.
• Botes Nina
en N Cochrane. 2011. Generiese merkers in die kortverhaalsiklus. Deel 2: 'n
toepassing op Die dag toe ek my hare losgemaak het van Willemien Brümmer.
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 8(2):152-87. ISSN 1995-5928.
’n Jong, maar sterk intellektuele stem wat al die diskoerse
rondom vrouwees aktiveer: vanaf die Middeleeuse Holy Maidenhood tot jongste
reaksies: Fear of flying, Agaat, en so meer.
IV. Is slotte dan sleutels?
Die slot van ’n kortverhaal is, soos die begin, van uiterse
belang. Met elke herlees sal die slot jou weer op ’n nuwe wyse laat kyk na die
begin van die verhaal.
Bibi Slippers
Bibi Slippers werk in “Ikoon” met so ’n spel tussen begin en
einde, volgepak met verwysings wat die verhaal met elke lees komplekser maak.
Die kode van die kamera is belangrik in hierdie verhaal: “Sy kreun toe haar oë
oopsluiter en die kamer stadig in fokus trek” (147). Foto’s en hoe ’n bepaalde
oomblik in die tyd gestol word, dryf hierdie verhaal vorentoe. Net soos die
skryfproses.
Alida Ehloff se “Wentzel” se slot nooi jou in en het
waarskynlik een van die ongelooflikste en mees bisarre eindes – wat ek nie hier
kan verklap nie! Wat ’n wonderlike verbeelding!
Donovan Greeff se “Noem my Kassandra” aktiveer ook paranoia
en reeds die mitologies-gelade titel laat ’n mens dieper kyk na sien en
onsienlike: “Angs hang dik in die lug soos ’n giftige gas. ’n Bedompige
bedugtheid wat my uiteindelik na buite dryf” (105). Die “Hulle” wat hier
bedreig, laat ons lees tot die onafwendbare slot. Die skrywer het ook ’n
besondere kennis van hoe ’n kortverhaal werk en hierdie insig gee ’n bykans
metafiksionele wending aan die verhaal. Die toespelings op Openbaring maak die
verhaal kragtig.
V. Titels
Die titel van ’n verhaal moet die leser alreeds geïnteresseerd
maak vir die gegewe. “Maar is bloed dikker as bloed?” van Janice Keogh en
Henali Kuit se “Alles kom tot niks” presteer dit. Bloed is immers dikker as
water en die verwringing laat ’n mens twee keer kyk, net soos “Alles kom tot
niks” ’n soort nihilisme aktiveer wat die aandag trek. In eersgenoemde verhaal
soek Andrea, die verslaggewer, na ’n storie vir die koerant. Maar sy kry
uiteindelik meer as net ’n koerantstorie. Die afloop is ’n besonderse wending.
In laasgenoemde verhaal word die implikasies van tatoe-kuns onder die loep
geneem. En geloof. Dit is ’n ontleding van die impak van ’n herwonne
geloofservaring en die betekenis van drome.
Madré Roothman se “Die ontmoeting” is inderdaad ’n
ontmoeting waarop nóg Chantelle nóg die leser gereken het! Klein kodes oor
identiteit – soos ’n graad in sielkunde – rig die leser om die ontmoeting se
implikasies te begryp.
Carla van Eck begryp die implikasies van ’n sterk titel en
laat die slot dan ook afwentel na die titel “Vir die eerste keer net Bea”. ’n
Mens kan nie anders as om op te merk hoe ontnugter vele van die karakters in
die verhale is nie. Die verhale registreer inderdaad iets van ons tydsgees:
geweld, identiteitsonsekerheid, ’n soeke na geborgenheid (hetsy in geloof of in
dwelms), en so meer. Maar veral die kwessie van identiteit, die vraagstuk na
“wie is ek?”, word dan in vele verhale geaktiveer. Die binnespraak van die jong
kind – so voortreflik hanteer deur Truman Capote en Carson McCullers – word
presies weergegee.
Die verhaal is geloofwaardig en die leser identifiseer met
die lotgeval van hierdie jong kind.
Carla van Eck kry dan ook twee spreekbeurte. Die tweede
verhaal, “Swem en ander drugs”, is ’n ontleding van die Freudiaanse
familie-romanse. Ook hier kry die skrywer dit reg om die gemoed van ’n jong
mens weer te gee. Die akute onsekerheid, die taalgebruik, die siniese blik op
ouer mense, en so meer. Die titel resoneer met “Lady Jonker” se gedigte en
lewenslot.
Die onpoëtiese titel “Plan B” is ook in die kol. Constant
van Graan se slot het ’n lekker kinkel in die kabel!
Vir verdere nadenke oor titels:
Choosing the Right Name for Your Story. (10 Maart
2013 geraadpleeg).
VI. Is daar ’n “sense of an ending” (Frank Kermode)?
In ’n bloemlesing van hierdie aard speel verhale ook op
mekaar in en verraai ’n tydsgees. Soos “Familiemoord”, “Kampuskriminologie”,
“Die ryloopmoordenaar”. Dan praat “524 keer” weer met “Ikoon”. So gelees, wen
verhale aan betekenis.
Dalk kort party verhale nog tekstuur, maar die bestes
vergoed hiervoor.
Daar is agterin ’n klein biografie van elke skrywer.
Dit is ’n bloemlesing dié wat tot jong lesers sal spreek.
Dit is dan ook die teikenmark. Die boek is besonder goed afgewerk. Geluk aan
die twee redakteurs.
Die jong skrywers van die tagtigerjare het die grensoorlog
in Afrikaans oopgeskryf. Skrywers vertolk dikwels ’n politieke klimaat op ’n
eerlike wyse. En dit is wat hierdie bundel ook doen. ’n Mens kry as leser ’n
gevoel van hoe jong mense die moderne wêreld ervaar. ’n Nuwe
wêreld-sonder-grense …
Die voorblad kon bepaald meer opwindend gewees het.
Lees hierdie boek gerus. Dit sit vol pakkende, knap verhale.
Ek gaan beslis weer terug na enkele verhale in hierdie bundel. Daar is beslis
nie te veel geluk hier te vinde nie (Alice Munro ) – dis eerder stekelrige
ervarings wat alles voortstu (Jane Bennett ). (Kyk na die addendum).
Dit sou interessant wees om te sien wie van hierdie
kortverhaalskrywers uiteindelik ’n solobundel gaan publiseer.
En vir die slotakkoord verwys ek lesers na Ian McEwan:
Ian McEwan - My Uneasy Relationship with Fiction | New Republic. (9 Maart 2013 geraadpleeg).
Addendum
Bibliografie
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van LitNet
Akademies geplaas.]