Ron Irwin. Flat Water
Tuesday. St. Martin’s Press, 2013. ISBN 978-1250035981.
Resensent: Joan Hambidge
Rob Carrey, ’n dokumentêre fliekmaker vir National
Geographic, vlieg terug New York toe om sake tussen hom en sy geliefde,
Carolyn, te herstel. Hy word egter gekonfronteer met die selfdood van ’n
jeugvriend aan Fenton, ’n private skool in Connecticut. Hulle was roeimaats in
die God Four-span.
Hierdie debuut vertel nie net die verhaal van roeiers aan ’n
skool nie. Dit is die oppervlakverhaal, maar soos die roeiers voortbeweeg, word
die roman ’n analise van trauma. Nie alleen die selfdood van die skoolmaat word
beskryf nie, maar ook die verdrinking van die hoofkarakter, Rob, se suster, sy
verhouding met sy geliefde as volwassene in New York en die traumatiese
ervaring van ’n miskraam en dan, die slopende einde van ’n verhouding. (Was die
verteller nalatig oor haar bloeding of bloot net oningelig?)
Hoofstukke wissel tussen hede en verre verlede om die impak
van die pynlike selfdood te probeer bepaal. Carolyn redigeer ’n dokumentêr oor
haaie – ’n duidelike vinjet van die troebel waters waarin die karakters hulle
bevind.
Die roman begin met ’n brief van John Perry, wie se dood die
verhaal bepaal. Hy skryf dit vanuit ’n rehabilitasiesentrum en die invloed van
drank op gedrag word besonder goed geanaliseer in hierdie roman. Trouens, ek
ken min romans waarin die uitwerking van alkohol so waarheidsgetrou weergegee
word. ’n Kroeggeveg in Afrika wys presies wat kan gebeur. Dit word eweneens ’n
oomblik van rasseverskille.
Die roman wentel om ’n paar sentrale episodes, bykans
pynlike bakens. Die eerste een is die selfdood van die jeugvriend; die tweede
een die dood van ’n suster; die derde een die vader se dronkbestuur-episode;
die vierde een ’n dronk-episode van Rob wanneer hy homself as ’n verloorder
sien (“a wicked loser”, bl. 184); die vyfde Connor se ongeluk en dan ten
slotte, Carolyn se miskraam. John Perry se dood word goed voorberei in die
roman wanneer hy as jong mens op ’n brug staan en spoeg (bl. 160). Terloops,
maar met enorme impak, word die ervaring van die suster se begrafnis vertel:
inderdaad ’n hou in die maag. Die een broer kan die ander se pyn nie verduur
nie. Die roman is dan ook ’n ondersoek na hoe ons weghardloop van pyn, maar dit
ons tog ten slotte inhaal.
Die roman gee eweneens ’n besondere blik op die bevoorregte
lewe van Amerikaners binne die sogenaamde “blue blood” of Ivy League-bestaan.
Ruth Anderson is ’n Yale-opgeleide coxswain en daar is karakters soos John
Wadsworth, die “preppy laywer-to-be”, en Colin Payne uit ’n bevoorregte
Massachusetts. Dis dan ook Ruth die leier, ’n helder getekende karakter, wat
die selfdood aankondig van die klasmaat in ’n tyd waarin Rob se verhouding aan
die opbreek is. Sy konstateer reeds vroeg in die roman dat sy kan sien wat aan
die gebeur is, terwyl die roeiers daarop konsentreer om vooruit te beweeg.
“The sport is not just about brute power. Or endurance. Or
the ability to suffer. Rowing in a team forces you to respond to what other men
do in the boat. To adhere to a strategy. To follow commands. To put your petty
gripes and prejudices and fears aside.” (bl. 65)
Die roman gee ’n raak beskrywing van New York in al sy
geledinge en die eerste toneel waar Carrey en Connor handgemeen raak, word
besonder goed beskryf. Die skrywer se dialoog is eweneens oortuigend en jy ruik
die sweet en bloed van die karakters. Die ruimtes stink na Lysol. Boonop is dit
’n analise van Amerikaanse klasseverskille: Fenton teenoor Niccalsetti; “tools”
teenoor “dorkage” (bl. 94). Outsiderskap op skool (Jumbo haat sy bynaam) en hoe
kinders mekaar afknou en “score”, word waarheidsgetrou beskryf. Soos ook die
skoolreünie waarin daar ’n kritiese blik gegee word op die Fenton-skool.
Maak jou reg vir een van die beste romans van hierdie jaar.
Dit is ’n pakkende roman sonder enige redigeer- of taalfoute.
Die Bob Dylan-motto som dit alles op: ”Behind every
beautiful thing, there’s been some kind of pain.”
Die roman word tereg aangeprys deur J.M. Coetzee op die
buiteblad en Ron Irwin is ’n voormalige student van Coetzee. Irwin het ’n ryk
geskakeerde roman geskryf waarin al die vlakke verbind word en al die
simboliese toespelings by ’n tweede en derde lees netjies op mekaar inspeel.
Die volgehoue beelde wat met roei te make het, word netjies verbind.
Die slot is kompleks en laat verskillende interpretasies
toe.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld
geplaas.]