Saturday, May 12, 2018

Resensie | Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra (2018)

Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra. Naledi, 2018. ISBN: 978-1-928426-08-0

Resensent: Joan Hambidge

Koos Kombuis het as digter gedebuteer met Brekfis vir Vier: André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden was saam by hierdie ontbyt. Toe was Koos nog André le Roux du Toit wat later sanger en wonderlike roman- en kortverhaalskrywer geword het (Woorde wat weeg | André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden - Brekfis met vier. Besoek 24 April 2018).

Hiervan is Somer II (1985), Suidpunt-Jazz (1989) en veral Raka die Roman (2005) uitsonderlike hoogtepunte.

In van sy romans het hierdie skrywer al herkenbaar ‘n draai gegooi. Dit was ‘n bewys van sy spel met fiksie en werklikheid wat in die hoogbloei van die postmodernisme aan die orde van die dag was.

Verder is hy as sanger bekend en deel van die Voëlvry-beweging.

Sy pas verkene bundel Vandag wil ek my blou skoene dra met ‘n omslag waar ‘n paar angswekkende lelike Crocs met aaklige beenhare op die voorblad pryk, word gepubliseer deur Naledi. Die digter sien dit as ‘n ryp-word-bundel en ‘n geskenk aan homself. Hierdie bundel verskyn dan twintig jaar na die debuut in ‘n tyd waarin hy drugs gelos en ‘n gesin begin het.

As student op Stellenbosch het hy in die koffiewinkels gesit en geskryf. Bevry van die dwinglandy van klasse bywoon en toetse skryf, is hy bewonder deur menige student. Kombuis is ‘n volksfiguur met ‘n groot aanhang.

So wat ‘n akademikus sou dink van sy gedigte, sou hom waarskynlik nie skeel nie. Die gedigte is nader aan songs as wat dit gedigte is. 

Die kenmerkende opstuur-aanslag is hier aanwesig – ‘n voetnota wat die leser waarsku dat die digter weet dit is rymdwang. Daar is ‘n parodie wat heet, “vier gebede by jaargetye in die boland” met ‘n sorry aan Louw wat waarskynlik bewys dat die digter besef dat die gedig sleg afsteek by die oorspronklike vers. Koos Kombuis se indertydse parodieë opgeneem in Foster & Viljoen se Poskaartehad meer om die lyf.

Te min weerstand, te dun, te obvious. En groot songs kan gedigte wees. Dit het Leonard Cohen vir ons bewys. Hier is dit nog vis nog vlees.

Miskien soos hy dit self opsom in “dis my laaste gedig (sê ek elke keer baie dramaties)” (46) is die probleem presies net dit:

Ek is klaar gewroeg,
genoeg gespoeg,
verby geswoeg,
lewensmoeg
en grys bebaard.
(47)

Die leë landerye verklap inderdaad die einde van die digterlike reise …

Hy skryf verder:

tussen calvinia en mordor
van bronkhortspruit na madagaskar
deur leë landerye
waar van gogh-swart kraaie vlieg
en joan hambidge
oor haar vele minnaars bieg.
sela.

‘n Bietjie van ‘n maklike uitweg, nie waar nie?

‘n Mens kan egter net dig as jy nog passievol oor die bedryf.

Hier is twee beter verse:

vandag wil ek my blou skoene dra

vandag wil ek my blou skoene dra
want vandag is ’n blou dag,
blou soos die half-
edelgesteente van die oggendlig,
blou soos saffiere.
blou.
.
vandag wil ek my blou hemp dra.
vandag wil ek blou
deur die lewe loop
soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,
gewigloos
en geurig.
blond en blou.
blosend, bronstig,
diepblou
soos die aand wat stadig aankom.
.
vandag wil ek vaar soos ’n skip
oor blou deinings,
wieg soos die meeue in die wind,
woel soos ballonne
wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,
soel en soepel en swewig en snoesig
soos die oggenddou,
soos die briewe
van my
aan jou.
.
soos die smarterige jare wat van my afval
ou bloedpleisters weg in die grou
van al my christelike gisters.
groet daardie dae,
want hulle is
vir altyd verby.
.
hulle is ingesluk.
verby is al die rou.
ja, hulle is ingesluk
vandag
.
en nou proe alles
soos die soene
van ’n waterdraer-vrou.
.
aquarius.
libido.
net blou.
.
so lief
is ek vandag
vir jou.



 huis vol kitare

eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
met ’n uitsig oor die see
waar die wind spoel
deur die snare
 .
eendag wil ek koffie drink
op ’n veranda vol herfsblare
en deur ou digbundels blaai
terwyl ek ryp word
met die jare
 .
eendag wil ek huis toe gaan
eendag
wil ek als verstaan
eendag
wil ek opstaan
uit my graf van woorde
en leë gebare
 .
eendag wil ek wegkom
van die groot jillende
skare
 .
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare

In rock&roll.karoo was daar 33 digitale gedigte gepubliseer in 2014. So klink die openingsgedig:

gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie, 
gebreekte liedjies. 
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug 
@ poësie. 
poësie is d koraalriwwe v kuns. 
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie, 
verarm deur d opkoms v rock’nroll, 
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier. 
ek = mal vir poësie.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)