Koos Kombuis - rock
& roll.karoo. M
& S Boekdrukkers, 2014. ISBN 978-0-620-62716-0.
Resensent: Joan Hambidge
Die digter vra in die kolofon dat die leser
hierdie e-boek nie sal aanstuur nie. Die digter vra pertinent dat die leser
eerder sy eie eksemplaar sal aanskaf en die harde werk sal eer.
Goeie genugtig.
Die bundel word aan Etienne opgedra, en dit
is waarskynlik Etienne van Heerden, met wie Koos Kombuis gedebuteer het in Brekfis met vier in 1981.
Toe was Koos nog André le Roux-du Toit;
Daniel Hugo en Peter Snyders was die ander digters. Die uitgewer was
Skoppensboer.
Inmiddels het Koos ’n huishoudelike naam
geword, satiriese romans geskryf – soos Suidpunt-jazz
(1989) en Somer II (1985) – en veral
bekendheid verwerf as musiekmaker. Daar was ook Raka: Die roman (2005), ’n wrang satire.
Hierdie jongste e-digbundel wals met Groot Verseboek en etlike ander bekende
Afrikaner-eiesinnighede.
In die hand van Koos Kombuis word daar ’n
aweregse blik gegee op die hier-en-nou en swaarwigtige kwessies word ontluister.
Die @-teken is daar, nes = en ander rekenaar & internet-simbole.
Soms mis ons ’n konvensionele kappie of ’n
deelteken het weggeval . . .
Dis geen groot poësie nie, maar ’n heerlike
internetwals sonder gal, maar met sosiale kommentaar.
I
gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie,
gebreekte liedjies.
net hartseer liedjieskrywers soek hul
toevlug
@ poësie.
poësie is d koraalriwwe v kuns.
gedroog, verbleik, geteister deur
tegnologie,
verarm deur d opkoms v rock’nroll,
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier.
ek = mal vir poësie. (5)
So plesierig gaan dit:
@ my ou ramkiekie
met net 1 toep
speel ek i/d maanlig
@ my stoep
ek speel v al d sterre
i/d wye lug daarbo
n lied v al d aliens
@ d groot karoo (37)
’n Mens sou vir jong studente kon vra: Waar
is Totius, Leipoldt, Opperman (onder andere die ou weduwee Viljee) en al die
ander grotes weggesteek in hierdie bundel?
(Die aanhaling toegedig aan Ezra Pound is
helaas van Eliot . . .)
Die digter sien homself as ’n Dias van die
gees.
Nou onlangs het die digter opslae in
Brittanje gemaak met ’n wit-gedig (Cambridge University students speechless over Koos Kombuis’s blank poem) en ons vind hier woordeksperimente soos:
XVII
o brannewyn laat my staan
“ “ “ “ “ gaan
“ “ waars d maan
“ “ eks gedaan (21)
Gedigte klink asof dit in ’n vinnige SMS-taal
geskryf is. Maar dit is ’n opsetlike eksperiment, hierdie aanslag. En selfs
“Die Stem” word geparodieer:
VIII
(gelofteland)
@ d blou v onse hemel
@ d diepte v ons C
@ ons∞gebergtes
waar d kranse antwoord G
Dit is ’n bundel vir al Koos se fans. Hy
lewer aweregse sosiale kommentaar: Karoo-fracking word aangespreek, die soeke
na stilte, oudword, die dood . . .
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Netwerk24)