Monday, May 10, 2021

Resensie | Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel | Tafelberg, 2021

Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 092278

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Om Nootvat.Kwashaal.Stapel. kort en kragtig op te som: slim én ontroerend. Bernard Odendaal se tweede bundel verskyn 14 jaar ná sy debuut Onbedoelde land.

 

Emosionaliteit word in ons samelewing veral gekoppel aan vrou(like) en vrouedigters. Die liriese uitstulpings word dus so gekodeer, maar gaan kyk maar na hoeveel manlike digters - in navolging van Opperman se tipologie - eg emosioneel dig: C.M. van den Heever, W.E. G. Louw, onder andere.

 

Odendaal boor 'n sterk emosionele aar raak in sy nostalgiese herinneringe aan 'n Vrystaatse jeug waarin daar vele ontnugterings en afleggings in die hede opgesluit lê. In die pynlike lykdig word 'n skoolmaat se lewe opgesom tot die onafwendbare einde van die mens wat sowel polities as emosioneel 'n buitestaander was. Dit heet ironies "Reünie" met die naam van die oorlede onderaan die titel: Daniël Craven Krause (09/01/1954 – 12/01/2017). So word die persoonlike aard van hierdie treurvers beklemtoon met die digter wat dit koppel aan 'n bepaalde mens. Die vers word terselfdertyd 'n stuk geskiedenis van die digter se lewensloop.

 

In "Apostroof" – met 'n kopknik aan Fanie Olivier – word die gestorwe ouers aangespreek:

 

Ou stylgreep, Pa, Ma:

dié aanspreek van afwesiges,

spookgesprek met dooies.

 

Die lykdig vir die bekende taalkundige Christo van Rensburg eindig met 'n treffende slot:

 

En hier sit ek nou.

Remme aangeslaan met die nuus oor jou.

Pletterreste, soos van insekte, teen die voorruit.

 

Want hierdie man se taalkennis laat die digter sy vers so begin:

 

Saam met jou was reis ook woordkoersvat.

Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:

 

Die vers oor Olga Kirsch word méér as literatuurgeskiedenis. Die digter vereenselwig hom met haar lot as buitestaander verlangend na die vaderland. Dit is opvallend hoe hierdie digter telkens deur vele digters tans vereer word; waarskynlik omdat sy iets simboliseer van onbegrip, van verydeling en verlange na 'n vervloë wêreld in hierdie dae van onsekerheid.

 

Die emosionele aspek word met 'n intellektuele aanslag gesinkopeer. Die digter is aanbieder van kreatiewe skryfwerk, en vele gedigte analiseer die komplekse prosesse van hoé die digter sy jong leerders van raad moet bedien. In hierdie opsig sluit sy digkuns aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê, daardie briljante digbundel uit 1975, waarin grammatika en taalkonstruksies die onderwerp van die digkuns word.

 

Daar is vertalings en ómdigtings van bekende verse. Eweneens vind ons swermgedigte en gedigte geskryf vir installasies by 'n kunstefees. Daar is selfs blokverse, met ander woorde, gedigte in blokke geplaas. Daar is pragtige sms-haikoes, met daardie skettertaal so bekend aan ons:

 

stormwatrpypvonds:

jweelstukke & vrminkte

jnkvroulyk

*

“lyk” na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been v kind

*

boer mt ystr doodgslaan,

2de mt ’n graaf

toe vee werkr stoep

 

Telkens word die grense tussen gedigte geproblematiseer en die vers self word 'n reisiger in 'n diasporiese wêreld pynlik geïllustreer in die her-besoek van "Chicago", daardie ikoniese vers van Carl Sandburg, seun van Sweedse immigrante, eerste VSA-digter vir wie Engels ’n tweede taal was, lui die onderskrif.

 

Taal word nuut besoek: die probleme rondom die dubbele nie in Afrikaans (met erkenning aan Hester Waher, die taalkundige onlangs oorlede)  en ons vind selfs 'n gedig wat heet "kleitrap met die verlede tyd". Hierom is sowel Steyn as Wallace Stevens (die groot Amerikaanse modernis) rigtingwysers vir die speurende leser. Van Wyk Louw word herbesoek en gehuldig in "Valsbaai". Geliefde en ontslape digtervriende soos TT Cloete en IL de Villiers word aangespreek en daar is gesprekke met digters uit die Lae Lande.

 

"Let's get real" is 'n aweregse ars poetica waar die begeleier van die digkuns homself aanpraat oor waar 'n geslaagde gedig nou eintlik vandaan kom. Die langer prosaverse word soos die praatverse met konkrete beelde verbind. Die grafika van verse word goed benut soos die digter ons waarsku in die motto's en illustreer in "Swemgala-toeskouer" waar 'n  Wallace Stevens-bundel amper uit die digter se hande val.

 

Jacques Brel word ingeweef en die spel met die rondeau-vorm bewys die digter se liriese aard. Andersyds debunk hierdie bundel die idee dat 'n gedig net spontaan gebeur:

 

Alle poësie en melodie

was mooitjies mááksel  ("5. Uit die bloute")

 

Die digter skep 'n multiversum en die gedigte word 'n palimpses van tekste wat verwys na ander tekste.

 

Die Sehnsucht en nostalgie loop soos 'n swart draad deur hierdie bundel oor alles wat weggefletter het en word puik verwoord in "Die wanhopiges" na Jacques Brel se “Les désespérés”.

 

Hierdie bundel werk soos Terence Malick se film Tree of life (2011) met Sean Penn en Brad Pitt waar 'n pynlike familiegeskiedenis saamgesnoer word in herinnering en fantasie. Harold Bloom se studie oor die Kabbalisme is eweneens hier tersaaklik, Kabbalah and Criticism (1975), waarin die mistieke dimensie in ouer tekste behandel word. Die sogenaamde ‘revisionary ratios’ beteken immers 'n terugkeer na die bekende, ouer tekste. 

 

Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word 'n vals klank geuiter nie. Dit is kwashale (konkrete beelde) wat hier van stapel gestuur word. En in die lang bronlys verduidelik hy die begrip stapel soos volg: die intertekste wat naas eie skeppings in die gedig gestapel sit. Stapel soos in opstapel: verskillende gedigte uit verskeie publikasies en mediums is nou in een boek te vinde.

 

Hierdie bundel kan as metamodernisties tipeer word, 'n samesnoering van die modernisme en postmodernisme. Dalk uiter hierdie bundel 'n soeke terug vóór die ooglopende spel met tekste? Hierom dalk die verlange terug na oorspronklikheid met die wete dat die finale vers uit soveel ander tekste "gevorm" is? Teensange en palinodes kenmerk die aanslag.

 

Die intellektuele leser word gedwing om weer na te dink en vir die liefhebber van die digkuns is hier gewoon hartgrypend-mooi gedigte.

 

Dit is 'n pragboek.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)