Sunday, July 3, 2016

Bernard Odendaal - Woorde hul storie sien ken: Essays en rubrieke (2016)


Bernard Odendaal - Woorde hul storie sien ken: Essays en rubrieke. Naledi, 2016. ISBN 978 0 928316 36 0

Resensent: Joan Hambidge

Bernard Odendaal is digter en digkunsresensent, tans skryfskooldirekteur op Potchefstroom. Hy doen verder uitstekende werk vir Vers en klank (RSG). Sopas het daar ‘n bundel rubrieke verskyn onder die titel: Woorde hul storie sien ken. Van hierdie rubrieke het verskyn in Bloemnuus en in Die Volksblad.

Rubrieke is ‘n veeleisende taak en elke rubriekskrywer weet hoe meedoënloos dit is om vir ‘n koerant te skryf: daar is ‘n woordbeperking, daar is ‘n tydlyn, daar is lesergroepe (negatief en positief); en boonop kan elke mens net soveel keer oor iets skryf sonder om te verveel of jouself te herhaal.

In Afrikaans is daar uitstekende rubriekskrywers. Een van my gunstelinge is (en bly) Marnus Hattingh wat ingelig (en ook humoristies) oor motors skryf vir Die Burger

Uiteraard moet die rubriekskrywer 'n kenner wees van sy/haar onderwerp. En rubriekskrywers het personas. Sommige lees jy gewoon nie, omdat die “stem” jou afskrik of nie geval nie. Ander lees jy weer, al is dit net om te weet wat jy nie wil weet nie (soos Max du Preez). Sommige is selfkoesterend en vry openlik met celebs en bekende skrywers, en plaas selfs sielige foto’s op Facebook van hulself en die beroemdes; ander is kantig in hul van eie kante.

Odendaal kan skryf. Hy begryp die aard van die rubriek. Dit is impressionisties; dit dra ‘n bepaalde lewenswaarheid oor; dit is humoristies of pynlik; en ja, veral leesbaar. Hy skep teenstemme - hier Buurman en Vroulief met wie hy in gesprek tree of lewer kommentaar op 'n boekbekendstelling waar 'n ou man opdaag om sy oorlede vrou as't ware op te soek, omdat dit háár ruimte was.

'n Handvol bydraes kan ons tipeer as essays. Hy haal byvoorbeeld Elize Botha aan, daardie kenner van die essay in Afrikaans en Audrey Blignault. Die essay wat 'n lewenswaarheid oordra wat jou bybly - soos ons dit ken uit Montaigne. Meer durend as die rubriek.

Ook skryf hy insigryk oor ons boekbedryf en hoe die digkuns getransformeer het. En oor Afrikaans se vele sprekers. Hy is niemand se "ander" nie. Daar is verwysings na Pieter W. Grobbelaar en Boerneef; Breytenbach en ons ouer digters word netjies ingevleg. Ook Ina Rousseau, George Weideman en Daniel Hugo.

In “Laatwinterrit” vra die jong student of hy ‘n memo het wanneer hy sy studente in die skryfkursus se gedigte nasien? (16) In hierdie naïewe opmerking is daar egter baie opgesluit. Hoe dikwels dink mense nie dat jy gedigte “objektief” of “neutraal” kan benader nie?

“Opruimers van die onverskilligheid” is eweneens ‘n juweel. Die blootgestelde reisiger wat in die diep nag gekonfronteer word met uitskot op ‘n pad. Ook iemand wat die skrywer ontmoet wat doodgeryde diere optel en hulle ordentlik begrawe. Dan is daar ook die storie van die verkragte meisie en haar lot en die rubriekskrywer wat na woorde soek om sy ónmag en pyn weer te gee. Hoe vind 'n mens die regte woorde hiervoor?

Die rubriekskrywer is immer ‘n “naked I”, te wete iemand wat nie sy (voor)oordele of lewensiening kan wegsteek nie. Dit is ‘n persoon met skerp waarnemings en gevoelens wat namens ander mense buikspreek. Oor veldflieke wat nie meer bestaan nie of hoe meedoënloos die moderne lewe geword het.

Die belangrikste aspek van hierdie bundel is dat elke stuk iets aktiveer oor heimwee (en Fernweh) en oor nostalgie. Boeke, mense, ontmoetings, 'n Duitse dosent wat 'n bepalende invloed had op die rubriekskrywer, word eerlik belig. 'n Opstelwedstryd in sy jeug wen hy met "oorgehewelde brokke" uit Chris Barnard, die goeroe van rubriekskrywers. Maar die gewete word byna gesus met die wete dat hy fyner as die beoordelaars gelees het!

Rubriekskrywers - soos ons weet uit Roland Barthes se Mythologies (1957) en Umberto Eco se Faith in Fakes (1986) - gebruik die rubriek as 'n oefenlopie vir 'n groter projek. Mag ons 'n volgende digbundel sien!

Die grein van die stem, soos Barthes dit noem. Dit is wat 'n mens bybly lank na die lees van die bundel wat soms ontstellende inligting oordra (oor kuns en ideologie met verwysing na Sjostakowitsj se Sewende simfonie in Leningrad), maar soms speels oor die gebruik van die oom-woord.

" 'n Mens se kop sypel vol vertes en verledes" (91), van dit wat jou die mens gemaak het wat jy uiteindelik geword het.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)