Monday, August 8, 2022

Resensie | Quintus van der Merwe – Om te lewe, om te sterwe | Naledi, 2022

Quintus van der Merwe – Om te lewe, om te sterwe. Naledi, 2022. ISBN: 9781776172269 

Resensent: Joan Hambidge

 

Quintus van der Merwe se twee vorige romans is Die blou van ons hemel (2007),  en In landsbelang (2010).

 

Quintus van der Merwe se misdaadroman (dalk ook thriller of spanningsroman) Om te lewe, om te sterwe pak die spreekwoordelike bul by die horings rondom terreur. Die skrywer ondersoek die fyn, onsigbare netwerk tussen spioenasie, Ambassades en die politiek ná die koueoorlog. Die roman word in die hier-en-nou gesitueer: Covid en die oorlog in die Oekraïene.

 

Die omstrede posisie van Moeslems en terreurdade, word deur die outeur ondersoek met deeglike navorsing. Ons verneem o.a. wat ‘n waterslams beteken. Boonop beweeg die roman teen ‘n ongelooflike pas en die topografie van moderne stede word teen mekaar geplaas: Kopenhagen, Brussel, Amsterdam, Washington, Leuven…

 

Hoe elke stad verskil, word deur die verteller weergegee. Koffiewinkels en winkelsentrums wat uniek is. Douwe Egberts versus croissants. Dit is belangrik in hierdie soort sub-genre waar die verisimo belangrik is, want die verhaal gee voor om “werklik” te wees.

 

Ons ontmoet Wayne Petersen. ‘n Bomontploffing in die besigste inkopiestraat in Kopenhagen. Dan beweeg die verhaal direk tot in Antwerpen. Ons ontmoet Johan Castelyn, ‘n voormalige diplomaat,  wat sy sieninge oor terreur en Islam vir ons weergee. Hy is egter ‘n man wat in die tronk was in Togo en alleenheid in Parys beleef het. Boonop ontplof daar ‘n bom in Kaapstad en sy swaer word verbind hieraan. Onwettige wapenhandel is ‘n verdere motief. Dan die ontmoeting met ene Pascal Mort in België

 

Van ‘n bom net voor Kersfees in Kopenhagen tot ‘n videoboodskap wat terreur aankondig, dryf die verhaal vorentoe.  ‘n Bom in Kaapstadse moskee met ‘n Nederlandstalige vrou met ernstige brandwonde en ‘n arrestasie maak alles verder ingewikkeld. Castelyn, woonagtig in Antwerpen, doen ondergrondse werk vir die Franse Geheimediens. Hy moet egter uitvind wat ágter die skerms gebeur in die aksie-verhaal met verwysings na 007 en De Niro se spieroefeninge in Taxi Driver. ‘n Oud-kollega, in Washington se dogter is dalk betrokke by die gekonkel en Johan Castelyn se indertydse geliefde is op ‘n ander manier ‘n aktant.

 

Verskillende rolspelers wat die plotgedrewe verhaal vorentoe dryf: Katja  Milanovic (wat geskiet word), daar is Elmarie die eks (met ‘n verrassing wat die verhaal ‘n ander wending gee) en Aisha en Nazim. Mbanga en Xolisa. ‘n Sjirurg in Brussel. Gerber, die hoof van die Geheimediens in die Ambassade. Ingrid en Pieter, o.a.

 

So word hy beskryf: “Gerber, een van die min agente wat die oorgang van apartheid na demokrasie oorleef het, is soos altyd in ’n donker pak geklee.” (28)

 

Daar is verwysings na PAGAD. Kinders in gevaarlike verhoudings. Voorgee en leuens, soos ons leer uit spioenasieverhale. From Russia with Love is immers die beste voorbeeld van ‘n James Bond-verhaal waar identiteite verdoesel en “gesteel” word. Die film gemaak in 1963, deur Terence Young, bly ‘n klassiek weens die verskillende stede en kulture wat weergegee word en die fyn weergawe van spioenasie en verraad. SMERSH wat Bond wil diskrediteer, soos sy regering.

 

Baie aksie, baie konfrontasies in Om te lewe, om te sterwe  (soos die een op Schiphol met Ahmed). Uraan en kernbomme. Waarom kan Isis hul kloue inslaan in Suid-Afrika? Omdat Moeslems nie hier geradikaliseer is nie of dalk omdat die goeie banke en kommunikasiestelsels die finansiering van terrorisme vergemaklik? So meen die implisiete outeur.

 

En ‘n verwonde held wat dink:

Soos Breyten Breytenbach, sy gunstelingdigter, geskryf het, die lewe is ’n asem lank en die sterre op die anderplek donker (p. 121). 

 

Castelyn was ‘n krygsgevange in Togo, hierna gevra om te spioeneer op die ambassadeur in Parys.


Maar is hy as gekweste persoon “objektief”? Sien hy werklik wat alles gebeur het rondom hom? Hoekom was hy so naïef oor die vrou wat hy “liefgehad” het? Die verwysing na Togo is baie goed, want hiermee word die fetisj-mark en voedoe in Lomé betrek.

 

Daar word dikwels, verkeerdelik of korrek, verwys na John le Carré, die meester van hierdie sub-genre, wanneer tekste in Afrikaans beoordeel word. In 1964 het Le Carré se loopbaan in die spioenasiediens tot ‘n einde gekom weens verraad en ‘n dubbele agent se optrede. George Smiley in Tinker Tailor Soldier Spy (1974) se “Gerald” is gebaseer op Kim Philby.

 

The Spy who Came in from the Cold (1963) bly wat my betref een van die beste verhale nog met die onverwagse openingstoneel wat jou in die maag tref.

 

Watter soort karakter word so ‘n spioen of dubbel-agent? Presies dít wat Quintus van der Merwe uitwys: ‘n weifelende, ambivalente, komplekse persoonlikheid.

 

Anders as James Bond wat adret en presies weet wat om te doen. Daarom was die laaste film met Daniel Craig in, No Time to Die, nie korrek nie; al het ‘n feminis by ‘n kongres beweer hy ontdek sy vroulike self. Ai, afwykings van die voorskrifte van die oorspronklike Fleming-matriks, krap die kaarte deurmekaar.

 

Jerry Palmer in  Thrillers - Genesis and structure of a popular genre  (1978) in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology" en Umberto Eco in The Role of the Reader (1981) verwys na paranoia as ‘n belangrike dryfveer in die thriller (Umberto Eco: The narrative structure in Ian Fleming. Besoek 27 Julie 2022).

 

Le Carré het uit eie ervaring geskryf nes Quintus van der Merwe sy spore verdien het in die wêreld van die diplomatieke diens.