Wednesday, August 24, 2022

Resensie | Jef Geeraerts – Mister Angelo Alzheimer (Vertaal deur fanie olivier) | Naledi, 2022

Jef Geeraerts – Mister Angelo Alzheimer (Vertaal deur fanie olivier). Naledi, 2022. ISBN 978 1 77 617 222 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Mister Angelo Alzheimer  deur Jef Geeraerts is ‘n uitmuntende krimi met Vincke en Verstuyft as die speurders. Dit het sopas verskyn by Naledi en is vertaal deur die digter en bloemleser Fanie Olivier.

 

Wat ‘n wonderlike speurverhaal en alle liefhebbers van die krimi, veral diegene wat Georges Simenon en Hercule Poirot waardeer, sal hier ‘n hele dag lank kan weglees. Jef Geeraerts (1930-2015) is in Antwerpen gebore en word beskou as een van die belangrikste Vlaamse skrywers uit die tweede helfte van die vorige eeu.

 

‘n Mens dink aan ‘n roman soos Black Venus en sy tekste oor die indertydse Belgiese-Kongo (DRK) kom telkemale aan bod by kongresse. Is dit pornografie?, word gevra, en sy kommentaar op die kolonialisme open steeds gesprekke. 

 

Eers dan iets oor hierdie pakkende roman: dit is geskryf met ‘n vaart en handel oor twee speurders wat moorde moet oplos gekoppel aan geldwassery en bedrog. Die psige van die reeksmoordenaar en Alzheimer se siekte is die ondergrond van hierdie boeiende teks met twee speurders wat alles ondersoek oor die “vuil gekonkel” van die mensdom.

 

Van die krimi’s is al verfilm soos Memory met Liam Neeson in 2022.

 

Vir elke gaatjie is daar ‘n draadjie en dit is dan van toepassing op hierdie besonder knap gekomponeerde roman waarin jy die stad Antwerpen kan sien en ruik met bekende straatname. Daar is selfs kaarte voorin om die begeleiding te vergemaklik. Die Schelde hier in die roman wat oorspronklik in 1985 verskyn het.

 

Die forensika word deeglik verantwoord en ‘n fout van ‘n ondersoekbeampte deur die twee beterweters uitgelag. En leuens met verdraaiings (‘n betroubare kroegman is so skaars soos ‘n wit kraai, lees ons op bladsy 87) met verwysings na films wat die idee van die werklikheid van die storie beklemtoon, ‘n truuk altyd bekend aan hierdie sub-genre. Die speurders is werklike mense wat nadink oor fiktiewe helde soos Charles Bronson in New York in die film Death Wish(1974). Hier is ‘n verwysing na  Dauphne de Maurier se Rebecca (1938) en met toespelings op Manderley. Hitchcock se filmweergawe speel natuurlik eweneens in op jou leeservaring, indien jy dit ken. The Godfather (Mario Puzo se roman van 1969 en Francis Ford Coppola se manjifieke rolprent) word betrek.  ‘n Karakter lyk soos Philippe Noiret. 

 

Laurel en Hardy maak ook ‘n draai. Alles kortpaaie om die storie te verpak.

 

Die kill thrill en die adrenalien van die moordenaar word deeglik ondersoek en jy as leser (as speurder) word saamgeneem op ‘n ongelooflike, senutergende wiprit. Die karakters word kleurryk geteken en daar is beskrywings van seks tussen eggenotes.

 

Lawrence Venuti onderskei in The translator’s invisibility: A history of translation (1995) tussen twee maniere van vertaal: om die vertaling huis toe bring of dit weg te stuur. Olivier het dit meestal huis toe gebring, ofskoon, hier en daar, vreemdhede is wat opval. Byvoorbeeld spreek ek (in plaas van praat ek, bladsy 132; hiermee wil die vertaler die outydse manier van praat registreer), tru (vir agteruitry, bladsy 57), skoonverdieping wat geen Afrikaanse leser sal ken nie, maar wat wél verduidelik word, bladsy 75). Franse uitdrukking word direk ná die Afrikaans geplaas. Die Vlaams is bekend aan die gemiddelde leser.

 

Dus bring Olivier die vlot vertaling huis toe, maar hy stuur dit ook wég na die plek van herkoms met Franse woorde of ou Vlaamse uitdrukkings. Venuti meen dat vreemde woorde en invloede in die vertaling moet bly en dit is presies wat Olivier dan doen. Hierom word die konsep Verharmlosung behou in die mond van Vincke.

 

Die vertaler gee voorin ‘n leersame verduideliking van sy vertaalroetes. En die leser dink na oor elke kwessie. ‘n Mens sidder om te dink hoe die Rand agteruitgeboer het wanneer jy Olivier se verduidelikings oor omsettings lees (bladsy 10).

 

Ander vertalings van Olivier is:  Die mooiste meisie van Genua (La Superba deur Ilja Leonard Pfeijffer), Wanneer gode slaap (Godenslaap deur Erwin Mortier) en Van kant gemaak (Woesten deur Kris van Steenbergen).

 

Oliver is die bloemleser van Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte en ‘n bekroonde digter, wat volgens hierdie leser nie genoegsame erkenning tans geniet nie.

 

Wat die vertaling betref: die roman lees besonder vlot. Dit is wat hierdie leser betref die allergrootste toets vir ‘n geslaagde vertaling: jy kom nie eens agter dat jy vertaling lees nie.

Hierdie roman is pico bello soos ‘n karakter opmerk.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)