Monday, August 15, 2022

Onderhoud | Marlise Taljard gesels met Joan Hambidge oor haar nuwe bundel “Sanctum” | 2022


Marlies Taljard (MT)

Joan, veels geluk met jou nuwe bundel, Sanctum, wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. Dit is jou derde bundel die afgelope twee jaar. Jy is ʼn akademikus wat navorsingstake het en klasgee by die Universiteit van Kaapstad. Hoe kry jy dit reg om soveel kreatiewe uitsette in so ʼn kort tyd te lewer? Wanneer het hierdie bundel ontstaan? Die titel dui aan dat gedigte met ʼn bepaalde tema in die bundel opgeneem is. Lê hierdie gedigte al ʼn ruk lank in die metaforiese “laai”, of is dit nuwe gedigte? Kan jy iets sê oor die ontstaansgeskiedenis van die gedigte en oor die skryfproses van die bundel.

 

Joan Hambidge (JH)

Die gedigte het ontstaan tydens die inperking in daardie tyd van onsekerheid. Ek sou reis Rusland toe vir my sabbatsverlof wat toe ‘n andersoortige reis geword het. ‘n Binnewaartse reis. Dus nie ‘n kort tyd nie, want ek het my hele lewe in oënskou geneem.

My klasse inspireer my altyd om nuwe temas te ontdek. Tegnieke. Ek dink hierdie bundel doen dit deur minder bekende vorme te ontgin soos byvoorbeeld:

 

Inuïet-gedig
Die Eskimo-woord wat beteken om ’n gedig te skep word gelykgestel aan asemhaling. Dit verwys na amerca of die siel. Die soort gedig werk ook met herhaling.


Kautata
’n Kautata is ’n nie-rymende Japannese gedig wat bestaan uit drie reëls in die vorm van ’n vraag en antwoord.


Redondilla

’n Spaanse gedig gewoonlik met  8 sillabes met ’n kwatryn-rymskema (aa / bb).

 

MT

In die openingsgedig, “Sanctum”, skryf jy:


In die huis van Onse Vader is daar glo

vele wonings nes in die huis-van-die-digkuns

met sy vertrekke en stansas en rondele.

En in “Kamer van spieëls”:

Die gedig is ’n sanctum,

’n tempel, ’n aktiewer woord,

’n plusquamperfektum

om Van Wyk Louw

by te haal.

 

“Sanctum” is die Latyn vir “heilige plek”. Dit kan ook verwys na ʼn eie, private plek waarvan ander mense uitgesluit is. As motto van jou bundel neem jy Van Wyk Louw se woorde uit Tristia: “Die groot Tempel, die aktiewe Woord”. In hoeverre is jou gedigte (vir jou) ʼn tempel of sanctum? Ook wat betref die skryf van gedigte oor die algemeen – nie net die gedigte wat in hierdie bundel opgeneem is nie.

 

JH

Hierdie tyd van inperking het my diep getref. My laaste werklike reis na Tunis en die beplande een na Rusland was skielik ver weg. Soos die een voor dit na Colombië.


Toe begin ek skryf. Ek bewaar altyd reiskaarte, biljette en ‘n plattegrond van ‘n stad. Ek het vele reisboeke. En dit bring herinneringe terug. Munte en note uit vreemde lande. In Nagasaki het ‘n restauranteienaar vir my ‘n pragtige afdruk gegee in ruil vir ‘n noot uit Suid-Afrika. Op my lessenaar is daar ‘n Dez Kwanzas en nommer 25836 vir die shuttle na Shiba Park in Tokio. Soveel reis wat in hierdie bundel beslag kry: Suid-Amerika (veral Peru), Amerika, Europa …


Ek het tot driekeer per jaar gereis. Een van die voordele van die akademie is lang vakansies en sabbatsverlof.

 

MT

Die bundel het ten minste gedeeltelik in die Covid19-tyd ontstaan. Hoe het Covid19 jou beïnvloed? Sou mens kon beweer dat die pandemie (in die kunste) ʼn nuwe koers aan die voor-Covid-lewe gegee het?

 

JH

Absoluut. Ons kyk nou anders na die lewe, na mense, na ervarings. Vir my was dit ‘n belangrike reinigingsproses. Om die lewe vanuit ‘n ander hoek te beskou. Dit het my opnuut bewus gemaak van die kortstondigheid van alles. Ons leef nou. Carpe diem. Ek leef elke dag asof dit my laaste dag is. Hierom het ek ook alles wat oortollig is uit my lewe gesny. Tyd van verhuising en besinning.

 

MT

Jy is ʼn wêreldreisiger. Vertel asseblief van die indrukwekkende plekke wat jy al besoek het – veral ook dié wat in hierdie bundel neerslag gevind het.

 

JH

Dit is alles op my blog en in my gedigte opgeteken. Machu Picchu wat ek driekeer besoek het. Tokio. Buenos Aires. Chili. Hong Kong. New York. Die Andes-gebergte. Suid-Amerika praat met my. Verdraaide raaisels verklap dit reeds.

 

El Condor Pasa

“Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte”. Pablo Neruda

 

In Macchu Picchu, die heilige Inka-stad,

hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:

“die nagwind draai in die lug en sing”.

In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis

ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.

Heilige Macchu Picchu bewaar sy gees

teen die onstuimige rivier en kil berglug

– sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.

Al die aangebode raaisels hier aanwesig

in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.

Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood

lê ‘n nuwe begin ópgesluit.

Met die aflegging van die self soos ons opbeur

na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,

pynlik bewus van ons argeloosheid

oor die krag van die lewegewende natuur.

Klim op, hoër na self-

loosheid – na stilte volledig.

Die kosmiese plan hier aanwesig,

argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan

van nuttelose oordaad of menslike verdelging.

So ook die reis in die self: ‘n smagting

na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.

Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

 

Uit: Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.

 

MT

In sy gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” skryf I.L. de Villiers:


as niks meer heilig is nie

word alles heilig


De Villiers verwys hier na Bonhoeffer se verklaring in die gevangenis, dae voordat hy deur die Nazi’s tereggestel is. Sy sel en die plant van tamaties tuis en in die binnehof van die gevangenis het vir hom heilig geword:


“Wenn die Bibel auch Orte “heilig” nennt, dann tut sie es deswegen, weil Menschen an diesen Orten die Gegenwart Gottes erlebt haben. Ein Ort ist heilig, weil dort der Heilige, der ganz Andere, weil Gott dort einem Menschen spürbar nahe gekommen ist.”

(As die Bybel plekke “heilig” noem, is dit omdat mense die teenwoordigheid van God in daardie plekke ervaar het. ‘n Plek is heilig omdat die Heilige daar is, die Gans Ander, omdat God daar merkbaar naby aan ‘n mens gekom het.)


In Afdeling I skryf jy oor die heilige stad Nagasaki, “Gandhi se ashram in Ahmedabad”, oor die Tao, oor Freud se huis in Wene in die Berggasse, oor lyke op die Ganges … Die leser lei af dat hierdie plekke ook sanctums is. Die reis en die besoek aan vreemde plekke is in die Jungiaanse psigoanalise besonder sterk motiewe. Wat is dit wat jou fassineer aan reise?


Ek kry die gevoel dat hierdie bundel ʼn soort bedevaart is …?

 

JH

Ja ‘n bedevaart. ‘n In-kering. ‘n Mens verstaan dikwels eers by nabaat wat jy beleef het. Soos met verhoudings en vriendskappe wat jy eers volledig verstaan wanneer dit verby is …


Ek het altyd notaboeke by my en skryf indrukke neer.


Freud se huis het ek besoek in Wene tydens ‘n ICLA-kongres. En Wene het besonder mooi katedrale. Freud is ‘n verstommende intellektueel en The Third Man is ook in Sanctum.


En I.L. de Villiers is ‘n besondere digter wat sowel vorm as inhoud betref.

 

MT

Hoewel die woord “sanctum” ʼn mens aan stilte laat dink, word daar egter in hierdie bundel heelwat gekuier. Jy dra die bundel op aan Johann de Lange, jy dra gedigte op aan (onder andere) Johann Lodewyk Marais, Wilhelm Jordaan, Bernard Odendaal, C.F. Rudolph; jy leen by N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, D.J. Opperman, Velázques, Escher; jy skryf herinneringsverse aan gestorwe vriende – Danie van Niekerk, Thomas Deacon, Gisela Ullyatt, Biskop Tutu en Johan van Wyk. Verwysing na vriende, kollegas, teoretici en ander kunstenaars is ʼn kenmerk van jou poësie. In hoeverre is gedigte gesprekke/selfgesprekke? Hoe beïnvloed mense wat jy ken of geken het, teoretici wat jy lees en kunstenaars wie se werk jy bewonder jou eie kunsskepping? Kan kuns vandag überhaupt nog iets anders as ekfrase en hersirkulasie wees?


Ek dink byvoorbeeld aan dié vers:

 

Brevet

na Eybers


Stip soos ’n belastingkontroleur

sal ek allengs idees bly navigeer:

oor ervarings by tempels en katedrale,

nou net in fantasie hierdie opgawe.

 

JH

Alles is reeds geskryf en gesprekke met die Ander is ‘n voorreg.


Alles is waarskynlik hersirkulasie. Ek keer altyd terug na dieselfde temas en kwessies.


‘n Mens is ‘n mens deur ander mense. Jy is ook ‘n digter gevorm deur ander digters en mentors. Opperman het my aan Wallace Stevens voorgestel. My gesprekke met Johann de Lange, wat reeds vanaf die begin van my digterskap daar is, moet altyd gesien word as van onskatbare waarde. (Hierdie bundel word aan hom opgedra en my bure wat my ondersteun het tydens die inperking. En vir al die aangesprokenes.)


Eybers se Verbruikersverse en Winter-surplus wat my inspireer om die besondere tegniek, lees ek daagliks.


Ek lees ook elke dag Henning Snyman se Mirakel en muse oor die implikasie van die digkuns en Cuddon se studie oor literêre terme. Veral Snyman se siening van literêre semantiek en Ina Gräbe se uitmuntende interpretasies van gedigte is handleidings.


By my word die digterskap gevoed deur teorie en psigoanalise. Tom Chetwynd se Dictionary of symbols is ‘n ander Bybel. Jung is altyd neffens my soos die versamelde Opperman wat op my bed rus.


Afrikaans het uitstekende digters. En soos die sublieme Cussons en Neruda glo ek: daar is nie digters nie; net ‘n digkuns …


As dosent in kreatiewe skryfwerk het ek deur die jare uitstaande digters begelei en elkeen by sy of haar eiesoortige styl of lewensreis probeer uitbring. En eweneens studente begelei akademies oor digters soos Olga Kirsch (Thomas Minnaar) en Johann de Lange (Dawn Fritz).


Umberto Eco, Roland Barthes, Harold Bloom, Jacques Derrida, Hélène Cixous, o.a. inspireer ook. Volgende jaar verskyn my kampusroman Stasies by Protea waarin ek die problematiek van die moderne kampus en kreatiewe skryfwerk ondersoek.


Lewensreise. Geboekstaaf in gedigte. En die mentors hoef jy nie in lewende lywe te ontmoet nie. Hulle praat deur gedigte en tekste.


Wyle Danie van Niekerk, die uitgewer, het my aangemoedig as digter. Ons het later groot vriende geword en sy dood was vir my ‘n groot verlies.


Deborah Steinmair en Joan-Mari Barendse het stip gelees en vrae gevra en die proefleser, Anzette Williams, moet vermeld word soos die kunstenaar Hanli Deysel. Protea het ook Nomadiese sterre uitgegee.

 

MT

Soos in jou vorige werk figureer jou kindertyd en herinnering aan jou ouers ook in hierdie bundel. In die openingsgedig reeds:

 

As kind in huurhuise, hotelle, tydelike vestings

vertoef; selfs in ’n woning langs ’n begraafplaas:

ligene, geroep klipblomme, groeiend op die stene

tot ons laaste huis langs die walle van die Vaal

met kannas en malvas en sipresbome.

My moeder, die tuinier-met-groen-vingers

en my vader, die man-van-versekering, leer my

jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie

Huis van die Vader, buite tyd of verdriet.

 

Jy is ʼn kenner van die Jungiaanse psigoanalise. Kom ʼn mens ooit los van jou ouers en van jou kindertyd – die werklike of die gedroomde? Hoe het jou ouers en jou kindertyd jou en jou lewe en jou kuns gevorm? Is die verlede met die bekendes, jou ouers en susters uiteindelik argetipes wat jou rig?

 

JH

My ouers is eweneens in my gedigte nes my susters. Argetipes, maar ook werklik. Toe ek onlangs my kantoor moes opruim, kom ek af op briewe van my ouers. Ondersteunende ouers. Ook kompleks toe ek jonger was. Hierdie gedig, ‘n lament geskryf voor hulle dood.

 

My ouers 

 

i

Van haar, my kromgetrekte moederlief

erf ek my ontevrede, wrewelige, onvergenoegde aard:

Gister was ‘n beter dag.

Van hom, my forsgeboude vaderlief

kry ek my droomverlore, romantiese, onverskrokke aard.

Die een kan woorde soos blokkies pas.

Die ander het bykans die lewe in drome verpas.

En ek?

Hul erfstuk?

Die een sy van die Januskop

kyk terug na wat was;

die ander sy vooruit

na dit wat woorde kon vermag.

ii

 

Vroeër was dit maklik om my weg

te draai van julle, my ouers

ewige aangesprokenes

in my gedigte en gebede.

Kyk, hierdie is ‘n klaagsang

eer julle vertrek na die ander oord

omdat ‘n lykdig onvanpas mag opklink

by ‘n geleentheid van onherroeplike stilte.

Vir haar, my kromgetrekte moederlief

vir hom, my forsgeboude vaderlief

iets korter as ‘n brief

iets meer as ‘n erflating

durender as ‘n grafsteen

betroubaarder as ‘n polis

kosbaarder as ‘n familiering:

Elke vers wat uit my spruit

met toegeneentheid 

aan hul te dank.

 

Haar stem die metrum van my verse

Sy hand die vorm vir my verse.

Uit: Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000

 

MT

Die oop hand verskyn op die voorblad van die bundel en aan die begin van elke afdeling. Dit is ʼn belangrike kode in die bundel. Wat is die belang van die hand vir die bundel as geheel? In aansluiting by my vorige vraag: is daar argetipiese betekenis in die hand?

 

JH

Ja, die hand is simbolies belangrik. Ek kyk altyd na mense se hande. In die VSA het ek by ‘n tweedehandse boekwinkel ‘n boek gekoop oor palms en die betekenis van jou hande.

 

Pyn het glo geen vervaldatum

La bonne aventure dans de la main,

as u wil, ’n Idealistiese hand,

vol intuïsie en melancholie.

Beide gidse aangekoop

in die verre vreemde

op Harvard Square voor 9/11

en al die ander vuishoue

van ’n hand se avonture.

 

MT

Die laaste afdeling van die bundel bevat vertalings van Plath en Kavafy. Wat is die nut daarvan om gedigte te vertaal? Wat was jou vertaalstrategie?

 

JH

Om ‘n gedig te vertaal is ‘n uitdaging. Veral Plath was moeilik om te transporteer na Afrikaans. Sy gebruik ‘n beeld binne-in ‘n beeld …


Ek het hierdie gedig “Morning Song” ongeveer 6 keer oorgedig. Dan lees ek dit hardop voor om die klankpatrone in Afrikaans reg te laat klink en terselfdertyd getrou te bly aan haar gedig. Ek het ‘n opname van haar gedigte waarna ek geluister het om iets te probeer verstaan van haar skryfstrategie. (HarperCollins 1977). Sy lees so gedistansieerd voor. Pynlik om na haar te luister.


Sy is ‘n baken in my lewe. As jong skolier Ariel gelees en was meegevoer deur haar gedigte …


Om ‘n digter te vertaal leer jou altyd iets van tegniek.


Jy moet presies elke woord verstaan en dit dan korrek vertaal in jou taal. Vertaling is ‘n soort reis.

 

MT

ʼn Voorlaaste vraag: Hoe belangrik is vormgewing vir jou as digter? Kan ons nie nou maar van allerhande voorskriftelikhede en vaste vorme in die poësie ontslae raak en skryf soos ons wil nie?

 

JH

Nee. Vorm is belangrik. Ons kan nie net skryf soos ons wil nie. Poësie, ook die vrye vers, het reëls. En as jy snap watter spel die digter met jou speel, is dit ‘n ontdekkingsreis. Soos jy verander, verander die gedig ook. Jy sien meer raak. Komas uit ‘n bamboesstok is byvoorbeeld soos Tristia bundels wat uitdaag.

En om te dig, moet jy jou tradisie ken. Wat het vóór jou gebeur.

 

MT

Watter gedig som die bundel vir jou die beste op?

 

JH

Vir nou:

 

Totem

 

Ek is my tempels

my katedrale ruïnes

versugtinge

verbeelde reise –

Ek is my onthoue

verliese verdriete

verraad (soos)

versmade verse –

Ek is my vrese

verlatings om en by

die wortel van dié kwaad:

opgehoopte kwellings –

Ek is my aandagstrepe

tersydes en aanhalings

konfessies en vermanings

in gedoemde ellipse –

Net die allergroot verhouding

met die groot aktiewe woord

daardie tempel staangemaak in Tristia

maak nog sin tot die dood

ons skei – leser, jy of u.


(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)