Douglas Reid Skinner – A Short Treatise on Mortality. uHlanga, 2022. ISBN 9780620986892
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie is gedigte geskryf deur ‘n sterk digterlike hand wat tegnies in beheer is. Die digter het nog altyd besondere aandag gegee aan vorm en die bundel word begelei met die woorde: “a lifetime of writing becomes the writing of a lifetime.” Ons beleef ‘n bestekopname, soos die titel waarsku, van ‘n digter wat terugkyk op sy lewe en vele geliefdes en vriende moes afstaan aan die dood.
Douglas Reid Skinner, ‘n boorling uit Upington, is die redakteur van Stanzas en die Engelse redakteur (en vertaler) van die AVBOB-poësie projek. Dit is dan ‘n digter wat die digkuns van buite en binne ken. Hy is tans woonagtig in Surrey. Hy is ook ‘n “fine wine trader”.
Poesie Scelte: Selected Poems sy vertaling uit die Italiaans van Marco Fazzini se gedigte is hiervan ‘n bewys: hy transporteer die gedig wonderbaarlik na ‘n nuwe dimensie soos die taalkundige konsep dan dit beskryf: transpreter.
Hy vertaal en interpreteer. En ‘n gedig by uitnemendheid is dan ook ‘n vertaling van emosies, herinneringe, wandelinge wat die digter oordra in taal. Hierdie leser beskou die bundel as ‘n anatomie van die digkuns, soos Marjorie Boulton dit beskryf het in haar klassieke teks uit 1953.
Universele en persoonlike temas, soos Mark Revelle meen op die skutblad: “An oberserver’s testament, but an observer observing self as much as the elements.” Die voorblad is ‘n wasige strandtoneel: aankoms en vertrek; ‘n boot en ‘n skip; migrante en locals. In sy digkuns vind ons dan telkens ‘n dubbelblik oor sy verlange en herinneringe terug na sy herkoms en die belewenis van die hier-en-nou.
Is die digter se werklike biografie sy digkuns soos daar via Brodsky beweer word? Eweneens ‘n digter wat in die vreemde ‘n nuwe “staning onder die sterre” moes vind. Dikwels het hy al oor liminaliteite of tussentoestande geskryf.
Inderdaad vind ons ‘n verwysing na Kaappunt (“Thirty-Four South, Eighteen East”), maar ook gesprekke met klassieke digters, ouer digters (Coleridge en Wordsworth, o.a.) wat die “biografiese”, letterlike aspek problematiseer in hierdie bundel. Biografies ja, maar iets meer soos W.H. Auden waarsku in sy beroemde essay “Writing” (Selected essays, 23) dat die digkuns weens die talige aanbod altyd meer word as byvoorbeeld die matematiese bedryf.
II
“Out of the Blue” (26) is ‘n terugreis deur die ontdekking van ‘n gedig wat die digter indertyd geraak het en steeds raak. Maar dis meer as ‘n gedig wat “ontdek” word. Die digter word hiermee ook herinner aan ‘n vergete verhouding. “In the wide and dark landscapes of time” staan dit opgeteken in “Two Minutes” (18): wat word onthou, wat gaan verlore?
Humor en ironie is daar ook: ‘n fisant lyk soos Beau Brummel (16) en “The Book That’s Now Being Read” (44) handel oor die ouers wat amper nie getrou het nie; en gelukkig het Auntie Meg ingetree. En in hierdie gesprek met die digter dekonstrueer die spreker die digkuns en familieskap van verse: as hulle nie getrou het nie, was broer en suster nie hier nie en die boek wat jy nou lees ook nie hier nie!
“In the Wide and Dark Landscapes of Time” (82) word ‘n lykdig vir Chris Mann ‘n treurvers oor ander vertrekkende digters (Douglas, Don, Guy, Syd). Hy gebruik sterk landskapbeelde – bekend aan Chris Mann (1948-2021) se werk om hierdie innerlike proses te vergestalt. “Sunday” (83) met ‘n implisiete kopknik na Wallace Stevens wys hoe die gedig paradoksaal gebeur uit die niks, uit verlamming. Ofskoon hy die weg ken en dit al vantevore ervaar het, artikuleer hierdie gedig die liggaamlikheid van die skryfproses.
In die tweede strofe van Stevens se gedig:
II
Why should she give her bounty to the dead?
What is divinity if it can come
Only in silent shadows and in dreams?
Shall she not find in comforts of the sun,
In pungent fruit and bright, green wings, or else
In any balm or beauty of the earth,
Things to be cherished like the thought of heaven?
Divinity must live within herself:
Passions of rain, or moods in falling snow;
Grievings in loneliness, or unsubdued
Elations when the forest blooms; gusty
Emotions on wet roads on autumn nights;
All pleasures and all pains, remembering
The bough of summer and the winter branch.
These are the measures destined for her soul.
Pynlik is die onvoltooide gesprek met die moeder “On a Conversation Never Had”:
….Now, there’s nothing left
Except echoing words, an empty hand,
A departed dream, the draining sand … (75)
Hierdie gedigte artikuleer die besef: dat terwyl ons beplan en werskaf, gebeur die lewe (“It takes the Biscuit”, 68) wat ‘n aweregse gesprek met Proust se Madeleine-koekie voer. “Out Of Breath” (51) speel met Elizabeth Bishop in ‘n heerlike dansvers waar Tony Voss ook aangespreek word. ‘n Puik parodie, nee eintlik palinode waarin hy Bishop voltooi. Die verlies aan kuns is hier ter sprake en humoristies ontluister word.
Geoffrey Hill, Eugenio Montale, Cavafy, Borges en klassieke meesters soos Tacitus is hier. Tony Voss, Johann de Lange maak ook ‘n buiging.
“In Which We Examine the Idea of Progress” (60) is ‘n briljante politieke vers, universeel en lokaal. “Paradise” (62) lewer metakommentaar op Faure se In Paradisum via Brueghel se Aardse Paradys, implisiet Auden met Hollywood se suspension of disbelief. ‘n Kragtoer hierdie vers.
Die vertaling van Catullus (Catullus. Selected lyric poems) saam met die klassikus Richard Whitaker was uitnemend.
III
Hierdie bundel is soos ‘n goeie bottel Malbec: jy teug en proe en teug.
Pragtig uitgegee deur uHlanga uitgewers.
Bibliografie
Auden, W.H. 1956. Selected Essays. Londen: Faber.
Boulton, Marjorie. 1953. The Anatomy of Poetry. Londen: Routledge & Kegan Paul.