Monday, April 25, 2022

Resensie | Joanita Erasmus-Alt & H.P. Van Coller (reds.) - Blitsverkopers, beeldvorming & bemarking | SunBonani Media, 2022

Joanita Erasmus-Alt en H.P. Van Coller (reds.) - Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking. SunBonani Media, 2022. Sagteband: 399 bladsye. ISBN 9781928 424826

Resensent: Joan Hambidge

 

Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking  deur  Joanita Erasmus-Alt en H.P. van Coller is ‘n belangrike studie oor sisteemteorie. Resepsies en persepsies. Van Bourdeau tot Barthes; van Mukarovski tot Meizoz se Modern posterities of posture; van Kannemeyer tot Kyknet; van outonoom tot post-strukturalisme.

 

Dit het oorspronklik as ‘n doktorale studie begin (1991 aan die Universiteit van die Vrystaat) met die titel "Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste: ‘n ondersoek na beeldvorming" met Van Coller as die promotor.

 

H.P. van Coller het met Perspektief & profiel as redakteur belangrike werk gelewer tot literatuurgeskiedskrywing en sy werk, veral oor Etienne Leroux, is bakens binne ons literatuurkritiek. Joanita Erasmus-Alt, sy student (hy word erken as mede-outeur) gee ‘n belangrike literatuurwetenskaplike oorsig van formalisme tot sisteemteorie. Vier skrywers kom aan bod: Dalene Matthee, Marita van der Vyver, Francois Smith en Bibi Slippers om die simboliese kapitaal en materiële sukses van hierdie skrywers te analiseer.

 

Die “intrinsieke waarde” van ‘n teks kan deur ander faktore bepaal word. Die uitgewer, wyle Danie van Niekerk van Tafelberg uitgewers, het agter die skerms gesorg dat Griet skryf ‘n sprokie gepubliseer word ten spyte van die aanvanklike skepsis van ander lesers. Daardie soort uitgewer soos Van Niekerk en Koos Human, kon weens hul belesenheid en kundigheid ‘n skrywer se waarde bepaal. Etienne Leroux en Elisabeth Eybers had Human as raadgewer; Elsa Joubert en Dalene Matthee weer vir Danie van Niekerk.


En hierdie kwessies rondom beeldvorming word goed geanaliseer en geanker in bronverwysings.

 

‘n Gerekende voormalige uitgewer, Riana Barnard, het eenkeer in ‘n RSG-onderhoud vertel dat sekere boeke soos klippe in die water sink; ander word kerntekste binne ‘n literatuur wat bewys dat iets anders saamspeel. “Iets onsigbaars word voltrek …”

 

Daar is ‘n teks, ‘n uitgewer, anonieme lesers, publikasie (met blakerteks), onderhoude, Facebook, blogs, resensies, hekwagters, kundige resensente en selfaangestelde imbongi’s, boekhandelaars, biblioteke, lesers wat koop, leeskringe, die voorskryfmark, pryskomitees, boekeredakteurs (wat kan besluit wie sal resenseer of besluit die boek word nie bespreek nie), polemieke, voorlesings van boeke op Media24 …

 

Deesdae is daar minder resensies in dagblaaie en minder bekende persone resenseer o.a. op Litnet. Dan word die simboliese kapitaal verder verhoog deur studies en tesisse oor ‘n skrywer.

 

Dit roep ons kanonisering.

 

Internasionale studies word betrek in hierdie studie om die skrywer se postuur te bepaal. En die studie bring mediastudies, boeksosiologie, beeldliteratuur én literatuurteorie bymekaar. 

 

Die postmodernisme het uiteraard die duidelike skeidslyn tussen hoë en populistiese literatuur afgebreek en die demokratisering van die resensiebedryf sodat ‘n onbekende vryskut-resensent ook ‘n spreekbeurt kry, is ‘n uitvloeisel hiervan. Dan is die ander kant van die munt ook daar: gerekende literatore wil dikwels nie resenseer nie;  om persoonlike redes soos tydbeperkings of eie navorsing.

 

Waarheidsegging by Matthee; die rol van sprokies by Van der Vyver en hoe Ruan Kemp “antwoord” in Gedeeltelik bewolk op haar lewe en die oorlede man; die impak van verkragting en die uiteindelike trauma by Smith met ‘n waarskuwing van Karel Schoeman dat dit gevaarlik is om oor vrouesake soos dié te skryf (208) en ten slotte: die mediageniese beeld van Bibi Slippers waar die digkuns gekoppel word aan die gekonstrueerde persona.


Hierdie hoofstuk is ‘n hoogtepunt: Slippers het hierdie ondersoeker se teorie reg bewys teenoor Van Wyk Louw se afwysing van die skrywer as bemarkbare produk.

 

Die hele literêre landskap word opgeroep. Met hoofspore en afdraaipaadjies.

 

Daar is ‘n teks, ‘n leser en ‘n skrywer – en al die ánder buite-spelers. Waar die skrywers soms wys op tweemondige gepraat en die verskillende hoede wat gedra word (hier oud-uitgewer, hier blakerskrywer, daar op pryskomitee, daar berader), moet ons dalk net – vir die argief onthalwe onthou – ons is uitgedun met al hoe minder dosente en kundiges in ‘n land waar Afrikaans as doseer- en wetenskapstaal anders beleef en bedryf word. Ook tereg word daar uitgewys dat die dinamikas van pryskomitees telkens verskil (287).

 

Paratekstuele elemente speel altyd ‘n rol: Epitekste (inligting buite die teks soos resensies en onderhoude) en peritekste (omslag, kolofon, titel en subtitel) word geanaliseer nes die simboliese kapitaal wat ‘n skrywer inhou vir die uitgewer (91). Imagologie (beeldvorming) verskil van kultuur tot kultuur (62).

 

Soms word daar intimasies gemaak waaroor daar nie volledige kennis beskik word nie (224) en selfs diegene wat na aan die kulturele bruidskat van die uitgewersbedryf staan (85), wis ook dat van die rolspelers dikwels hul kaarte styf teen die bors hou.

 

Klein foutjies wel:


Dis Geslote baan (nie Geslote boom nie) van die uwe. De Lange se Nagsweet is deur Taurus uitgegee; nie Tafelberg nie (wat die resepsie en persepsie verander.)

Louis Esterhuyse … eerder Louis Esterhuizen.

L.I.Bertyn nie LIBertyn.

 

Dis ‘n belangrike en omvangryke teks wat beslis aandag verdien. Alles in ag genome hoogs leesbaar en insigryk.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)