Wednesday, September 22, 2021

Resensie | Eddy van Vliet – Na die wette van Afskeid en Herfs | Protea, 2021

Eddy van Vliet – Na die wette van afskeid en herfs (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2021. ISBN: 978-1-4853-1179-9

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Eddy van Vliet se bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet. So staan dit opgeteken op die buiteblad van hierdie verruklike, hartgrypende, lieflike versameling vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea uitgewers.

 

Dis helder, glashelder gedigte en oënskynlik eenvoudig. ‘n Dieper lees, wys op die parlando-styl en hoe vernuftig beelde sluit. Met ‘n slot wat jou in die maag tref.

 

Die digter se verse is outobiografies en van sy beste verse handel oor die versaking van die werklike vader wat die spreker probeer terugwen en begryp in die neerskryf van gedigte. Abandonment / versaking is immers die basis van Freudiaanse denke. Dit is weer herleibaar na die verhaal van Oedipus met vaderversaking en -dood.

 

Die vaderfiguur in hierdie teks word deur die gedigte opgeroep, aangekla en begrawe. En die spreker gaan in die herinnering terug na die oomblik van hierdie abandonment soos in die gedig “Pa” (17). En helaas is die mes verroes en dit is hierdie gevoel van magteloosheid om die vader te konfronteer en oorrompel wat enorme psigiese pyn veroorsaak, maar ook die drif (libido) word vir die kragtige verse. 

 

In die gedig “Die stad” (83) gebruik hy die ont- (negatief): ontneem, ontloop, ontkom en herhaal ontneem. Dit herinner aan Eybers se gebruik van die negatief soos briljant deur Hein Viljoen uitgewys in sy artikel “Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” (Literator | ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Besoek 20 September 2021).


By Van Vliet word die ont- egter omgekeer en die gedig herstel die orde van dit wat die “jy” hom ontneem het. Die digter is ‘n meester van verlies en die ingehoue aanklag wat daarmee saamgaan.

 

Die dood word direk aangespreek (“Dood”, 89) en uitgenooi om binne te kom:

 

Vee jou voete af en wees welkom.

 

Uit die bundel Glazen (1979) word genoeglike verse opgeneem wat elke liefhebber van whisky en konjak sal geniet. En jenewerdrinkers word ook vermaak.  Die konjakglas word ‘n heer met ‘n ronde pens vir wie Napoleon groete stuur met die slot:

 

Dit is die ware lewe

armoede is ‘n rooi leuen. (33)

 

Dit is my soort digkuns, moet ek openlik bely: outobiografies sonder dat jy hoef te gaan koekeloer in die kaste van die digter om die donker geheime na vore te bring. Die gedig word daardie donker kis vol familiegeheime, maar word ook méér as outobiografie. Die ware digkuns moet immers altyd verby die outobiografiese of konfessionele beweeg in die domein van die primordiale. Daarom is Anne Sexton se gedigte so treffend. Bloedskande en skandale staan opgeteken, maar die gedigte word meer as ‘n bandelose skinderkolom.

 

Hier is ‘n pragvers:

 

Vakansie

 

Dit was warm. Dit was Spanje waar ek vir briewe wag

en telegramme wegstuur. My suster wat nie ’n suster is nie

van verdrinking red. ’n Pa wat my verfilm, te lank in beeld

volgens haar wat hom van my vervreem het.

 

Dit was Spanje waar ek die haat verduur

soos brandnetelvuur ná ’n woeste gespeel in die veld,

die rykdom ervaar soos ’n bediende

die skittering van die silwerservies.

 

Dit was met my rug op Franco se portret gedraai

dat ek in my gedagtes die volmaakte moord kon pleeg.

 


En hier is nóg een van sy verse, in die oorspronklike taal
:
 

Afscheid van mijn vader [1]

 

Ik wil alleen maar zeggen dat ik het niet weet.

Dat ik het allemaal niet zo duidelijk zag,

zoals gebleken achteraf.

 

Het tuinhek diende plotseling gesmeerd.

De lege plekken op de muur bedekt en vlug

vlug de geur van scheerzeep weg.

 

De kalende die Homerus declameerde. De maïsvretende.

De charmante die uit Frankrijk parfum meebracht. Hadden zij

ook hun koffers gepakt, de huisvrienden van de vrije dag?

 

Ik schreef het reeds meer. Die morgen

liep hij van de keuken naar de straatdeur

en kwam niet weer.


Uit: Jaren na maart, 1983.


Eddy van Vliet (1942-2002) sorg vir vele leesplesiere.



[1] Gedichten | Afskeid van mijn vader, Eddy van Vliet | Gedichten.nlBesoek 21 September 2021

  

[2] Sien ook: Woorde wat weeg | Eddy van Vliet - ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998) | Besoek 21 September 2021