Saturday, April 3, 2021

Rubriek | Joan Hambidge – Nostalgie | 2021

Foto: Philip de Vos


Soveel Afrikaanse tekste is tans nostalgies. Maar het hierdie wêreld ooit bestaan of verlang 'n mens na 'n geïdealiseerde plek in jou jeug? 

 

Of 'n mens nou luister na Rachmaninoff of Cesária Évora aktiveer dieselfde emosie: nostalgie. En hierdie woord het binne verskillende kulture ander betekenisse. Komorebi (Japannees) wys op die lig en blare wanneer die sonlig deur die blare skyn. Saudade in Portugees beteken 'n intense verlange na iets of iemand wat afwesig of weg is. Die bekende lied, die fado, wat ontstaan het in die 1820's is gekoppel aan hierdie melancholie. En melancholie staan ook baie na aan rou, aan verlies. Die volgende woorde word opgeroep wanneer 'n mens nostalgie intik:

 

Spyt, herinnering, onthou, sentimentaliteit, verlange, heimwee  ... in Frans lees ons mal du pays (homesickness). Sehnsucht in Duits.

 

En hoe mooi vertolk Mimi Coertse nie Heimwee nie wat Coenie de Villiers en Jan Blohm so grinterig sing in hul duet met die nostalgie wat steeds deurskemer.


In my kantoor staan 'n Japannese afdruk wat 'n man my geskenk gegee het in Nagasaki toe ek vir hom 'n R100-noot gegee het vir sy versameling teen die muur, met note van regoor oor die aardbol. Bestaan daardie eetplek nog? Die afdruk staan in my kantoor gesluit al vir langer as 'n jaar aan die UK. Hoe verlang ek nie nou na daardie ruimte nie.

 

Op een van my reise in Suid-Amerika het iemand vir my noot uit Angola persent gegee - vir my 'n simbool van melancholie. Hier was 'n slopende oorlog gevoer en oor daardie land het ons almal voorstellings gemaak uit die vele tekste wat ons daaroor gelees het.

 

Dez Kwanzas. Agterop twee bokke met horings in mekaar gevleg. En na regs die gesig van 'n man. Beeld van 'n dooie mens?

 

Hélène Cixous, die Franse filosoof (wat Derrida as een van die grotes uitgesonder het) praat van nostalgeria, die verlange na die jeug wat sy beleef het as jong mens in Algerië. Soos vele denkers in Frankryk, moes sy haar plek oopveg as denker in Europa. Die geborgenheid van haar jeug en die verlange na haar moeder staan opgeteken in haar pragboek: Portrait of Jacques Derrida as a Young Jewish Saint (2001).

 

In Botswana, so vertel 'n man my op 'n reis daar, oorstroom 'n rivier en die hewige reëns sny 'n ma-olifant van haar kleinding af. Vir drie dae roep die ma van die anderkant na hom ... En dan vertrek sy saam met die trop, terwyl die outjie alleen agterbly. In Japan het ek geweldige verlange na my heimat ervaar en selfs 'n gegraveerde pen verloor.

 

Komorebi

 

Tussen lig en donkerte

op die sinkansen na 'n futon

tussen Tokio en Nagasaki

 

verloor 'n pen my

tel tankas en haikoes op

bloeisels in Kioto

 

by die vele tempels

onthou ek nou 

dat dié heilige stad

 

tsoenami's, aardbewings, 

atoombomme,

oorleef het.

 

© Joan Hambidge