Gerard Scholtz – Stipstaar. Fluisterbos, 2021. ISBN 978 0 620 89603 0
Resensent: Joan Hambidge
Een van die mooiste haikoes in Afrikaans is geskryf deur Eveleen Castelyn:
Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde
Uit: Minder as die engele (1990).
Tony Ullyatt se River Willows dra die sub-titel: Senryū from lockdown. Tydens die pandemie het die digter elke dag só 'n vers geskryf en na 83 dae was daar 111 gedigte. Dis treurverse. Maar terselfdertyd vind ons hier 'n ervaring van die oomblik 'n besinning oor die verganklikheid van alles en die vreugde van die natuur.
Day 55
a gaggle of birds
quite lovely to listen to
and envy as well
In Dag 24 tree hy in gesprek met Bashõ, die meester van die Japannese kort vers.
Haiku (俳句 met die wending (of snypunt), genaamd kireji, handel oor seisoenale wisselinge met 'n 5/7/5-patroon. Masaoka Shiki het hierdie stylverskynsel sy naam gegee aan die einde van die negentiende eeu. Elke taal het egter alreeds buite Japan sy eie tradisie gevestig teenoor die rasegte een in Japan wat in een reël weergegee word teenoor die Engelse en Afrikaanse een in 3 reëls.
Matsuo Bashō is een van die beroemdste eksponente met die bekende
Quietly, quietly,
yellow mountain roses fall –
sound of the rapids.
Die haikoe sluit aan by die tanka wat eweneens voortreflik deur Castelyn ver-beeld is. Soos in die werk van Hélène Kesting saam haar eggenoot, Deon in die bundel Klein akkoord (1979).
Hierdie boek is ongelukkig uit druk uit. 'n Paar is bewaar in Groot verseboek.
Ons vind wel vele boere-haikoes in Afrikaans by gevestigde digters.
Scholtz wys daarop dat hy hierdie verse op sy vingers trommel tydens dag- of nagreise op daardie oomblik wanneer skoonheid, gedagtes, woorde of 'n ou versreël onverwags oopgaan of opduik.
Hierdie bundel is wonderbaarlik mooi uitgegee en moet saamgelees word met Raymond M. Smullyan se The tao is silent (HarperSanFrancisco, 1977) wat hierdie denkwyse vir die leser oopmaak.
Stipstaar is die regte benadering tot die lees van hierdie klein verse:
die blare verwaai
in die trae middagwind
word afskeidsbriewe
(104)
Die blare word afskeidsbriewe (konkrete beelde) wat die verhulde abstraksie (pyn en verlies) oordra.
wit vrugtebloeisels
val swewend na benede
dit sneeu in die boord
(91)
Die vrugtebloeisels wat val lyk soos sneeu en aktiveer die naderende winter (en ook verliese).
Daar is klein pragverse wat die leser met haar saamdra:
angelusklokke
lui oor heuwel en vallei
in landskapritme
(80)
'n somersmiddag
ons eet onder 'n sambreel
die son word botter
(59)
Kyk hoe praat hierdie bundel met wyle Gisela Ullyatt se Die waarheid van duiwe wat verlede jaar by Protea verskyn het:
swart stoppels
van die veld
swaels in die winter se kombers
(28)
stilte
is windklokkies
van glas
(29)
Lees hierdie bundel en kyk hoe vervlietende oomblikke opgevang word wat 'n hele wêreld laat oopwaaier in 'n spel met die konkete en abstrakte.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)