Saturday, March 13, 2021

Rubriek | Greyhound 2021

Die sluiting van die Greyhound-busdiens het my onkant betrap. 

Die Greyhound het die groot, wye landskap van die VSA vir my oopgemaak en elke keer wanneer ek 'n film sien met 'n Greyhound, raak ek erg nostalgies. En diegene wat neersien op 'n busrit, weet nie wat hulle misloop nie.

 

Hier te lande het ek al male sonder tal die bus geneem van Kaapstad tot in Johannesburg; of van Kimberley tot in Pretoria. Of van Pretoria na Durban.

 

Om die landskap deur 'n bus se venster waar te neem, is wonderbaarlik. Net 'n treinrit troef dit. 'n Mens sien en ervaar die ryk geskakeerde landskap. Jy ontdek hoé kompleks ons land (en ander lande) se mense is. So het die buswaardin 'n dronk man by Beaufort-Wes afgegooi, omdat hy die ander passasiers gepla het. Hy wou nog sit, toe loop hy al!

 

'n Down-sindroom-kindjie in Kimberley klim op die bus en groet my met 'n môre-tannie.

 

Sy is heel vrolik op pad na haar Tante in Pretoria. Toe ontdek sy haar R50 is weg.

 

Ontroosbaar huil sy en beskuldig een van haar maats in die tehuis van die diefstal. Uiteindelik gee ons op die bus vir haar weer geld en sy is rustig.

 

Hoe wonderlik was dit nie om deur Turkye met sy laaaaaaaaaaaaang paaie te ry van Istanboel in 'n sirkel terug tot in Istanboel nie. Met die gids wat paai: "Ons is amper daar!". Amper daar was elke keer nog drie ure weg.

 

En 'n knorrige man uit Sydney wie se tas in Plymouth gegaps is en vir twee weke deur die Britse kolonies woedend is oor hy geen klere het nie en hy sal die toergids gaan aangee bla-bla-bla en ons weet nie hoe wha-wha-wha ons almal is nie.

 

Selfs die buskollekte vir 'n nuwe broek, hemp en tandeborsel kon hom geen plesier gee nie.

 

En die moderne Greyhound met sy skerm waarop films gewys word. Hier te lande Leon Schuster wat in 'n rasdiverse bus almal laat skaterlag. Ten spyte van politiek-korrektes se gemor dat sy films aanstootlik is. Maar nou ja, selfs satire durf nie eens meer 'n bier-advertensie en min wetend julle beswaarmakers: daardie rooikop, Johann Vermaak, het 'n MA-verhandeling onder my leiding geskryf oor satire!

 

Nog iets wat vir altyd verby is in die tyd van korona.

 

Slow-mo, kan 'n mens 'n busrit noem. Dis werklik reis. Jou liggaam en gees kom tegelykertyd aan by jou bestemming. Anders met 'n vlug waar dit dae neem voordat alles weer sinchroniseer. 

 

As Roland Barthes maar net kon weet hoe die Greyhound hier 'n simbool is, sou dit neffens die "The 'Nautilus' and the drunken boat" opgeneem kon word in Mythologies (1957 / 1972).

 

'n Boot se "bliss of closure", 'n afgeslote eenheid, is eweneens van toepassing op 'n busrit. Die "unbroken inwardness", want elke busrit is uniek met sy mense en landskappe en intriges. 

 

Las Vegas, Nevada 

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke 

hul plek vol en sy ry met ’n Greyhound, 

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne. 

Met ’n achy breaky heart word die woestyn 

die perfekte back drop vir ’n down town-motel, 

waar reisigers en hoere kortsondig vertoef. 

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê 

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou, 

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn, 

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld, 

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel, 

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens. 

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas. 

In die Liberace-museum verpand broer George 

handtekeninge namens die virtuose vertolker. 

’n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit. 

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes, 

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck. 

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek 

na die American Dream, the greening of America: 

na dit wat soos ’n mirage in die woestyn glimmer. 

 

(Visums by verstek. Human & Rousseau, 2011).

 

© Joan Hambidge 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)