Monday, September 21, 2020

Resensie | Jen Thorpe - The Fall | Kwela, 2020

Jen Thorpe - The Fall. Kwela, 2020. ISBN: 9780795709579

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman speel in op die #Rhodes Must Fall / Fees Must Fall-beweging. Dit is 'n hoogs leesbare teks wat die impak van hierdie opstand weergee. Etienne van Heerden het dit aangepak in Die biblioteek aan die einde van die wêreld wat nog nie genoegsaam vertelling geword het nie en té na aan die dokumentasie gestaan het. Ook met 'n stywe skeut suspension of disbelief.

 

By Jen Thorpe vind 'n mens 'n vertelling van binne-uit en 'n gefiksionaliseerde en dikwels fantasieryke gegewe. Hector, die protagonis, word teenoor Thuli, die antagonis geplaas. Die angs, paranoia en onsekerheid van die spelers word effektief weergegee in 'n binnespraak waar verskillende vertellers aan die woord gestel word.

 

Die sementblok – waar Rhodes se standbeeld eens gestaan het – is in die afwesigheid steeds aanwesig. Hierdie leser het die beweging eerstehands aan UCT ervaar waar alles begin het en na ander kampusse uitgekring het. Studente se eise teenoor die owerhede se reaksie het tot dispute en opstand gelei. Daardie “underground root system of a forest” – soos dit op bladsy 312 opgesom het – het menige persoon uit 'n intellektuele gemaksone gelig en vele debatte oor postkolonialisme is en word steeds gevoer. Dekoloniseer ons voorgeskrewe werk, was van die eise. Ons is van Afrika en waarom moet ons betaal vir ons studies?

 

In die korona-tydvak het ons beweeg na 'n volgende vlak: aanlynklasse en verdere begrip vir studente se vrae oor waarom sekere boeke op hul voorgeskrewe lyste land.

 

Die moderne dosent weet ook dat tydens die 1968-opstande in Parys hoe dramaties denke verander het in die Linguistiek, Sosiologie en Literatuurteorie. Jacques Lacan het in 1968 sy seminaar onderbreek en met Daniel Cohn-Bendit in gesprek getree. Hier het hy dan die idee gekry om die meesternarratief te analiseer teenoor die diskoers van histerie, die Universiteit en die analis.

 

Die boek het 'n vliegoog-vertelling: elke storie ondermyn of bevestig die voorafgaande soos in William Faulkner se As I lay dying (1930).

 

Met die studenteopstande is dit dieselfde gesteld: daar is verskillende perspektiewe hierop van diegene wat die gooi van uitskot en die verwydering van beelde problematies vind en 'n miskenning van die geskiedenis tot diegene wat dink dit is reg. 

Die waarheid het immers altyd drie kante. En hierdie boek bewys daar is dalk meer. Van Hector se wit tekkies tot die einde. By die lees van hierdie boek het die verskillende perspektiewe iets van die problematiek opgevang.  Hector en sy meisie, Sindiwe teenoor Thuli, 'n heldersiende karakter wat gevare raaksien; die joernalis, ene Helen; Noné, die president; Ray, die minister van polisie en Adnan. Die roman het dus 'n sterk feministiese onbewuste en kritiseer die "fallostyne", met ander woorde, 'n blinde manlike orde. Dus is die titel dubbelsinnig: #Fees Must Fall maar ook 'n kritiek op die fallologosentriese orde.

Kan ons asseblief nou 'n swart vrouekarakter 'n ander naam as Thuli gee? Sewe dae se simboliese betekenis word ook geaktiveer.

Sarah Lotz se shout ("breathtakingly imaginative, original and entertaining") op die voorblad is ietwat oordrewe, maar 'n belangrike boek is dit wel. Bepaald vir die moderne dosent wat 'n roman oor hierdie tydvak wil voorskryf.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)