Sunday, September 6, 2020

Resensie | Die meeste sterre is lankal dood, Duimnaelsketse, en Oopkardoes (2020)

Johann de Lange - Die meeste sterre is lankal dood, H&R, 2020 | Johann de Lange - Duimnaelsketse, Naledi, 2020 | Hennie Aucamp - Oopkardoes, Naledi, 2020.

Resensent: Joan Hambidge

I


Die digter Johann de Lange het sopas drie bundels vir ons gelewer. Die meeste sterre is lankal dood (Human & Rosseau), Duimnaelsketse (Naledi) en 'n bundel boertige ryme van Hennie Aucamp wat heet Oopkardoes (Naledi). "Versôre" deur Johann de Lange.

 

'n Besondere prestasie wat De Lange se belangrike posisie bevestig as digter én bloemleser soos in Soort soek soort (1997) en Die dye trek die dye aan (1998), met Antjie Krog as mede-samesteller.

 

Die meeste sterre is lankal dood is vintage-De Lange in die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw, o.a.:

 

Slot 

 

Soggens & saans bid ek diskreet

bely die sondes waarvan ek weet.

 

Aanstons sal ook my gebed wegsink

& ek my koel gedagte skink

 

of straks, op 'n vraag vas-

steek, in medias

 

Louw se beroemde siening dat slotte ook sleutels is, word hier ópgehef: in medias res en dus onvoltooid. Die programgedig uit Tristia word eweneens geaktiveer.

Die gedig het nie 'n punt nie wat die leser noop om hierdie gedig te voltooi.

 

Al die bekende De Lange-temas is hier aanwesig: eensaamheid, die gesprek met ander digters, die dood, die natuur, portretverse, lykdigte, gay-verse, improvisasies en die ontginning van verskillende digsoorte. Ook verse wat getuig van 'n spirituele bewussyn vind ons hier met besinnings oor die wetenskap.

 

Telkemale is hierdie leser bewus van die vormtegniese beheer van die digter. Opvallend is die terugkeer na die sober woord, die skérp afgeëtste beeld wat die debuut Akwarelle van die dors uit 1982 kenmerk.

 

Hierdie selfkonfrontasie is aangrypend in die gesprek met Louw en Eybers in die soeke na die essensie van die ek-heid:

 

 

Ek is my 

 

Ek is my jare

my grys hare my jig

ek is my oorgewig

ek is my boeke my films

my liefdes my verliese

ek is my vriende my familie

ek is my lesse my berou

ek is my vergeet & my onthou

ek is my bloeddruk my pille

my hart my longe my lewer

ek is my voël & my knaters

my suksesse & my flaters

my lewervlekkies & my niere

my vergrote hart & my kliere

dit was ’n lang pad tot hier

van oordaad & tekort 

om ék te word

 

Sterre brand uit en lank daarna neem ons nog die lig op aarde waar. Op dieselfde wyse sterf digters, maar lank daarna is ons nog bewus van hul digterlike impak. Kyk hoe het Olga Kirsch na soveel jare "teruggekeer" en die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw in bundels en op die Versindaba bewys hierdie proses.

 

 

II

Duimnaelsketse heet sy bundel kwatryne wat 'n "opvolg" is van Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het.

 

Hierdie is mini-verse - 'n duimnaelskets is immers 'n vinnige skets sonder korreksie. En 'n mankement wys uiteraard sterker op in so 'n kort gedig. Die titel is egter misleidend, want die digter is wel besig met afgeronde verse, daardie "dinamiek van die gees", soos wat Opperman, self 'n voortreflike beoefenaar van die kwatryn opgemerk het in Standpunte 9.

 

Die kriptiese waarneming; sentensieuse en epigrammatiese aard van hierdie gedig, soos Opperman beklemtoon, is alom bekend. Ook die gebruik van die "spaarse woord". Waarneming én kommentaar geregistreer in vier reëls met verskillende rymskemas. I.D. du Plessis, Uys Krige, Opperman, S.J. Pretorius en Daniel Hugo is bekende beoefenaars van hierdie vorm in Afrikaans.

 

In die pragtige kwatryn vir Eybers en Kirsch word hulle buitestaanderskap beskryf in 'n gedeelde taal: Afrikaans. Die een woonagtig in Amsterdam, die ander een in Israel en tuisgebring in hierdie gedig:

 

Elisabeth Eybers & Olga Kirsch 

 

Kaapstad 1979, ’n laaste besoek

 

Vriende, én eensame ballings van ’n taal,

het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet

in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal

'n gedeelde taal gewissel, & gegroet.

 

Opperman se speelse en spulse parodie "Die weduwee Viljee" kry 'n grimmige voetnoot:

 

Die weduwee Viljee 

 

by 'n foto van 'n windverwaaide kraanvoël

 

Die weduwee Viljee gepluim & in wit geklee

trotseer op stokkiesbene die Sedoos tree vir tree.

In geel kapstewels stap sy, wankel & windverwaai,

ontwyk sy op die loopplank die see se neem-en-gee.

 

Opperman se woordspel met Emily D. en kry eweneens 'n nuwe aanslag in nog 'n digter wat verder borduur in die tuin van die eensame:

 

Die stilte van die bye 

 

met apologie Dirk & Emily

 

Skaarste van vye- & vygiekonfyt

& die bye se soet, geel tuinery:

want bye is skaars, maar nie digters nie,

met tyd & ink genoeg vir mymery.

 

 

III

Oopkardoes, die boertige ryme van Aucamp, is versorg deur Johann de Lange en is 'n uistekende bloemlesing met geil gedigte. Kwatryne, rympies, limericke, boeregrappe en wat nog, word hier saamgesnoer vir die leser wat met eindelose plesier saamlag. 

 

En soms saamhuil:

 

Ná ’n bottel likeur

raak jou uitsig versteur: 

Jy swalk tussen glase 

in verdwaasde ekstase

en sing kabaret in mineur.

 

Of vir (vet)pret:

 

’n Vrystaatse boer, ene Thijsie,

is kliphard op soek na ’n meisie: 

Moet kan skaap slag en bees 

en blymoediglik wees

’n stampblokkie snags vir oom Thijsie.

 

En vir vormbeheer met die stanza wat uit 5-reëls bestaan waar die eerste, tweede en vyfde rym met mekaar. Die twee korter reëls ( 3 en 4) rym ook dan met streng sillabiese beheer. Ook is die sogenaamde "bouncy rhyme" relevant.

 

’n Jags jong boertjie van Grabouw

het agteraf van mans gehouw.

Hy lok stukwerkers na sy skuur 

wat diens teen appels uitverhuur,

en mince, ontlaai, terug na sy vrouw.

 

Aucamp se bewaring van ou boerewoorde maak van hierdie bloemlesing 'n leesplesier duisend:

 

Teiresia Tert het ’n tuisbakkery,

die trots van haar dorpie, Lekkerverby. 

Wie lus voel vir meesmul 

kry vetkoek en reusel –

en ’n vinger in elke pastei.

 

Lees die hele versameling vir veelvuldige teks-tase ...

 

Ja-nee. Hoe ry die boere-sit-sit-so!

 

*

 

'n Prestasie om drie bundels vir ons te gee in hierdie grendeltyd:

 

Selfportret op 60 

 

Die hande in my skoot is nié meer van ’n knaap.

Ek skryf my jare in my taal, my kaartehuis,

& vind my weer terug waar als begin het, die Kaap

van Goeie Hoop. Hientoe verplant, geprys & grys.