Tuesday, May 12, 2020

Reisrubriek | Skink vir die harlekyn nog wyn | 2020


Vrydag, 8 Mei 2020 | Die goeie avontuur vasgelê in die hand

My dag begin sommer onderstebo toe ek lees op die internet dat sigarette steeds verbied word. En wette. Reëls. Strawwe. En die paranoia wat ons so omsingel dat mense nie meer die lewe kan geniet nie. As jy nie 'n masker selfs in jou motor aanhet nie, kan jy beboet word. Dan het jy 'n kriminele rekord.

Die vrees- en frustrasievlakke styg. Aanrandings en gendergeweld is aan die orde van die dag, en soos Amanda Gouws nou onlangs in haar rubriek in Die Burger uitgewys het, is daar selfs hotelle in Frankryk waar vroue beskerming kan geniet.

Hoe maak 'n mens as 'n man en vrou in so 'n bose kringloop vasgevang word? Klop jy aan die deur met versoeke tot stilte? Skryf jy 'n brief aan die verhuringsagentskap? Bel jy die polisie? 

Want ás jy stilbly, kondoneer jy geweld. Uiteraard is dit 'n bose sirkel van rusie – geweld – ópmaak sodat die vernielde vasgevang word in hierdie doellose web wat om haar of hom gespin word. Want mans kan ook verniel word deur partners.

Is jy skepties? Inderdaad ken ek gevalle waar die man swaar gestraf word deur die vrou se emosionele geweld en beledigings. Is 'n vuishou erger as 'n gemene tersyde soos jy is klein van aansien (en aanhang) en jy ly aan premature tokkelossies? 

Of insinuasies oor vaderskap?

Hiermee praat die uwe nie fisieke geweld weg nie en moes al as voorsitter van die Body Corporate mense aanspreek oor sodanige onaanvaarbare gedrag.

*

In hierdie tyd beland In the dream house van Carmen Maria Machado wat verlede jaar verskyn het op my lessenaar. Dit het internasionaal opslae gemaak het. Hier het ons eweneens 'n skrywer wat agentskap binne 'n lesbiese verhouding fiksionaliseer en vanuit verskillende perspektiewe beskou: as American Gothic, as pathetic fallacy, as spy triller, ensomeer.

Die verteller analiseer agentskap en hoe geweld binne verhoudings funksioneer. Sy ontmasker stereotipes oor lesbiese verhoudings en dat geweld ook binne hierdie domein gedy.

*

Die dag is gevul met e-posse om probleme op te los. Tussendeur – in dooie tyd – luister ek Frans.


Saterdag, 9 Mei 2020

Lucky Strikes. Dis al wat nou te vinde is vir rokers. Goddank dis nie Gunston Toasted of daardie dun Vogue-sigarette nie.

*

Waarom kyk ek so verbete na Seinfeld? Juis omdat dit die menslike kondisie uitwys as vals, leeg en agterbaks. En selfs in vriendskappe is daar gemeenhede en jaloesie. Of juis dalk daar?

Die humor is skerp. Jerry droom van Marie Antoinette by die guillotine. Die kop wat rol is egter Neil Diamond s'n wat Solitary man sing.

Petula Clark se Downtown word 'n sleutel vir die arme George wat alweer nie 'n opdrag by die werk reg verstaan nie.

Grappe gedy: 'n mens gee 'n footjie om negatiwiteit te systap. 

Jerry vind 'n perfekte metgesel met dieselfde voorletters as hy en meen: “I am looking for myself.” Maar wanneer dit verby is, het hulle die perfekte opbreek. Geen woede, geen verwyte nie. Helaas niemand glo hulle nie.

Wanneer Susan sterf omdat sy die trou-uitnodigings se koeverte lek, is George verlos van die gedwonge huwelik. Grensoorskrydend? Bepaald. Maar karakters word dikwels só verwyder uit sepies. Dink maar aan Dallas.

Daar was weliswaar groot polemiek hieroor – en George moes verduidelik en bontstaan. Vir my is hierdie episode dalk net te erg. Die satire gitswart (Stern Show Clip - Howard Talks To Jason Alexander About Susan From Seinfeld by Howard Stern | Free LBesoek 10 Mei 2020).

Hier is die onderhoud:

Skynbaar wel van haar gehou, maar sy het George se scenes geïntimideer en beweer. Dit het net nie tussen hulle gewerk as akteurs nie (Finally revealed/ The brutally honest reason why Seinfeld killed George’s fiancé Susan – BGR. Besoek 10 Mei 2020).

Maar die edge is altyd daar. 'n Gesteelde motor word ondersoek deur 'n polisiebeampte en die eienaar asof dit 'n lykskouing is met 'n dwarsklap na al die misdaadverhale op televisie.

*

Aaptwakkies, papegaaislaai, insangu, Mbjane, marijuana, zol, skyf, peperskyf, joint, ghanja, lagtwak, rondkyk-rothmans, inspirasie-spinasie, o.a.

In die buurt ruik 'n mens die lagtwakkies. Heinz Mödler het 'n belangrike gids hieroor geskryf: ... en daar was Dagga.

Cannabis sativa.

Theunis Engelbrecht het 'n roman met die titel Papegaaislaai gepubliseer:

Daar is ’n gespot met new age-sieninge en op bladsy 158 word die mees absurde titels naas mekaar gestel. ’n Satiriese klap na moderne skrywers wat so ewe slim-slim vir hul lesers wenke in die teks gee na die sleutels om die boek “reg” te verstaan. Hier staan Potjiekos van Matie Brink nie om dowe neute nie. En dis presies wat hierdie roman doen. Die grappe is opgesluit in die vreemde mengsels (Woorde Wat Weeg/ Theunis Engelbrecht - Papegaaislaai (2014)Besoek 10 Mei 2020).

Nou veiliger om betrap te word met dagga as met 'n sigaret. Jy mag verdink word dat jy dit onwettig aangeskaf het.


Sondag, 10 Mei 2020

Nog nooit was mense só gekonnekteer as júis nou nie. Daar is 'n netwerk van omgee en uitreik. 'n Verdieping van 'n woonstelblok in Kloofstraat, twee blokke van my, brand af. Vyf woonstelle afgebrand – dus mense sonder 'n blyplek of klere.

Die petroljoggie by die Engen-garage meen die brandweer het te laat opgedaag.

*

Die onthullende onderhoud van Hanli Retief in Rapport met Rooi Rose se redakteur, Martie Pansegrouw laat 'n mens hoop dat hierdie tydskrifte tog weer 'n nuwe lewe sal kry. Herman Lategan gee 'n uitstekende oorsig, ook in Rapport, van glanstydskrifte hier te lande en hoe Jane Raphaely onder andere styl gevestig en joernaliste opgelei het. Jy sit nie agter jou lessenaar nie; jy gaan soek na die storie. Na die klein besonderheid wat iemand anders misgekyk het of dalk nie kon vermeld nie.

Die koerant kondig aan dat Wes-Kaap dalk gaan terugbons na Vlak 5.

Skink vir die harlekyn nog wyn ...

*

En ons begin al hoe meer verstaan hoe die Israeliete moes voel om veertig jaar doelloos rond te dwaal.

Ann Fierry se boek Palmistry (1998) het ek jare gelede tweedehands aangeskaf. Teen R86, 00.

Vertel jou hoe om die palm se lyne te lees en vertolk.

Sy begin met 'n aanhaling uit Job 37: 7: “God seals up the hand of every man that all men may know his work:

La bonne aventure dans la main. Sy gee verskillende chiromantiese kaarte weer en daar is selfs 'n handkaart van Napoleon.

En hoe om hierdie lyne te interpreteer. Op universiteit had ek 'n vriend wat palms kon lees. Vele was skepties, maar daar is wel sekere dinge ingeteken. 

“Bulging life line” dui op 'n lang lewe. Ek kyk na die lyne op my hand soos 'n wafferse waarsegster en kyk hoe die rasionele en liefdeslyne loop.

Henk Serfontein had iets beet toe hy digters in hul hande 'n gunsteling-versreël laat opskryf het (Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif/ 'n onderhoud | LitNetBesoek 11 Mei 2020).

In 'n laai ontdek ek 'n klomp tarotpakke – selfs 'n James Bond-een.

*

Nou eers verder lees aan die pakkende roman In the dream house.

Die keel trek toe wanneer die verteller die virus wat die aarde sal plattrek, voorspel.

Die einde nie as vuur of vloed nie, maar as 'n virus wat van kontinent tot kontinent spring. 

*

Sondagaand. Hoewel ek tuis is en more nie 'n werksdag vir my is nie danksy sabbatsverlof, knaag die Sondagaand ouder gewoonte aan my.


Maandag, 11 Mei 2020

Media24 plaas hierdie resensie:

Petrovna Metelerkamp – Jeanne Goosen: 'n Lewe vol sinne. Hemel & see boeke, 2020. ISBN 9781 928 2833 93
Resensent: Joan Hambidge

Kort op die hakke van Het jy geweet ek kan toor en 'n boek met aforismes Los gedagtes,verskyn daar 'n biografie oor die veelkantige Jeanne Goosen: digter, kabarettis, dramaturg, romansier, rubriek- en kortverhaalskrywer. Uitsonderlike pianis, raconteur sonder weerga en dwarstrekker. Bekroon én bemind.

Daar is 'n chronologiese verslag van die lewe met hiate (wat die biograaf erken en aanvul uit die fiksie); daar is briewe (deur Goosen en van ander) en dan 'n afdeling “Vriende vertel”. Van 1938 tot nou.

Die storie-van-die-vriende vertel almal dieselfde storie: briljant, selfs geniaal met 'n woeste, donker kant wat menige vriend teen die ken of in die maag getref het. Maar altyd weer vergifnis juis ómdat daar soveel pyn is. Miskien lê dit opgesluit in die ambivalente verhouding met die pa, daardie bibberende ou Piet oor wie die mooiste lykdig geskryf is in Afrikaans? Of dalk die ma wat nie haar uitsonderlike kinders kon beheer nie?

Hierdie biografie oor 'n lewende persoon skep die voorspelbare probleme, omdat intieme vriende en geliefdes nog leef. Meer nog: die beroemde uitspraak dat die weduwee eers moet dood wees alvorens jy 'n biografie oor die bekende skrywer kan publiseer, is hier waar. Ten minste, sover my kennis strek, is daar drie ekse wat 'n eiesoortige blik het op die geskryfde.

Daar is vertellinge, anekdotes, herinneringe wat “veilig” vertel word weens hierdie buite-blik. Hier is Lizz Meiring en Sandra Prinsloo saam met Tessa Louw, vol in die kol. Dieselfde geld Marianne de Jong se weergawe van Jeanne wat haar paradoksale aard beklemtoon. Erika Lemmer gee waardevolle inligting oor Goosen se rubrieke wat later 'n kortverhaalboek word: Plante kan praat (2010). Ook hier is sy haar tyd ver vooruit.

'n Lewe vol sinne is 'n goed gekose titel wat inspeel op Elize Botha se Lewe met woorde, die Festschrift van 1990 (saamgestel deur Henriette Roos).

Om sin te maak uit 'n lewe, kom dikwels in die Goosen-biografie aan bod.

Dar word 'n komplekse beeld van hierdie skrywer gegee wat bykans met elke vriend 'n stel afgetrap het. Hettie Scholtz en Marietjie Coetzee, die twee uitgewers, begeleiers en herontdekkers van haar werk, kom die naaste aan hierdie rusie - opmaak-siklus. Elke bydraer verklap meer van sigself as van die skrywer Goosen. Maar hoe word die danser ooit van die dans geskei?

Is tekste van Goosen representasies of “weerkaatsings” van haar lewe as sy dikwels die waarheid “verdig” en bylieg?

Sy is immers altyd elders aan diens. Ek onthou 'n heerlike anekdote van Jeanne. Sy is in Weskoppies. Voor haar sit 'n ou vrou wat neul dat sy 'n peer wil hê. 

“Suster ek wil 'n peer hê!” Uiteindelik, uit radeloosheid, gaan koop die suster een en dan kou die ou vrou die peer voor Jeanne en met die laaste byt, slaan sy agteroor neer: dood.

Of die een waar sy valstande van ou mense in die gestig uit die glase haal en omruil.

Dan is daar Jeanne wat klavierspeel en verskillende weergawes maak van “Oh Mammy Blue”.

Die CV wat Metelerkamp aanhaal som haar ten beste op: sy is deur gypsies gesteel.

Skryf is nogal soos toor, waarsku sy (107).

En haar gedigte is uitsonderlik! Liefdesgedigte (van die mooistes), sinisme, buitestanderskap (soos gay-wees), die donker kant van die psige: vrolikheid en depressie, musiekverwysings, weerloosheid, surrealistiese beelde, die gedig as nooduitgang, praatverse.

Die liefde vir honde en Maria Callas word uitgewys. Daar was polemieke oor gedigte wat as “godslasterlik” ervaar is en 'n skermutseling met die hof omdat sy gevoel het 'n vrou word geviktimiseer. Goddank het Christina Landman alles in perspekief geplaas oor dominees se onkunde.

Goosen het gevra dat die woord skaamlippe uit die WAT verwyder moet word. Min digters skryf so insigryk oor die dood en taal as sý. Haar kennis van ewolusie is eweneens uitsonderlik.

“Ons is gebore vir dood se omhelsing”, skryf sy.

Dis 'n hoogs leesbare biografie. Edmund White se 1993 monumentale biografie van meer as 703 bladsye oor die Franse skrywer Jean Genet bly dié baken in hierdie sub-genre. Daar is eweneens ooreenkomste tussen hierdie twee uitsonderlike skrywers wat telkens die grense van die gemeenskap uitdaag in hul werk en lewens.

Jean en Jeanne: beide buite die grense van aanvaarbaarheid. Hy in die tronk vir diefstal; sy opgeneem vir depressie. Beide ongelooflike skrywers en grensdeurbrekend. Beide platjies en skepties oor die gemaksug van die bourgeoisie.

Beide onvaspenbaar en geniaal.

Klein foutjies het deurgeglip, maar kan reggestel word met 'n herdruk:

'n Foto vroeg in die boek word as 1997 aangegee (46); hierdie foto is kennelik uit die tagtigerjare. Daar word geskryf dat Doris Lessing genomineer is vir die Nobelprys; sy het dit ontvang in 2007. Grütter nie Grüter nie (261); die Podlashuks moet wees die Podlashucs (261). Immers Alexander Podlashuc.

Bibberende Piet

Here
U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet – omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir 'n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir U poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra 'n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou
Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog 'n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan; Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dáár toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie 'n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?

Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid

Uit: Elders aan diens, 2007.

© Joan Hambidge