Thursday, October 17, 2019

Resensie | Gerard Scholtz – Hier gaat ons! Reise en rampe (2019)

Gerard Scholtz – Hier gaat ons! Reise en rampe. Hemel & See Boeke, 2019. ISBN 9781 928 283 249

Resensent: Joan Hambidge

Gerard Scholtz se reisboek is genoeglik en met pragtige foto's en kaarte. Dit is geskryf in die oomblik met outentieke beskrywings van fiets- en motorry deur Europa. Hy hou dagboek en vermaak die leser met presies dít wat reis aan jou doen. Jy verwag iets waarna jy verbete soek soos in die ontglippende Ierland waar die kos onaangenaam is en die kerries tuis lekkerder smaak. Die kaarte (met die hand geteken) vertel vir die leser presies vertel waar hy en sy vrou hulle bevind.

Dit is ‘n reisbeskrywing wat slaap in tente en beskeie herberge goed karteer. Roughing it, dus.

Reis is letterlik ‘n verregaande proses, van ver wees van jou bakens (en na aan jou skade). Scholtz beskryf rampe uitstekend: en die vreugdes van reis wat 'n mens dikwels eers by nabaat kan insien. Anuta se siekte (vergiftigde waatlemoen wat met riool bemes is) kon erger afgeloop het. Ons lees ook hoe hulle mekaar verloor het in Basel. Anuta gee haar weergawe. En Gerard syne. (Wat bewys hoe subjektief mense onthou en vertel).

Siekte, beursies wat verloor word, klein rampe (soos 'n wind wat 'n tent wegblaas), misverstande rondom taal, luide kampeerders, fietse wat breek, 'n battery van 'n motorfiets wat die gees gee, is van die ellendes wat die reisigers moet trotseer.

Daar is ‘n pynlike moment wanneer hulle twee oumense in 2016 (presies twintig jaar later na die ontmoeting) in Bajna gaan opsoek om hulle te bedank vir hulle hulp met Anuta se siekte. Ontnugtering. Die ou mense herken hulle helaas glad nie.

Die reisboek verwys dikwels na engele wat die reisigers bystaan ('n kavalkade van engele) en die geskiedenis word dikwels met 'n tersluikse verwysing bygehaal soos in 'n reis deur Praag (169).
Rusland moet eerder van ver bekyk word. Van naby is daar te veel ellende.

In die Oos-Bloklande is daar dikwels ernstige kwessies wat die reisigers in die gesig staar. Hier kan 'n mens nie help om te dink aan die films van Tarkofski en Béla Tarr (die Hongaarse fillmaker) nie. Of Ingmar Bergman. Die skrywer verwys na films (veral in die Oos-Blok-lande) om ervarings weer te gee. Die stiltes, die donkerte, die wag ...

Daar is 'n verwysing na Schindler's List en die plek waar dit geskiet is (188).

Die beskrywing van die Joodse ghetto in Krakow sal hierdie leser altyd bybly. Die impak van die oorlog wat mense nooit sal verlaat nie, is so. Die weergawes van Istanboel het my terug laat verlang na die ou gedeelte van die stad. Begraafplase verklap eweneens iets van 'n stad se binnespraak. Nes kerke en katedrale.

Humor is daar ook. Vodka wat soos mampoer proe. Of die kaal Fransman met ‘n baguette onder sy arm op ‘n fiets.

In meeste van hierdie streke het ek beweeg - maar per trein, bus of vliegtuig en nie soos Scholtz en sy reisgenoot 'n outentieke ervaring gehad nie. Die stamina moet beslis bewonder word. 

Elke mens reis op sy eie manier. Hierdie reisigers reis ín die land in. Hierom is daar opdraandes. Letterlik en figuurlik. Soms wonder die leser: waarom dit tog aandurf as jy weet die toilette gaan vuil wees en die kampe onherbergsaam? Waarskynlik omdat die begeerte om 'n vreemde plek te ervaar allesoorheersend is en dalk is hierdie ellendes wat oorwin word uiteindelik die lekkerste verhale om agterna te vertel. (Soos die uwe wat altyd die jong man sal onthou op ‘n trein langs die fjords in Noorweë wat ‘n kombers vir my geleen het of ‘n jongeling op ‘n stasie in Rome wat ‘n bier gegee het vir die dorstige reisiger.)

Dit is 'n boek oor onvoltooide reise en hiermee word daar kommentaar gelewer op die lewe as 'n reis. In die afdeling “Moet nooit omkyk nie” word besoek afgelê by Alma in die Waterberg. Die nostalgiese verlange word egter ‘n ontnugtering. 'n Mens moet helaas nooit terugkyk nie (soos Lot se vrou) want die idille word beter bewaar in die gemoed.

Turkye, die Oosblok, Egipte, Frankryk, Ierland, Rusland, Wallis is van die plekke wat besoek is. Elkeen se aard word kort en bondig opgesom met historiese en geografiese verwysings.

Hierdie leser verkies 'n luukser reis met hotelle (nie herberge nie) en georganiseerde bustoere eerder as 'n sulke pelgrimstogte. Roughing it, is vir my kamerdiens. Die wins is egter die mooie boek wat sy plek inneem langs gesoute reisskrywers in Afrikaans soos Uys Krige, André P. Brink, Hennie Aucamp, Marié Heese, André Pretorius, Erns Grundling ...

Dit is 'n boek vol serpentinas.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)