Sunday, October 20, 2019

Resensie | Christo van der Westhuizen – Chrisalis (2019)

Christo van der Westhuizen – Chrisalis. Naledi, 2019. ISBN 9781928426950

Resensent: Joan Hambidge

I
Op die voorblad van hierdie debuut is daar ‘n vlinder met ‘n man wat die twee vlerke vashou. Dit aktiveer sowel transformasie as ‘n sweeftog. Die naam Chrisalis verwys ook na die digter se naam Christo van der Westhuizen en ons hoor kristalliseer.

Volgens die woordeboek beteken die naam ook pupa of die bekermlagie rondom die insek (Chrysalis | Definition of Chrysalis by Merriam-Webster. Besoek 18 Oktober 2019).
                         
By Opperman word die beeld van die engel wat uit die klip verlos moet word die simbool van die digproses. Hier is dit dan die verskillende stadia van ontwikkeling of groei wat die digproses karteer.

Die verskillende afdelings Déjà vu, Uit die oog, in die hart, Die kuns afvra, Redux, Papie-blues, Geleende gebeente, Môre is nog ‘n dag dui op ‘n sterk bemoeienis met taal. Spreekwoorde en die gevoel van taal wat die digter (en dus die leser) in die steek laat, is ‘n belangrike sleutel vir die oopmaak van hierdie bundel.

Alle digters word gekonfronteer met die magtelose gevoel van dat alles reeds geskryf is. Nou met die afsterwe van Harold Bloom word ons weer onder die indruk gebring van The anxiety of influence (1973). Elke digter soek trope om sy voorgangers te troef of uit te oorlê. Is dit apophrades of kenosis hier? Hier is dit eerder die tessera of anti-tese. Die digter skryf ‘n gedig waar hy anti-teties stelling inneem en literatuurteorie gebruik om sy posisie te verduidelik.

In die derde afdeling Die kuns afvra – wat inspeel op die idioom moenie die boer die kuns afvra nie – betrek hy die werk van die Russiese Formalis Victor Slovskij en die idee van ostranenie. Om die klip klipperiger te maak en die literariteit van die teks voorop te stel, was een van die belangrikste doktrines van die Russiese Formaliste wat teen die politieke voorskrifte van die tyd gewerk het.

Sklovskij se onderskeid tussen die syuzhet/fabula beklemtoon dat die volgorde in die teks verskil van die orde (volgorde) in die werklikheid. Hierdie teoretikus het eweneens belangrike analises van films geskryf en was ‘n vriend van Sergei Eisenstein wat reeds iets verklap van vervreemding. In Kuns as tegniek (1917) verduidelik hy dit. Obshchestvo izuchenie POeticheskogo YAZyka was sy breinkind wat die funksie en betekenis van taal in die digkuns ondersoek en die grondwerk vir alle vorme van strukturalisme was. Sy opstand teen die Bolsheviste en die politiek van die dag het ‘n enorme impak op sy lewe gehad. Hy moes op vlug slaan en het ‘n memoir in Berlyn geskryf. Hy sterf in 1984 en die impak van sy teorieë, veral die begrip literaturnost, is enorm.

Al hierdie beginsels is opgeteken in Victor Erlich se bakenteks: Russian Formalism - A Doctrine (1955). Terence Hawkes se Structuralism and Semiotics (1977) gee eweneens 'n belangrike opsomming van al die beginsels soos dat die vlag wat bo die stad wapper, is nie dieselfde as die vlag in die gedig nie ...


Russiese Formaliste word die grondwerk vir Strukturalisme in al sy avatare. New Criticism in die VSA, Practical Criticism in Engeland, Franse Strukturalisme met Todorov wat Sklovskij huldig as 'n groot denker.

II

Met hierdie debuut sluit die digter aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê van 1975;  Leon Strydom se L.S. (lector salutem) van 1988 en die werk van Johann Johl: Gewalste woord (1990) en Roulet (1994).  Steyn is 'n gesiene taalkundige en biograaf; Strydom was 'n literatuurwetenskaplike en wyle Johann Johl het uitstekende studies oor satire, ironie en Etienne Leroux geskryf.

Verder dink ons ook aan die digkuns van T.T. Cloete en die spel met intellektuele verwysings vanaf Angelliera (1980).

Van der Westhuizen het volgens die biografiese besonderhede eweneens literatuurwetenskaplik bestudeer by Unisa onder o.a. by voorste teoretici soos Ina Gräbe en Marianne de Jong.

Die digtende akademikus is volop in ons letterkunde. Die vraag is egter hoe die digter met die geleerde konsepte omgaan.

Dit word soos by bogenoemde bundels met oortuiging gedoen, maar die modelleser - in Umberto Eco se terme - word dan hier 'n literêre kenner.

Die huis-van-die-digkuns akkommodeer verskillende stemme en style. 

In die volgende gedig word daar op die Bybel ingespeel:

Literariteit, ’n psalm van Sklovskij

al dig ek ook in die skadu van skyndood 
ek sal geen beeldspraak vrees nie 
sinekdogee en metonimia verkwik my 
en die metafoor vertroos my 
my pyn het ek vir kunsgrepe verruil 
nou blink my wonde in die rym 
in die raaisel van die poësie 
sal ek met behae 
tot in lengte van dae 
tussen die lyne skryf   (44)

Dit gaan dus in hierdie bundel om die raaisel van die poësie.

In die gedig "Oop plek" is daar weer 'n verwysing na Wolfgang Iser se idee dat die leser die "oop plek" moet invul. Die alomteenwoordige nie-leser wag dus in die kodes van die teks totdat die werklike leser hom aktiveer.

Oop plek

poësie is ver van kuns 
ophang kan jy dit nie 
en verkoop nog minder 
dit het weinig waarde 
vir die belegger 
en filmmaker 
dit ontstig die uitgewer 
boekhouer en rugbyspeler 
selfs digters het van mekaar 
min goed te sê soos tennisspelers sou: 
goeie afslaan of mooi hou 
diep distigon! slim sestet! 
al wat die poësie regtig het 
al wat die poësie regtig het 
al wat die poësie regtig het 
is die alomteenwoordige nie-leser  (41)

Vir my is die sterkste gedigte veral hierdie meta-poëtiese besinnings.

III

Daar is gedigte oor metamorfose: ouer teenoor kind en die familieskap tussen mense. Daar is ook die familieskap van digters: Wessel Pretorius, opdraggedigte vir mede-digters en 'n gesprek met ouer digters. 'n Gedig word aan die HAT opgedra.

Die sirkelgang van lewe en dood, dood en lewe word karteer in hierdie debuut. Die chronologie word opsetlik opgehef; die sleutel is immers Sklovskij se syuzhet/fabula.

Geleende gebeente speel in Opperman en in hierdie afdeling word die skrikwekkende idee van selfdood en die implikasies daarvan ondersoek. Selfdood is 'n soort toutologie want die mens is in wese van geboorte af sterwend.

In Redux is daar sprake van Ekstrospeksie en vele ironieë waarmee die digter in sy bedryf worstel. 

"Laatnagvrese en ander verse" vir Wessel Pretorius praat met Johann de Lange se lieflike gedig oor hierdie onderskatte digter. [1]

Die digter word op die agterblad beskryf deur twee digters wat sy styl perfek opsom. Daniel Hugo verwys na die taal- en versvernuf en dat die tekste die grense tussen teks en werklikheid ontgin.

Johann de Lange wys ook op die taalontginning: woordspel, kontaminasie, nuutskeppings, dubbelsinnighede, ars poeticas, die omdop van spreekwoorde, en herdigting van die volkse, en die herlewing van geykte frases.

Die realiteit word op sy kop gekeer, soos De Lange verder aantoon, en hier is 'n aweregse blik aanwesig.

Die beste verse in hierdie bundel is die kortes. Die langer gedigte neig soms om te prosaïes en uitgesponne te wees. Maar in die geheel is dit 'n genoeglike bundel vol momente van vevreemding en betreding.

Harold Bloom se anti-tese dus.

[1]
Laatnagvrese 
Wessel Pretorius (1949 - 2012)

Wessel, dis nou drie dae ná jou dood
& die koerante swyg in al hul kolomme
oor die dertiende van die derde
toe jy die onderspit gedelf het.
Die media voel fokkol vir digters.
Nou sit ek teen dagbreek heeltemal nugter
& half verleë, & ek skaam my vir my kollegas.
Al was ons twee haaks al om die hawerklap
(darem nooit slaags, behalwe in woorde)
verdien ’n digter darem ’n afskeidsgroet.
Laatnagvrese & ander verse bly
’n befokte boek, ons sal ver
na nóg een soos jy moet soek,
jy’s die ware Jakob, met jou ingat, ougat taalspel,
met jou liefdes & jou (dronk)verdriet.
Alles is verniet, & níks is verniet.
Dis nes jý om die dertiende
vir jou flatline oor die Styx te kies.
Wás die lewe maar soos ’n LP
wat op ál die regte plekke vashaak,
daardie spesiale blikke & oomblikke
waaraan mens bly vasklou
as die naald gly oor die blinkswart strook
om in die voltrekte stilte te bly hakkel.

Met jou kroeg- & ploegpraatjies opgedroog,
& jou vrytyd verby, is dit saktyd
& jy is gans uit jou plek. (Boer jy
nou saam met Carl Ziervogel 
& voer daai groen gesprek
wat net in begraafplase gedy?)
Of is jy sprakeloos gedryf
om druk ondergronds te skryf
met ’n lyf wat lykant toe leun?
Ek hoop jy het op jou nul-uur
weer daardie voël soos ’n telefoon hoor sing.
Tussen die eerste & die laaste reëls van ’n gedig,
tussen verloor & vind – dáár lê die ding.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)