Wednesday, March 20, 2019

Briewe | Koeterwaals

'n Mens wil nie soos 'n taalpuris klink nie, maar kan iemand, asseblief die woord huidiglik (in plaas van tans, huidig, vandag, of aan die einde van die dag) op RSG verbied? Daardie aaklige Naas Botha-ismes.

"Vat die koek" beteken nie iemand wen iets nie; dit beteken presies die teenoorgestelde. Of: dis 'n harde granaat om te kraak, was die mening van 'n sportaanbieder op RSG.

Op die rooi tapyt word eweneens verkeerd gebruik wanneer 'n skrywer beweer iemand is voor stok gekry.

Ek het uitgemis, kom voortdurend op die radio voor.

Ons bewaar maar eerder die swye oor uitsprake, want dit is waarskynlik alreeds 'n ideolek (persoonsgebonde variasie) fluks op pad om 'n chronolek (tydsgebonde variasie) te word.

Hierdie koeterwaals kan 'n mens net-net vergewe, omdat aanbieders op hul voete moet dink. Maar werklikwaar, wanneer 'n onderhoudvoerder skryf iemand is oorkom deur emosie, in plaas van oorspoel of oorval, raak 'n mens moedeloos. Of het die Engelse "overcome" hier ingeglip?

Ek ruik 'n rot, is eweneens 'n klip in my skoen. Vermoed eerder onraad.

Op Media24 staan daar onlangs sterwingsbegeleiding in plaas van sterwensbegeleiding.

Of is ons terug by "ons skryf soos ons praat" in navolging van Oom Lokomotief?

Hierom is 'n mens dankbaar vir die uitstekende taalrubrieke van Herman Lategan (Rapport) en Gerhard van Huyssteen (Beeld). En Sondagoggende op RSG wanneer kenners soos Ernst Kotzé aan die woord is. Miskien sal Van Huyssteen van my verskil en meen dat taal voortdurend transformeer.

Wyle Johan Combrink het per geleentheid geskryf 'n mens kan net uitsprake maak oor Afrikaans indien jy die taal ken terug tot by die sewentiende eeu.

Absoluut so. Maar dit is my dooie einde wanneer (nie as nie) Engelse woorde as leë vullers gebruik word. Hierom skink ek dan helder wyn vandag.

Anton F. Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (Pharos, 2004) en Louis Eksteen se Afrikaanse sinoniem-woordeboek (Van Schaik, 1981) behoort verpligte leesstof vir joernaliste te wees. Nes die Woordelys en spelreëls.

Weg met knoeitaal. Of donstaal.

Joan Hambidge, Kaapstad