Wednesday, January 23, 2019

Resensie | Achmat Davids - Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (2018)

Achmat Davids - Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Verwerk deur Hein Willemse. Vertaal deur Danie C. Botha. SBA, 2018.

Resensent: Joan Hambidge


Daar het die afgelope tyd geweldig baie studies oor die geskiedenis van Afrikaans verskyn: van Wannie Carstens en Edith Raidt tot wyle Christo van Rensburg se boeke oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans in So kry ons Afrikaans. Terselfdertyd word bloemlesings gepubliseer met die vertaling van Afrikaanse gedigte in Engels.

Die posisie van Afrikaans word deur verskillende taalgroepe onder die loep geneem soos in Carstens en Michael le Cordeur (samestellers) se werk Ons kom van vêr. Dit is gesprekke oor bruinwees en Afrikaans. Daar is eweneens die insigryke Afrikaans ná Apartheid (red. VN Webb) wat in 1992 verskyn het. Die baanbrekerswerk van wyle Fritz Ponelis en al die woordeboekmakers is bekend.

Afrikaans, 'n taal gesalpeter in hierdie land (soos Breytenbach dit noem) en behorend aan vele sprekers, word op 'n opwindende wyse ook beskou in Achmat Davids se studie Die Afrikaans van Kaapse Moslems wat verwerk is deur Hein Willemse en Suleman Dangor. Arabies lok studente aan die Universiteit van Kaapstad.

Toenemend word die Afrika-invloed op Afrikaans ondersoek. Dit word uitgewys dat Asiatiese uitgewekenes en selfs die slawe in die Kaap hul eie tale kon praat en nie net die taal van die kolonis nie.

Die baanbrekerswerk van Adrianus van Selms wat in 1951 ontdek het Afrikaans is oorspronklik in Arabiese skrif geskryf (sogenaamde "Arabies-Afrikaans"). Hierdie stelling behoef egter verdere navorsing, soos Willemse aantoon (9). 

Hierdie boek kyk egter na die bydrae van Moslem-Afrikaans. Humor in die idiome is opvallend ("'n Boer maak 'n plan, maar 'n Slams hét 'n plan").  Aspris, brêggat, kastai (terg), kwai-lappie (mooi so), ougat, poenang-kies (oulik), laa-die-daa (vernaam). "Iemand is 'n poep op 'n lappie" en "Jy kan nie sy slamblie eet nie" (Jy kan hom nie vertrou nie) is enkele juwele! …0(40).

 Een van die belangrike kwessies wat aangespreek word, is of die Moslemsprekers aan die einde van die 19e en begin 20e eeu geskryf soos hulle gepraat het? Ook die kwessie van taalgeleerdes en skrywers om dit te transkribeer in die Romeinse geskrif wat ons gebruik. Achmat Davids se bevinding is dat mense geskryf het soos hulle gepraat het. Met wanopvattings helaas omdat die Arabiese skrif verkeerd gelees is (41).

Die invloed van skole waar die idees van Islam oorgedra is, kom aan bod, soos die gebruik van Mengelhollands.

Oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans is daar vele debatte en dispute. Die gesprek was nog nooit so lewendig as nou nie. Aan die een kant sprekers wat voel die taal se hoër funksies word bedreig aan universiteite wat verengels; ander sprekers wat voel Afrikaans word juis vryer buite die magsbasis van beskutting en bevoorregting.

Hierdie uiters toeganklike én leersame boek is 'n moet vir elke liefhebber van Afrikaans. 'n Mens leer van tajwḯd (die klankwetenskap van die Arabiese alfabet), die skep van nuwe simbole om die gesproke Afrikaans via die Arabiese alfabet weer te gee. Die publikasie van die eerste Arabies-Afrikaanse boek: Hidayutool Islaam, oftewel Die Heilige Begeleiding deur Islaam.

Dis 'n leesplesier wat hierdie leser terugneem na I.D. du Plessis en Gabeba Baderoon se gedigte.

Hopelik verkoep hierdie resensie ghasegh!