Wednesday, January 2, 2019

Filmrubriek | The Godfather 2

I

Een van die boeiendste aspekte van die Godfather-films is die wyse waarop kinders uitgebeeld word. By elke party of danstoneel is daar jong kinders wat saamdans. Of daar is ‘n jeugkoor wanneer ‘n skenking gemaak word.

Die begin van die tweede film speel in Sicilië af waar ‘n moeder haar stom kind probeer beskerm. Dit is 1901 en die negejaar oue Vito Andolini se familie word uitgewis in Corleone, omdat sy vader die mafia-baas Don Ciccio beledig het.

Alle pogings van sy moeder om die kind te red, help nie. Sy word ook doodgeskiet en die jonge Vito vlug na New York waar hy geregistreer word as Vito Corleone.

Oreste Baldini is die jong akteur wat nogal trek op Pacino.

Vito Andolini, Ellis Island 1901

Hy moet egter vir ses maande onder kwarantyn geplaas word, omdat hy waterpokkies onder lede het. Hy word met ‘n X op sy bors gemerk. Wanneer hy alleen in die kamertjie sit – met net sy tassie – sing hy vir homself. Die kyker besef dat die kind die rol van stommerd in selfbeskerming aangeneem het.

Robert de Niro gee ‘n kragtige vertolking in die rol van Vito Andolini. Later sien ons hom deernisvol kyk na sy babseun wat longonsteking opgedoen het en deur sy moeder en grootmoeder versorg word. Hy beveg die baas van die plaas, ene Swart Hand, en leer om te lieg en te bedrieg.

Tog bly hy ‘n trotse mens. Hy red ‘n vrou teen uitsetting, weier om ‘n geskenk te aanvaar, en wanneer hy sy werk verloor weens die nepotisme van Don Fanucci, neem hy die aand net ‘n peer huis toe.

Uiteindelik word hy deel van die onderwêreld en neem wraak teen die Swart Hand. Hy keer terug na Sisilië waar hy ook onreg hom aangedoen as kind, aanspreek.

II

Fredo (John Cazale), die broer van Michael Corleone (Al Pacino), spot dat sy moeder hom by geleentheid ‘n gypsie-kind genoem het wat iemand sommer voor die deur gelaat het. Maar in hierdie grappige opmerking skuil baie woede en wrewel. Veral omdat hy voel dat hy die ouer broer is en moet trustaan vir Michael wat al die besluite neem.

Wanneer alles versuur tussen die twee broers, gee Michael bevele dat hy nooit die moeder mag besoek sonder sy medewete nie. Hy wil vooraf ingelig word. En watter rol speel die ou matriarg, Carmela Corleone, nie in hierdie films nie. Na haar dood, is al haar kinders by haar oop kis vergader.

Morgana King is die ou matriarg. Sy sit Connie, haar dogter, op haar plek wanneer sy voel sy maak ‘n verkeerde keuse met ‘n nuwe lewensmaat. In haar irritasie is daar ’n ongelooflike sub-teks opgesluit. En hierdie ou moeder is uiteraard die jazz sangeres, Morgana King. Hier nie langer seksie nie, maar oud, knorrig oor al die probleme wat die familie skep. In die film sing sy Luna mezzo mare (Morgana King – Wikipedia. Besoek 2 Januarie 2018).

Michael, op sy beurt, onthou alles wat sy vader hom as kind geleer het: onder meer hoe jy vriende na aan jou moet hou, maar jou vyande nóg nader.

En Connie, die suster van Michael, probeer versoening tussen die twee broers bewerk, wat helaas uitloop op Michael se koelbloedige uitwissing van Fredo wat hom uiteindelik enorme psigiese pyn besorg het. Iets waarvan hy nooit herstel nie.

III

Michael se verhouding met sy kinders is besonder sterk. Wanneer hy en Kay (Diane Keaton) rusie maak en sy hom verlaat, behou hy die kinders.

Kay bely dat sy nie ‘n miskraam gehad het nie, maar die kind op drie maande laat aborteer het, omdat sy nie nóg ‘n kind aan hierdie dinastie wou blootstel nie.

Vir Michael is hierdie onthulling ‘n skok, omdat hy onder die indruk was dat dit ‘n miskraam was. Hy wil ook by haar weet of dit ‘n seun was.

En sy seun Anthony gee vir hom ‘n skets van die vader wat in sy motor sit. Hierdie skets gee hy terug aan sy seun as ‘n gelukbringer wanneer hy in die opera die hoofrol vertolk in Palermo.

‘n Aand wat helaas tragies eindig. Wanneer sy dogter sterf ten spyte van sy betrokkenheid by sy familie.

Sofia Coppola as baba in die rol van baba Michael Francis Rizzi.

©Joan Hambidge