Tuesday, January 1, 2019

Gedig | Joan Hambidge - David Hockney: Portret van 'n kunstenaar (Swembad met twee figure) (2019)


Vir Coenie de Villiers

'n Skildery waar 'n man toekyk
hoe 'n ander swem (borsslag meen ek)
glo gebaseer op vele foto's en poserings.

'n Dubbelportret van 'n liefdesversaking 
abrup en vanuit 'n agterna-perspektief beskou
iets wat hierdie kyker steeds mesmeraais.

In St Tropez speel 'n vriend en kameraman
asof hy Peter Schlesinger, die voormalige
lover is, en later in Londen - in jukstaposisie -

met Los Angeles word die kabbelinge
van die water 'n motief wat die skilder natrek;
selfs in die swembad van die Roosevelt hotel

in Hollywood kan al die denizens glo pronk
asof in 'n skildery idillies en absoluut perfek.
Op 'n somersdag op 'n ander kontinent

weet hierdie naprater dat elk van die figurante
min of meer 'n ander verhaal sal vertel
van wat agter dié mosaïek skuilhou.

© Joan Hambidge