Monday, February 27, 2017

Johann de Lange – Gulp (2017)


Johann de Lange – Gulp. Xlibris, 2017. ISBN: 978-0-9947013-2-9

Resensent: Joan Hambidge

Die luime van die lus

Die digter, kortverhaalskrywer, bloemleser, vertaler, Johann de Lange se dagboeke heet Gulp. Met 'n eerste lees, word die leser gekonfronteer met die seksuele ervarings en met cruising. Die manlike roede word op verskillende maniere beskou. Maar ágter die gedurfde beskrywings is daar veel meer wat gebeur. Dit is 'n boek van eensaamheid, ellende: die verwerking van 'n pynlike liefdesverhouding (en verraad) en die gay-mens wat moet vrede maak met sy posisie as uitgewekene. En dit is 'n soort kladboek vir die digter. Lesers wat bekend is met De Lange se digkuns, sal die impulse sien vir 'n gedig of kortverhaal.

Die geweldige eerlikheid is wat hierdie boek so aantreklik maak. Ons sien byvoorbeeld hoe die jong Johann (toe Daniël) deur sy oom die verwyt gemaak word dat hy die rede is vir sy neef se seksuele voorkeur. Daar is ook die verwysings na die sibbe en die understated beskrywing van hoe 'n suster deur die weerlig doodgeslaan word, tref diep. Die ellende van dood - o.a. ook die dood van die minnaar se moeder - word ingehoue beskryf.

Hy word Johann, want sy neef is Daniël. En hierdie neef speel 'n bealngrike rol in die jong digter se lewe.

'n Sentrale passasie in hierdie boek klink so:
Ek snoei die wilde malva effens terug wat ek van ’n takkie gekweek het, gepluk by Sandy Bay in die tyd toe ons probleme reeds ernstig begin word het, toe ons mekaar reeds begin verlaat het. Lente is in die lug. Verder weg bokant Bloubergstrand & Robbeneiland is die lug turkoois & pienk ... (125).
Ons vind dan in hierdie dagboeke presies dit wat nie gesnoei is nie. Ook word daar verwys na letterkundige kwessies soos Ingrid Jonker se suster Anna wat die digter verwyt vir sy interpretasie van haar dood. Die onplesierige geskiedenis rondom die samestelling van die bloemlesing met Antjie Krog, Die dye trek die dye (1998) word openbaar; ofskoon die volledige verhaal nog lank nie vertel is nie, aldus 'n voetnoot op bladsy 48.

Auden se siening van die liefde word 'n rigtingwyser: daar is altyd een persoon wat meer voel of omgee (102). Dit blyk 'n belangrike interteks te wees.

Aucamp, Nic de Jager, Lucas Malan, Koos Prinsloo, Stephan Bouwer, Danie Botha, o.a. se name duik op. Daar is 'n verwysing na John Rechy:
Was vanmiddag in my etensuur by toilet oorkant Bertie’s Landing & iemand het alreeds weer die gloriegate oopforseer. Om die waarheid te sê, die grootste van die gate was nog toe, maar ek het iets daaromtrent gedoen! Vir die eerste keer in my lewe. Ek het soos ’n outlaw gevoel! John Rechy sal trots wees op my.  (21)  
Die ontwikkeling van die gay-identiteit is belangrik. Ook hierdie skrywer moes aanvanklik vrede maak met sy andersheid. Hy is verleë wanneer hy by 'n gay-klub die eerste keer as gay beskryf word as 'n jong plaasseun.

Vir baie jong lesers sal hierdie aspek fassinerend wees; dit was 'n moeilike en opdraande pad vir die jong gay-mens en -skrywer.

Van uitbundige cruising tot die ervaring van die harde werklikheid van die virus word oopgeskryf.

Tussen al die eerlike gay-seks, is daar subtiele simbole opgesluit: vensters wat vervang word in Seepunt. Sleutels wat verander word sodat die lover nie meer toegang kan kry tot die woonplek nie.
Sodra hy uitgetrek het, gaan ek my foonnommer laat verander, & ook die voordeurslot sowel as die slot van die motorhuis. Hy het kopieë van my sleutels laat maak & sal dit nie vir my teruggee nie. (76)
Sleutels is ook slotte, en andersom hier. Die verwying na die sleutel wat moet oopsluit of die onmoontlikheid van die proses, is 'n tema.

En die digter se natuurgevoeligheid is opvallend. Hy beskryf die reuke van sy stad.

Die blog Kaapse paragrawe - waar daar o.a. baie gay-tekste opgeneem en vertaal word - is 'n super-teks.

Die dagboeke word in die volgende afdelings opgedeel: I. 1993 Sandy Bay: Abandon all clothes…; II. 1994 Stigmata 35; III. 1995 Die Wilde Fees 183 en IV. 1997–1999 Gekaap 225.

Dit word aan die volgende persone opgedra:

vir al die naamlose maar nooit gesiglose genote & genieters
wat oor my & my pad gekom het; om op te som:
vir alle sodomieters & ander vér-skieters
gegom deur die taai stamper van die vleisblom

Die boek dwing bewondering af vir die ongebreidelde beskrywing van seks en die eerlike aanbod van alles.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)