Sunday, February 12, 2017

Cas Vos – In ’n oomblik (2017)



Cas Vos – In ’n oomblik. Naledi, 2017. ISBN 9780928316445

Resensent: Joan Hambidge

Die belangrikste bydrae van hierdie bundel van Cas Vos wat heet In ’n oomblik is die herdigtings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se gedigte.

Verskeie Afrikaanse digters het al hierdie digters na Afrikaans getransporteer. Eersgenoemde deur Uys Krige, ekself, Johann de Lange; laasgenoemde deur Dian Joubert.

Vos het die voorsprong dat hy met die oorspronklike Grieks kan werk. Ons dink hier aan onder meer Fragmente uit die Ilias.

Steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in “Die siele van ou mans”.

Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant.

Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur M.M. Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings. (Uys Krige se Spaanse dans bly die beste.)

Wanneer Vos egter uit die Engels vertaal, is dit minder imposant: onder meer Gregory Orr se “Na ’n dood”. ’n Mens wonder ook waarom Afrikaanse digters probeer om klassieke Engelse verse te vertaal. Ons verstaan almal tog Engels.

Dit is egter wanneer ’n mens oor Cas Vos se eie belewenisse nadink, dat die ou hebbelikhede weer hier aandoen: sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer.
Siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie.

Daar word onder andere oor siekte (diabetes) geskryf: Nou het ons in Afrikaans E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet; ons het Ernst van Heerden se operasie-verse; ons het Opperman se inbeweeg in die onbewuste in die onoortroffe Komas uit ’n bamboesstok. Onlangs was daar Marlise Joubert se Splintervlerk.

Daar is T.T. Cloete en Sheila Cussons wat uit verwonding en pyn magistraal bly dig het.

Maar siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie. Opperman was onder meer gaande oor Hammond se spaarse, woordsuinige verse.

Die siekteverse hier by Vos lewer die volgende op:

Diabeet

Al is ek deurtrek van suiker,
bly ek die Here se stroopsoet seun. (38)

of

Gebed vir ’n ortopeed
Trap jy net versigtig op jou voet,
drink jou antibiotika en wees soet. (52)

Die lykdig vir Bertie du Plessis, “Aan Helderberg se voet”, is gewoon potsierlik. Is die digter ernstig wanneer hy skryf:

Ons het Sondagaande
by die Doll’s House
aan hamburgers gesmul.
Die lewe het ons op die hande gedra
en ons woorde land en sand gestrooi.
oor ons nagvrese en trillende verwagtings (17).

Daar is verse oor die liefde. Picasso en Muhammad Ali. Goethe en Vincent van Gogh. Lykdigte en beeldgedigte dus.

Diskoerse, dispute en dialoë. Paul Celan word helaas verminder (40). Daar is opdragte vir vriende, geliefdes en ’n ortopeed.

In die publisiteitsnota verneem ons: “Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.”

Die klassieke toespelings dalk; digterlik faal dit.

“Ek is, daarom taal ek,” heet ’n afdeling. Die toespeling op “cogito ergo sum” is fasiel.

En die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste, oortuig nie.

Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie.

Dit is net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie.

Die toespelings op groot digters soos Wislawa Szymborska, Anne Carson, Breytenbach en Mallarmé vra vir ’n sterker ars poëtiese aanslag.

Hierom in “Om ’n gedig te maak” (8) word “gereedslaap” wat inspeel op gereedskap ’n ironiese (en onbedoelde) ondermyning van die vers.

Motto’s is nie net aanhangsels of oorbelle nie. Dit moet ’n gedig voortstu.

Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste weergawe kom nie.

Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)