"We live for books."
― Umberto Eco, The Name of the Rose
Jare gelede het HP van Coller voorgestel dat daar 'n kursus "resensiekunde" ingestel moet word. Hoe het daar nie stemme van verontwaardiging opgegaan oor hierdie voorstel nie. Punt is wanneer 'n mens tans resensies lees, wonder 'n mens of so 'n kursus tog nie iewers 'n impak sal hê nie.
Jare gelede het HP van Coller voorgestel dat daar 'n kursus "resensiekunde" ingestel moet word. Hoe het daar nie stemme van verontwaardiging opgegaan oor hierdie voorstel nie. Punt is wanneer 'n mens tans resensies lees, wonder 'n mens of so 'n kursus tog nie iewers 'n impak sal hê nie.
Die belangrikste aspek van 'n
resensie is dat jy 'n buikspreker moet wees vir die boek. Dit spreek vanself
dat jou persoonlike byltjies en rusies nie hier uitgestal moet word nie. Of
dwarsklappies soos "sogenaamde" intellektueles hoort ook nie tuis in
'n bespreking nie. Dis onnodig soos 'n uitspraak: "Intussen gaan ’n klomp
mummies in die hall of fame
regop sit." Goed, die resensent wil sy ekstase oor die bundel verwoord,
maar maak dan 'n geniepsige opmerking. Wat die belangrike stellings wat hy oor
'n Bibi Slippers se debuut Fotostaatmasjien
maak, ondermyn (Digterlike afdruk van 'n lewe
verbeeld deur 05 Desember 2016. Besoek 8 Desember 2016
In sy bespreking van Marié Heese
se Maestro is Reinhardt Fourie minder
gunstig as wat ek was in Beeld toe ek
dit as 'n Bildungsroman tipeer het. Hy wys tereg hoe dit aansluit by 'n bepaalde
tradisie:" In sommige opsigte sluit Heese se roman aan by Karel Schoeman
se Titaan: ’n Roman oor die lewe van
Michelangelo Buonarroti (2009) deurdat dit die gegewens oor die lewe
van ’n bekende figuur neem en dit gebruik as ankerpunte vir historiese fiksie
waarin die biografiese blinde kolle kreatief ingekleur word. Haar werk sluit
ook aan by ’n baie groter literêre tradisie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die
uitstekende Cicero-trilogie deur die Britse skrywer Robert Harris (Imperium, 2007; Lustrum, 2009; en Dictator, 2015) asook Hilary Mantel se
romans oor Thomas Cromwell (Wolf Hall,
2009 en Bring up the bodies,
2012). Maestro bewys weer, soos
Heese se ander onlangse romans, dat sy grondige navorsing doen wanneer sy ’n
historiese roman aanpak."
Hy is kennelik geïrriteer met
die voorspellings oor Bernini se grootsheid en dat sy begripsvermoë onderskat
word. Dit is egter die funksie van die Bildungsroman,
die sogenaamde suspension of disbelief, dat jy moet saambeweeg met die
ontwikkeling van die karakter in die roman wat voor jou lê.
Hy het voorts ook nie vrede met
die uitbeelding van die homoseksuele priesters nie:"Aanvanklik het ek
hierdie toneel nog gelees as ’n samevloeiing van enersyds die poging tot
historiese akkuraatheid betreffende destydse houdings jeens seksualiteit, en
andersyds die endemiese kindermolestering deur Katolieke gesagsfigure, maar die
stereotiepe beeld van die vuil en perverse homoseksuele man wat ook in hierdie
toneel ontplooi word – deurdat die ander priester se ontbloting van sy
geslagsdele met die uitwalm van ’n “suur liggaamsreuk” gepaardgaan (97) – maak
dit moeilik om so ’n lesing vol te hou."
Is dit 'n tema wat hom net as
leser pla, of ignoreer hy die historiese feite? Op my beurt het ek dit nie as
'n stereotiepe beeld van die homoseksuele man gelees nie, net as 'n uitbeelding
van 'n bepáálde figuur in die roman ( Boekresensie/ Maestro deur Marié Heese | LitNet. Besoek 8 Desember 2016).
So die resensent as buikspreker,
as iemand wat die reëls van die spel neergelê deur die teks aanvaar en die teks
vir die voornemende leser of koper "oopmaak". Natuurlik mag daar
kritiek wees; die kritikus behoort 'n onafhanklike posisie te beklee. Hierom behoort
vriende/vyande mekaar nie te resenseer nie en moet belange verklaar word.
Die uitgewershuis, die skrywer,
die voorskryfmark, die boekwinkel is almal rolspelers in hierdie komplekse
proses. Die bemarking van die boek is iets waaraan die resensent nie
blindelings moet deelneem nie, ofskoon 'n goeie resensie wel verkope kan
beïnvloed. Ook 'n oordrewe, negatiewe en persoonlike aanval het dikwels die
teenoorgestelde impak was wat die resensent in gedagte gehad het: dit sal juis
leser laat nadink of dit geldig was om 'n skrywer eerder as 'n boek te
resenseer!
Een van die belangrikste
rolspelers is uiteraard die leser. L.I. Bertyn daardie skerpsinnige
rubriekskrywer het destyds verwys na vernaamdoenery in die resensiekunde. Hy
het ook 'n boek Lekkerkunde gepubliseer
en het ten minste boeke gelees, anders as Crito wat onbeskaamd bely hy/sy het
nie die boek gelees nie, maar dan lustig voortgaan om die resensie te
kritiseer!
In 'n resensie-artikel kan
geleerdheid via Lacan en Derrida uitgestal word. Die volgende stelling:
"Dit is egter kritiek vir Lacan dat die psigoanalis in gedagte hou dat die
geheelbeeld van haarself alleenlik in die vorm van ’n gestalt aan die subjek weergegee word,
dit wil sê in ’n uiterlikheid (die spieël waarin die beeld verskyn is onteenseglik
’n objek buite die
subjek)".
Dit is kritiek is 'n letterlike
vertaling van "critical". Dit moet lees: belangrik. Die verwysing na
die narsis word uiteraard deur Slippers se bundel verkeerd bewys: "En
almal wat al in ’n verhouding met so ’n subjek probeer staan het, kan bevestig
dat narsiste se verhoudings nóg gesond, nóg blywend is."
Narcisme is tans die modewoord
van die tyd, soos wat psigopatie en bipolêr dit 'n tyd gelede was. En op 'n
manier dryf Slippers die spot hiermee op Facebook.
Die volgende stelling met
betrekking tot hierdie bundel vra nadenke: "Die gedig maak ook ’n subtiele
argument daarvoor uit dat die afbeelding van die Ander in kuns ’n etiese daad
par excellence kan wees."
'n Etiese daad?
Jouissance - by Lacan - dui op
die onbewuste wat sowel aggressiewe, pynlike en plesierige ervarings as
dieselfde ervaar. In Fotostaatmasjien
is die aggressiewe liefdesverse en die belewenis van Small op dieselfde vlak
dus. Die voortdurende spel met die self in hierdie bundel is 'n bevestiging van
die Self; iets wat wegneem is deur die geliefde of die werklikheid. Die
bemiddeling by Slippers vind deur taal, foto's en inskrywings op Facebook plaas.
In sy slot bevind hy:"In
die geheel is Bibi Slippers se boodskap in Fotostaatmasjien
dat ons ons reeds in daardie wonderland bevind – as ons maar bereid
is om op te hou om ons blind te staar teen die beheptheid met die eie, die
self, die identiese, die Ek en dieselfde; as ons maar bereid is om te waardeer
dat ons in soveel opsigte fotostate van mekaar is – eenders, dog verskillend in
ons veelheid. As ons maar bereid is om die raaisels in die spieël te bewonder
en te vier ..."
As dit so was, sou daar geen
oorspronklikheid in die kuns gewees het nie.
Jaco Barnard-Naudé
'n Interessante lesing wat Lacan
oorkodeer op die bundel en wat net vir die ingeligte leser bedoel is. (LitNet Akademies-resensie-essay/ In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers. Besoek 8 Desember 2016).
Enige resensie wat tot nadenke
stem, is belangrik en nie vermorste papier nie.
Daar is te min polemiek in
Afrikaans, te min "oop gesprek" en te veel napratery oor resensies en
nie boeke nie.
So gesien word die bedryf 'n
fotostaatmasjien.
© Joan Hambidge